Verslag: “Afrikaans behoort aan niemand nie en dit behoort aan almal”

  • 0

Foto van Natasja Schellaars: https://voertaal.nu/over-voertaal/medewerkers/

“Afrikaans behoort aan niemand nie en dit behoort aan almal.”

 
Thoko Mkhwanazi-Xaluva, voorsitter van die Kommissie vir Kultuur, Godsdiens en Taalregte

Op Woensdag 25 Maart 2015 het ’n eerste gesprek plaasgevind tussen die Kommissie vir Kultuur, Godsdiens en Taalregte (CCRL) en Afrikaanse organisasies. Afgevaardigdes van verskeie organisasies wat hulle beywer vir die Afrikaanse taal en die daarmee verband houdende kultuur of kulture, en vir die behoud van godsdiensbeoefening in Afrikaans, het vir die kommissie hulle visie gegee op die uitdagings en geleenthede vir Afrikaans as derde grootste taal in Suid-Afrika. Dié gesprek is op uitdruklike versoek van die Minister georganiseer en is bedoel om die eerste in ’n reeks gesprekke te wees.

Die meeste gesprekke oor Afrikaans vind plaas binne die Afrikaanse taalgemeenskap en tussen Afrikaanssprekendes onderling. Omdat hierdie gesprek gevoer is met die kommissie wat die regte van al 11 Suid-Afrika se tale beskerm en bevorder, en waarvan buitendien nie alle lede deel is van die Afrikaanse taalgemeenskap nie, was die sprekers genoodsaak om Afrikaans binne die raamwerk van Suid-Afrika te posisioneer.

Om Afrikaans in perspektief te stel binne die meertalige konteks van Suid-Afrika, het Wannie Carstens ’n makroperspektief op Afrikaans gegee waarin hy benadruk het dat Afrikaans beskerm moet word as taal van werk, arbeid, die reg en onderrig. Hierdie belangrike hoë funksies van Afrikaans staan onder groot druk en Carstens het ’n beroep op die kommissie gedoen om te help soek vir ’n politieke oplossing.

Die verskillende afgevaardigdes van organisasies het verskillende hoeke gekies om die gesprek met die kommissie te voer. Van die sprekers het die gesprek as ’n eerste kennismaking beskou en die geleentheid gebruik om die kommissie in te lig oor hulle eie organisasie se doelwitte en missie. Ander het duidelik standpunt ingeneem oor Afrikaans. Die meeste sprekers het die kommissie versoek om hulle te help om Afrikaans te beskerm.

Hoewel daar binne die gesprek ruimte was vir representante van verskillende groepe binne die breë groep Afrikaanssprekendes om hulle perspektief te stel, het Danny Titus van die Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging (ATKV) die kommissie verwyt dat die verrigtinge nie korrek georganiseer is nie: “As ons kyk na die komposisie van Afrikaans is hier te veel wit mense.” Met die klein aantal Afrikaanssprekende organisasies wat aanwesig was, is dit twyfelagtig of al die sewe miljoen Afrikaanssprekendes gerepresenteer was: bruin, swart én wit. Kommissielid Renier Schoeman het egter benadruk dat die gesprek as die eerste van ’n reeks gesien word, wat gebruik word om ’n opname te maak van die uitdagings en geleenthede vir Afrikaans.

Elke organisasie het sy eie belange en representeer verskillende groepe. Johan Kruger van die Sentrum vir Grondwetlike Regte het dit soos volg gestel: “Afrikaans behoort aan niemand nie en dit behoort aan almal. Afrikaans het nie een kleur nie of een kultuur nie, dit behoort aan vele kulture.” Onder die sprekers sowel as onder die lede van die kommissie was daar ’n groot konsensus dat Afrikaans onder druk staan en op basis van die Grondwet beskerm moet word. Die organisasies en die kommissie het hulleself daartoe verbind om Afrikaans gesamentlik, op ’n grondwetlike en politieke wyse te beskerm en te bevorder.

Hier onder volg ’n kort opsomming van die gesprek.

 

In sy verwelkoming benadruk Renier Schoeman, lid van die kommissie, die Minister se behoefte om ’n beduiende leierskare van mense wat Afrikaans praat te ontmoet en om te hoor hoe hulle die situasie van Afrikaans sien.

Thoko Mkhwanazi-Xaluva, voorsitter van die Kommissie vir Kultuur, Godsdiens en Taal-regte, benadruk in haar openingsrede dat vandag nie net Afrikaans gemarginaliseer word nie, maar dat ook ander tale in Suid-Afrika onder hoë druk staan. Sy spreek die hoop uit dat “The solidarity of marginalisation should be uniting.” Terselfdertyd wys sy ook daarop dat Afrikaans hom in ’n uitsonderingsposisie bevind deurdat die taal in die verlede wél toegang gehad het tot hulpbronne, in teenstelling tot (buiten Engels) die ander amptelike tale.

Sy doen ’n beroep op die sprekers op om hulle verwagtinge van die kommissie met haar te deel, sodat die kommissie Afrikaans as ’n inheemse taal kan beskerm en ontwikkel.

Wannie Carstens benadruk in die makroperspektief wat hy gee dat Afrikaans se grondwetlike posisie positief is, maar dat die praktyk nie altyd so uitwerk nie. Hy haal Jaap Steyn aan wat daarop gewys het dat wanneer ’n taal sy hoë funksies nie meer het nie, sy lae funksies ook verdwyn. Afrikaans se probleem is dat die meeste van sy hoë funksies besig is om te verdwyn. In amper alle kernfunksies is daar funksieverlies: as ’n taal van arbeid en werk, radio en televisie, vermaak en ontspanning. “Ons het hard gewerk om die funksies te verkry, maar ons is besig om dit te verloor. Ons sal dit moet keer, en die kommissie sal moet help.”

Sy oplossing is ’n politieke oplossing: Afrikaans se hoë funksies moet beskerm word en die Afrikaanse organisasies sal moet saamstaan en die kommissie vra vir hulp, sodat daar op lang termyn ’n mooi storie oor Afrikaans vertel kan word.

Danny Titus van die ATKV skop af met ’n uiting van kritiek op die kommissie. “As ons kyk na die komposisie van Afrikaans is hier te veel wit mense.” Hy vra die vraag hoe dit moontlik is om hierdie groot kwessies aan te spreek as daar net na een of twee perspektiewe geluister word. Daarby wys hy op die swart mense wat Afrikaans leer en bestempel dit as ’n beroep op Afrikaanse mense om ook Afrikatale aan te leer.

Evelynn Ferreira van die ATKV wys daarop dat ATKV-projekte in toenemende mate niemoedertaalsprekers aantrek, wat ’n positiewe gesindheid bou teenoor Afrikaans. kollega Karien Brits stel voor om die gedagte van taal as ’n struikelblok te verskuif na ’n bate. So word Afrikaans van Poznan in Pole tot Wisconsin in die VSA aan universiteite onderrig en ook in Soweto word Afrikaans-klasse gegee. Brits stel dit dat meertaligheid die sagte gesig van Afrikaans is en dat meertaligheid gaan oor brûe bou.

Chris Klopper verduidelik dat die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU) strewe na skole as openbare skole, met ’n vrye keuse van godsdiens. Hy bepleit objektiewe en oordeelkundige deelname aan die debat oor die posisie van Afrikaans in die onderwys. Die Rivonia-kwessie word byvoorbeeld deur die owerhede as ’n oorwinning beskou en elders as voorbeeld gebruik. Die SAOU sal in soortgelyke kwessies die kommissie se hulp baie nodig hê.

Klopper verwys na die aktuele kwessie van name in die onderwys, byvoorbeeld skole wat vernoem is na persoonlikhede. Ook hier benadruk hy dat alle betrokkenes met groot sensitiwiteit, politieke intelligensie en objektiwiteit aan die debat sal moet deelneem.
Hy uit die vermoede dat die politieke owerhede nie ernstig is oor hierdie kommissie nie, hulle neem byvoorbeeld die kommissie nie so ernstig op soos die Menseregtekommissie nie. “Ek sê dit nie beskuldigend nie, maar as ’n uitdaging. Ons moet ook help om die profiel van hierdie kommissie te verhoog.”

Louis du Plessis, wat die Afrikanerbond verteenwoordig, sê in ’n vergelyking met die taalregtesituasie in Europa, waar minderhede se taalregte beskerm word deur internasionale konvensies, dat dit wél moontlik is dat minderhede hulle taal kan praat en onderwys kan kry in hulle taal. In Suid-Afrika diskrimineer BEE-wette egter op basis van ras teen die sewe miljoen mense van die Afrikaanse taalgemeenskap.

Anne-Marie Beukes, voorsitter van die Afrikaanse Taalraad (ATR), plaas Afrikaans binne die konteks van Suid-Afrika se meertalige samelewing. Sy beskryf die Afrikaanse taalgemeenskap as ’n ekodinamiese taallandskap wat die bewustheid aandui dat Afrikaans en Suid-Afrika in ’n komplekse taalmodel is. Sy wys daarop dat die taalproses verpolitiseer het. Daarom kan die ATR as ’n burgerlike organisasie die saak van Afrikaans en die ander tale nie in isolasie bevorder nie, maar is staatstrukture soos hierdie kommissie nodig.

Wessel Pienaar het aangedui dat die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns in verskeie projekte aktief werk aan die bevordering van Afrikaans. Die Afrikaanse woordelys en spelreëls wat die Akademie opstel, word uitgebrei ’n digitale grammatika van Afrikaans, die Viva-projek. Die Internasionale Vereniging vir Afrikaans ondersteun die onderrig van Afrikaans aan buitelandse universiteite.

Wessel noem dat Standaardafrikaans die breë Afrikaanssprekende gemeenskap insluit. Hy rig ’n uitdaging aan die Universiteit Stellenbosch, Universiteit van Kaapstad en die Universiteit van Witwatersrand om die Sol Plaatjie Universiteit by Kimberley vinniger tot stand te laat kom. In ’n vergelyking met die wynboerdery noem hy die taalvariëteite van Afrikaans die kultivars binne die wingerd. Enige wynkelder maak nie net een wyn nie, maar wyne van meerdere kultivars. Suid-Afrika het die geleentheid om van die Sol Plaatjie Universiteit ’n universiteit te maak waar die taalkultivars van Afrikaans wat in die Noord-Kaap gebesig word (Griekwa-Afrikaans, Nama-Afrikaans) binne die wynoes verwelkom word. Die Akademie bied hulp aan in vorm van kennis van die lede.

Die besturende direkteur van die Erfenisstigting, Sonja Lombard, praat oor die belang van die regte oordrag van die geskiedenis. Die Voortrekkermonument is gestig as ’n geloofsmonument, kampvegter vir vryheid en fakkeldraer van beskawing. Sy stel dit dat dit internasionale temas is wat nooit verouder nie en waarmee enige persoon kan identifiseer. Sy vertel hoe die Voortrekkermonument kan bydra tot versoening:
“Ons vertel ’n klein tydlyn van Suid-Afrika se geskiedenis, dit is ons taak om dit te vertel. Mense stel belang en wil dit verstaan. As jy jou geskiedenis korrek vertel, sal mense dit verstaan, begrip hê – selfs al stem hulle nie saam nie – en daarmee begin versoening.”

Johan Kruger van die Sentrum vir Grondwetlike Regte (SVGR) het gesê dat Afrikaans se groot probleme die persepsie van Afrikaans is en die grootste skade wat daagliks deur individue aan Afrikaans gedoen word. Hiermee verwys hy onder meer na die aggressiewe gebruik van Afrikaans op internetforums. Dit vervreem Afrikaanssprekendes van die taal wat die persepsie kry: as dit is hoe die Afrikaanssprekende gemeenskap is, wil ek nie deel wees nie. “Afrikaans behoort aan niemand nie en dit behoort aan almal. Afrikaans het nie een kleur nie of een kultuur nie, dit behoort aan vele kulture.”

Die FW de Klerk Stigting en die Sentrum vir Grondwetlike Regte verbind hom daartoe om met die kommissie saam te werk.

Pieter Coertzen gee agtergrondinligting oor godsdiensvryheid in Suid-Afrika. Na 1994 is dit nie meer moontlik om te praat van staat en kerk nie, maar van staat en godsdiens. Want daar is baie godsdienste, en elkeen het die reg van vryheid van godsdiens volgens die Grondwet. Verteenwoordigers van verskillende geloofsgroepe in Suid-Afrika het ’n handves vir godsdiensregte en -vryhede opgestel. Thoko Mkhwanazi-Xaluva, die CCRL se voorsitter, het ’n voorvegter van hierdie handves geword.

Coertzen vertel dat die voorsitter wil dat soortgelyke handveste van taal- en kultuurregte tot stand moet kom. “Dit gaan moeilik wees, maar ons grondwet maak voorsiening daarvoor.”

Bertus Koortz vat die middag se verrigtinge saam en noem die gesprek baanbrekerswerk. Hy benadruk dat die kommissie onafhanklik moet bly en geen bondgenoot gemaak moet word nie.

Hy formuleer vier vrae waar opnuut onbevange na gekyk moet word. Hy sê dit vanuit die perspektief van ’n moedertaalspreker wat lief is vir sy taal.

  1. Hoekom is die oorlewing van Afrikaans belangrik?
  2. Wat doen ons gemeenskappe ?
  3. Watter metodes werk goed? Wat is die beste praktyke?
  4. Wat staan in die pad van Afrikaanssprekende gemeenskappe en individue om suksesvol te kan wees tot die herlewing en volhoubaarheid van Afrikaans?

Koortz noem effektiwiteit en doeltreffendheid as sleutelbegrippe aangaande die beskerming van Afrikaans. Hy doen ’n beroep op die aanwesiges op om “die toekoms van ons taal nie te laat eindig by mites nie”.

In haar slotpraatjie doen die CCRL se voorsitter, Thoko Mkhwanazi-Xaluva, ’n beroep op die organisasies om by die kommissie te registreer, sodat die kommissie weet met wie hulle praat en met wie hulle hulleself kan verbind. Sy verduidelik die kommissie se stryd: nasiebou kan nie langer vertraag word deur vriendelik te wees nie. Die kommissie moet ferm wees en aanbevelings maak.

Om dit te kan doen, moet die debat oor Afrikaans gedepolitiseer of geneutraliseer word. Die vraag is ook: As jy politiek in die taal inbring, dan bring jy sewe miljoen mense se politiek in en wie se politiek is dit dan?

Dit is tyd vir ’n nuwe begin, met nuwe perspektiewe en nuwe maniere waarop daar na Afrikaans gekyk word. Die diskoers moet verander word.

Gasspreker Mathews Phosa praat in sy lesing tydens die afsluitende ete hoopvol oor Afrikaans: “Ek dra nie vrese in my om oor die toekoms van u of my taal of die ander tale solank as ons dit vrylik praat, daarin dig, skryf en vernuwe nie.”

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top