Hulle lê op die grond gesigte na mekaar, so asof hulle hul volgende plan van aksie bespreek; sussie op haar rug en boetie op sy maag, hul skoene langs hulle.
Hulle het besluit om rigting te verander en kortpad te vat terug plaas toe.
Hul gesiggies sal uiteindelik wegkwyn in almal se gedagtes, want daar was nooit eens ’n foto van enige van hulle geneem nie. Nie een van die vier het eens geboortesertifikate gehad nie – die enigste bewys van hul bestaan – doodsertifikate nadat die vermiste kindertjies gevind is.
Stel jouself voor hoe honger en dors moes die vier op hul staptog agter hul ma geword het. Wat moes deur hul klein gedagtetjies gegaan het voor hulle hulself aan die ewigheid oorgelaat het?
Hulle het kwalik iets in hul magies gehad toe die Mmupele-kindertjies; twee-, ses-, sewe- en nege jaar oud op hul waagtog van 18 kilometer in die bloedige Noord-Wes hitte, kos gaan soek het. Hulle het nooit weer iets te ete gekry nie.
Toe hul lewelose liggaampies in die veld gevind is – die twee kleinstes na drie dae vermis en die twee groter kinders meer as twee weke na hul noodlottige staptog uit Verdwaal, Itsoseng – was daar geen twyfel dat hulle aan honger en dors alleen in die veld en hittige 32ºC daardie dag ontkom het nie.
Die vier – drie seuntjies en ’n dogtertjie – het vir weke lank nie ’n ordentlike maal gehad nie. Hul laaste ete; ’n hand vol mieliemeel by die bure geleen genoeg vir ’n bakkie sagte pap elk. Dit was die vorige aand reeds klaar.
Dit lees soos ’n storie uit een van Somalië se helkampe; dit kan tog nie in Suid-Afrika wees nie? – ’n land met georganiseerde provinsiale en plaaslike regering, geen burgeroorlog, geen hongersnood, ’n oorskot mielies, ’n vrye media, tegnologie, natuurlike hulpbronne veels te veel om te noem, ’n ekonomie wat Europa oorleef; kan dit werklik hier gebeur dat kindertjies van honger ontkom – hier in die ekonomiese hart van Afrika?
Iets is ernstig verkeerd.
Is hierdie ’n voorspel van uitgemergelde moeders, armlastige gemeenskappe, swak of geen onderrig, gebrek aan geleentheid, werkloosheid, alles faktore wat so ’n krisis wek?
Ons hele nasie het gefaal; ons moraliteit, ons geestelikheid – ons innerlike moet omgedolwe wees; dis ONS kinders, in ONS Afrika, wat so moes sterf in ONS teenwoordigheid.
Dis uiters pynlik en hartseer, maar kerm en kla gaan nie ons nageslag se toekoms hier help verseker nie. Ons sal mekaar moet vind hier aan die Suidpunt van Afrika!
Mag Jesus Christus ons brood en ons whiskey, ons ten volle voed; die honger in ons HARTE stil.
Hindoe-, Moslem-, Joodse, katolieke en Boeddhistiese liefde,
Cornelius Henn
NS Die woord whisky kom van die oer Skotse woorde "uisge beatha" wat "water of life" beteken. Dalk was daar ’n ou Skot wat ook ’n Hemel-ervaring gehad het, want die Bybel praat mos van Lewende Water ...

