Jimmel, as hierdie voorkrismis-nostalgie mens begin beetkry, moet jy ligloop. Mens kan al te maklik in 'n soetsappige snik-snik verval oor die jaar wat so deur jou vingers geglip het soos vissies in vlakwater. Die gevaar is groot dat mens dan tot die slotsom kan kom dat 'n bestekopname van jou eie geleefde bestaan van die 365 dae meestal daarin bestaan het dat jy in die vlakwater rond geplons het.
Netnou – so al tussen MaanKind se digterlike afskeide van die jaar deur – oorweëg sy of sy nie dalk 'n maanlig-sonate oor die tafels moet dans nie. En wink my nader daar uit die agterste donker hoekie waar ek die mees onsigbare plekkie ingeneem het. MaanKind wil oor die tafels dans.
Op een of ander manier oorval die nostalgie my net daar. Ek dink terug aan tye toe die vrou wat haar lyf in vele gewade skrywer gehou het nog padkos ingepak het vir lang togte na ver afgeleë sterrestelsels. En hoe ons besluit het om 'n ekspedisie te loots na die onbekende Alfa Draconnis en kaartjies uitgeloof het met die trippie as prysgeld. Oester was daar met die delikate luukse versnaperinge terwyl die bestuurder van 'n landgoed die passende wyn aangebied het. Dis nou die ene met die passie vir kunsflieks.
En daar staan die Man van die Oomblik: Papkop, die sjarmante drywer van die Silwer Sigaar. Daar al die reisigers deur die hemele: Krokkie, Miss E, Wini, die Skryfster met die Pêreloorbel, Sir Francis Drake Sabelswaaier, Wouter-Kabouter, en al die SêNet-bittereinders ... En net daar oorval die groot hartseer my oor Swerwer wat ook weg is. Swerwer. Die sadheid lê breed in my hart oor hierdie vrind. Ek mis julle. En dis asof die vlietende dae voor Kersfees my hart deur die hartseer trek. Jimmel, waar is die swart kantsakdoekie wat ek altyd paraat het in my slangvel aandhandsakkie.
Pouveer

