Vergetelheid
ek het te min woorde
om die verlore gevoel van my lewe
te beskryf
maar eenvoudig gesê loop my siel
’n paar treë voor my lyf uit
en projekteer profeties
waar die goue middeweg lê
waar ons almal op probeer dryf
dis die weg tussen smal en breed
wat nooit in skilderye uitgebeeld word nie
dis ’n hawe op die oewers van Lethe
waar mense verdrink in die son
en van die wêreld vergete
tussen mitiese monsters
sonder herinnering
voortlewe
Mense sê ek is gek geniaal
in my eie verhaal verdwaal
ek raak verlore op soek
na die regte woorde
om die gevoel van vergetelheid
wat my teister te beskryf.
dit klink dalk soos ’n gawe
maar dis skrikwekkend
om monsters uit diepe grotte
in jou drome raak te grawe
ek dryf uit die varke as ek op die ashoop
visioene van onverklaarbare seekoeie en krokodille
met my seer oë aanstaar
dis beelde wat net in storieboeke geskryf is
en as ek hiervan praat dan is dit asof
ek buite my lyf beweeg
op soek na die prentjie van dit wat
tussen die twee weë gebeur
dit waar ek my bevind
keer op keer
Mense sê ek is gek geniaal
in my eie verhaal verdwaal
ek raak verlore op soek
na die regte woorde
om die gevoel van vergetelheid
wat my teister te beskryf.
![]() |



