Vanmelewe (gegrond op 'n ware gebeurtenis)

  • 0

Die blikskottel maak haar lam van frustrasie! Nogtans streel sy liefdevol oor oom Jim se geplooide voorkop – met soveel deernis. Praat kan sy nie meer nie. Wat bly oor om te sê? Wanneer ’n mens ’n leeftyd getroud is, raak selfs jou siel naderhand stom.

Antie Fien versorg haar bedlêende man bykans twaalf lange jare op die plaas – Moed Verloor. Dis ’n gepaste naam wat in Fien se hartkamers eggo. Die werf het intussen die onwillige tuiste geword van sowat 110 katte – wilder as die wildtuin. Oom Jim dreig lankal om iemand te kry om die spul te vergas.

Die dorpsmense sê die drank het hom gedaan gemaak. Ek was destyds ’n kleuter. Ek weet nie wat hom siek gemaak het nie. Ek weet net ek moes vir hom bekers water aandra. Hy het goed betaal vir my moeite. My spaarvarkie moes plek maak vir ’n koffertjie! Reeds toe het ek leer boekhou.

Die water was altoos vir my oom se groot dors. Hy het vir my gesê: “Dis ’n vername werk en jy mors nooit ’n druppel nie.” My oom het altyd ’n nippie onder die komberse versteek gehou.

Ek kan slegs goeie dinge van hom onthou. Geld help mens ook vergeet (as ’n bottel miskien uit die lakens glip). Ek onthou sy rooi wange met die gebarste aartjies alte goed. Sy bulderende stem het my nooit laat bewe nie.

“Fien! Fien!” het hy dikwels gegil, maar soms het net die huishulp gekom. As sy dan wegval met: “Ja, oubaas”, draai hy net op sy sy en staar fronsend na die muur. Dan het sy met ’n tongklik weer gang af verdwyn. Hy was in elk geval so doof soos ’n kwartel en het sy gehoorstuk net vir spesiale mense opgedraai. Ek was die skaduweetjie wat sommige skoolvakansies kom kuier het. Die oom was beslis lief vir my – nie net omdat ek water aangedra het nie. Ek dink oom Jim was my pa se oom se neef. Hy was oor die muur en reeds op rolskaatse – ’n bittereinder, rateltaai!

Ek was lief om op die werf te speel – so in die natuur. Soms het ek skuite van okkerneutdoppe gemaak, my kougom daarin gespoeg en dan ’n Chappie-papiertjie omskep in die seile met ’n enkele vuurhoutjie as stut. Antie Fien was gedurig aan’t souskluitjies bak. Die meerkat was op sy gewone pos by die agterdeur. Hy het hygend in die middagson sit en staar na die gebak van roosterkoek op louwarm kole. Sy kraalogies was altyd op die loer.

Oom Jim se medikasie is op ’n vasgestelde tyd smiddae toegedien. Antie Fien vat dit self sonkamer toe, maar ruik op ’n dag iets brand op die stoof. Sy vlieg om en vra my om reg te staan met die glas en sommer ook die battery vir sy gehoorstuk aan te gee. Ek kyk nog so vir my nuwe skuit en lek my lippe af vir die reuk van souskluitjies.

En skielik is Antie Fien terug. Ongeduldig vra sy: “Jim, hoe vat jy vandag so lank om een pil te sluk?”

“Hoe sê jy daar vrou?” Die oom sukkel vanmiddag om te hoor.

Antie gil hard en Oom verstaan, eindelik. Verdwaas kyk hy sy vrou aan en dink sy is nou gans en al die kluts kwyt. “Vrou, dis lankal af – vra die kind.”

Ek en Antie Fien staar stip na die pil op die bedkassie. “Oom,” vra ek met ’n baie dun stemmetjie, “het Oom self die nuwe battery ingesit?”

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top