Varkspek oor nuttige Engels

  • 3

Varkspek se brief van 10 April belig die probleem met Afrikaans weer eens.

Varkspek soek 'n onderdeel en kry slegs inligting in Portugees wat vir hom die nuttigheid van Engels illustreer; as die Portugese hulle inligting in Engels verskaf het, het hy nie 'n probleem gehad nie. Dink hy ooit daaraan dat, as die inligting in Afrikaans was, hy nog minder van 'n probleem sou gehad het?

Mens kan nou wel aanvoer dat Engels die, of liewer 'n, wêreldtaal is; dit is tog onmoontlik dat die Portugese in Brasilië iets in Afrikaans sal weergee sal almal sê en dit mag wel so wees maar hoekom eerste aan Engels dink? As jy wens jy wen R 100 000 kan jy mos netsowel wens jy wen R 1 biljoen of hoe?

Dikwels hoor mens reisigers sê die of daardie kuier was ongemaklik want die mense daar kan nie eers Engels praat nie. Hoekom sê hulle nie dat daardie mense nie Afrikaans kan praat nie? Mens sou dink hulle sou sê " ... want jy weet, ons kan nie Klingon praat nie en hulle kan nie Afrikaans praat nie" of so-iets. Hoekom is Engels die eerste ding wat in wat in hulle koppe inkom? Want hulle is gebreinspoel, van kleins af is Engels in hulle kele afgedruk.

Engels is al in so 'n mate 'n verstektaal vir Afrikaanssprekendes hulle kom nie eers meer agter wanneer iets Engels in plaas van Afrikaans is nie. Jare terug stel 'n inbelster voor dat daar 'n "Afrikaanse liedjie van die week"-kompetisie moet wees waarvoor luisteraars stem en sy gee sommer haar voorstel, Gates van Laurika Rauch. Daar's nie een Afrikaanse woord in daardie liedjie nie. In die aande na 12 uur op RSG word daar afgekondig dat daar nou 'n uur van ononderbroke Afrikaanse musiek gaan wees en dikwels hoor ek Quasi Bleu (of so-iets) wat nie een Afrikaanse woord in het nie maar wel Engels en Italiaans of iets. Dit pla my nie, maar hoekom dan sê dit gaan Afrikaanse musiek wees?

In die reklamewese verskyn al hoe meer Engelse advertensies gedurende Afrikaanse programme omdat dit (die advertensies) nou nie 'lekker' sou vertaal nie. Dit is die hele probleem: Iets wat vertaal is bly meestal tweedehands en lomp wat dan die valse gedagte versterk dat Afrikaans nou nie 'n besigheidstaal is nie.

Advertensies moet oorspronklik in Afrikaans geskryf word. Jare gelede was daar 'n advertensie vir die destydse Datsunbakkie (nou Nissan) in die Farmers' Weekly. Die advertensie was Engels maar die aandagtrek-opskrif was in Afrikaans, "Mossie maar man!". Daar was 'n asterisk by hierdie opskrif en onder, in fynskrif by die asterisk, was daar die verduideliking dat hierdie treffende uitdrukking nie in Engels vertaal kan word nie. Of dit nou kan, of nie kan nie is nie die punt nie; die feit bly staan dat daar wel 'n tyd was wat advertensies in Afrikaans geskryf was en dié was dan nou ook moeilik om in Engels te vertaal.

Hans noem in een van sy briewe Vrydag dat hy wens sy selfoon was in Afrikaans. Hoekom is dit nie in Afrikaans nie? Hoekom staan daar op jou krane H en C vir hot en cold en nie W en K vir warm en koud nie? Hoekom is jou stoof, wasmasjien en skottelgoedwasser Engels? Hoekom, op jou verdeelkas in die huis, is al die skakelaars in Engels gemerk? Hoekom, as jy 'n klomp geld vir 'n kar betaal, is alles op die instrumentepaneel Engels?

Die rede is eenvoudig; omdat ons Afrikaanssprekendes dit so aanvaar. Die gedagte kom nie eers meer by ons op dat ons Afrikaanssprekend is nie. Ons tel nie. Ek het destyds vir die agente gesê ek wil die goed op my kar se instrumentpaneel in Afrikaans hê en as dit nie kan nie wil ek die oorspronklike Duits hê. Hulle het toe maar die oorspronklike Duits opgesit maar was baie dikbek en my aangekyk of ek mal is. As meer mense sulke versoeke rig sou hulle my nie aangekyk het of ek mal is nie; dit sal normaal wees dat 'n Afrikaanssprekende se kar, badkamer, selfoon, kombuis en verdeelkas in sy eie taal sal wees soos die geval is in Swede, Frankryk, Engeland, Rusland, Japan en omtrent al die ander vry lande en selfs die wat nie so vry is nie.

Ja-nee, ons Afrikaners is maar 'n gedienstige gedweë spul.

Jan Rap

  • 3

Kommentaar

  • Hello Jan, 

     
    Dit is duidelik jy mis die kunsmatige bevoorregte rol wat Afrikaans gehad het tot en met die laat 1970's en die draai weg van Afrikaans daarna. 
     
    Hoe kan Afrikaans nou die botoon wil voer en daar aangedring word dat iets so eenvoudig soos krane dit moet vergestalt. 
     
    Kan daar werklik verwag word dat krane in 11 tale vervaardig moet word, motors, wasmajiene, ens ens. 
     
    Beteken dit, jy daag op by die handelaar en vra vir die 'Afrikaanse yskas', jy soek jou koeldrank met 'n 'Afrikaanse smaak'. 
     
    Is jy dalk die kluts kwyt? (Met alle respekte) en kan ek ook 'n verdeelkas kry? 
     
    En hoekom die bombasme, 'gatlek', 'gedienstig' ens, ens....
     
    Baie dankie
    Wouter  
  • Jan, eerlikwaar, ek dink jy kan jou punt maak sonder om onnodig hardegat te wees.

    Daar is tog ooreenkomste tussen ons. Ek was vreeslik in my skik toe ek 'n paar jaar gelede met 'n nuwe "browser" in Afrikaans op die internet kon kuier (weet nou nie wat die Afrikaans vir "browser" is nie). Ek gebruik Firefox en dit is nou al weer 'n tyd dat hulle nie die jongste weergawe in Afrikaans het nie. Op daardie stadium (seker so agt jaar of langer gelede) kry ek toe ook 'n nuwe selfoon (Nokia) en ek merk op dat dit vir 'n hele aantal tale voorsiening maak, maar nie vir Afrikaans nie. Nederlands was wel daar en ek kies dit toe as my taal. Twee jaar later toe ek weer die foon opgradeer maak hulle wel vir Afrikaans voorsiening. Selfs op blou Maandae wou ek sweef want of ek by die huis of by die werk op die rekenaar is of op my selfoon praat ek sien Afrikaans op al die skerm. Natuurlik moes ek toe weer die selfoon opgradeer en die ding wat ek nou het weet net van Engels al praat ek meestal met hom in goeie Afrikaans. Dalk kan jy vir Nokia bel en hoor of hulle nog Afrikaanse fone het.

    Groetnis
    George

  • Jan Rap, ek wens my ma was in Katolieke Engelse kloosterskool.

    Dalk was my Engelse woordeskat meer omvattend en my uitspraak baie beter.

    Hans

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top