Versoening en als

  • 0

Op RSG nou die dag, miskien op ander stasies ook, was daar weer die ou storie, soos die afgelope N-1994 jaar (waar N = huidige jaartal), naamlik "wat doen JY om versoening te bewerkstellig."

Te midde van hierdie oproepe tot versoening is daar allerlei aan die gang wat mens laat wonder oor die haalbaarheid van versoening. Een voorbeeld is weer die ANC-jeugliga se uitsprake oor grondhervorming; hulle waarsku mense wat nie hulle grond vrywilliglik weggee nie (aan wie om wat mee te maak?) dat hulle, te wete meneer Van der Merwe en meneer Van Tonder, dus eksplisiet die Afrikaner, sware gevolge in die gesig sal staar. Een inbeller het gekla oor die Afrikaanse name van strate en dorpe wat so verdwyn; hoe tegemoetkomend is dit nou vir enige versoeningsaksie?

Die vraag wat die meeste dus vra is: Hoe kan daar versoening bewerkstellig word in so’n klimaat? Dit is ’n verkeerde vraag want hy spruit vanuit ’n valse veronderstelling. ’n Strewe na versoening veronderstel ’n heersende toestand van onmin tussen twee partye. As daar ’n oproep na versoening van die een kant af kom is dit vir die ander party net so goed as ’n skulderkenning dat einste hulself verantwoordelik voel vir die staat van vyandskap.

Die gedurige pogings tot versoening vanaf wit kant is dus vir swart kant aanduidend van wit skuld en dit wakker onmin aan. Om die waarheid te sê, dit stig hulle tot wraak. Hoe anders? Gegee die ongunstige toestande waarin die swart groep hulle teenswoordig bevind, armoede, gebrekkige verblyf en dies meer het uiterste frustrasie tot gevolg en hier kom, volgens hulle, die klomp hoogheiliges wat verantwoordelik vir hulle ellende is en steek die hand van vriendskap uit; implisiet ’n versoek om vergewe te word en die status quo te handhaaf – julle hou aan om in ellende te leef en ons gaan voort om nog ryker te word.

Hierdie aanhoudende oproepe tot versoening is dus die verkeerde ding. Dit skep die valse indruk dat daar onmin tussen wit en swart is en dat die wit groep verantwoordelik is vir die swartes se ellende (gebrek aan dienste, gebrek aan ordentlike polisiëring, gebrek aan behuising ens) wat gewoon nie waar is nie.

Om vredeliewende samesyn tussen die groepe te bewerkstellig moet daar dus opgehou word om wittes te vra om voorstelle te maak wat versoening aan die hand sal werk.

Jan Rap

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top