Ons het mos annerdag gepraat van die treine in die ou dae? Doer laat in die 1890’s was alle goedere met wa en osse aangekarring vanaf die see by Swakopmund na die binneland toe doer by Windhoek en dan natuurlik weer terug Swakop toe waar die bote was. Dit het so ongeveer 5 dae vir die ossewa gevat met die ou Bai-weg uit die binneland doer by Otjimbingwe verby op pad kus toe. Tot so 30km buitekant Swakop, daar waar die swaar sand begin, daar trap hulle die jêm in en dan vat dit maklik nog 2 – 3 dae net om daai stukkie afgehandel kry. Die swaar sand, sien en natuurlik was ’n man se “perdekrag” ... sy osse dan ook poegaai van al die gesukkel en moet eers uitrus voor die volgende tog aangepak kan word.
Duitser se kind het alles getraai, tot ’n stoomtrekker, om hierdie probleem op te los en niks het gewerk nie. Tot hulle die gatvolpunt bereik het en hulle besluit het om eers net daai erge 30km van swaar sand op te los en die spoor net tot daar te bou ... maar toe hulle daar is, toe het hierdie treinbougees hulle al lekker gevang en toe was daar g’n keer nie en hulle laat waai binneland toe met die spoor om Windhoek binne twee jaar te bereik en wat ’n trotse dag was dit nie daai dag toe die Zwillig dubbele lokomotiefie sy trokke in Windhoek se hoofstraat af tjoefie-tjoefie nie? Hulle het die nuwe spoor sommer so in die straat gelê al na die skouterrein toe waar die eerste Landbouskou sou plaasvind. Die kus se mense is op ’n “special” uitgenooi om saam met die eerste trein Windhoek toe te gaan en te gaan skou en sommer in algemene terme die hoofstad op horings te gaan neem soos wat net ’n jolige klomp Duitsers dan ook kan doen!
Lees mens nou oor hoe hierdie smalspoortreintjie normaal geopereer het, dan sien jy dat ’n tog Windhoek toe het so twee dae gevat, maar die trein het nie deur die nag geloop nie, so daar moes op Karibib oorgeslaap word by ’n herberg. Die Duitsers had mos ’n ander aanslag. Hulle het by elke stasietjie langs die pad geleenthede gebied vir mense wat kos en drank vir die passasiers wou verskaf. Dit was ook nie net vir opklim, jou sitplek uitsoek en daar gaat jy na jou bestemming nie! Daai eerste stuk van Swakop se kant af het so noord gebeur tot by die Rossingberg, waar dit weggedraai het en so half noordoos rigting gevat het na ’n byloper van die Kahnrivier toe, dan regs in die byloper af en dan links in die Kahnrivier op vir amper 8km tot waar die enigste billike uitkomplek vir ’n trein gevind kon word uit die rivier. Hier teen die bult uit klim die spoor, tot op die woestynvlak en vandaar op pad na die stasie Jakkalswater toe. In die rivier self, was die Kahnstasie gebou.
Kus toe, was eintlik nie ’n probleem nie want dit was mos meestal afdraende, maar binneland toe, dan het daai Zwillig swaar getrek om sy paar waens, veral as daar baie mense op was, teen daai bult uit te sloeg. Dan klim die mans van die trein af by die Kahnstasie en die vrouens ry alleen saam met die trein die bult uit en daar bo, by Jakkalswater se stasie, daar gaan koek en tee en skinder hulle. Die trein stoot dan terug na die rivier toe om die mans te gaan laai. Dié manne het intussen die kroeg van die stasie lekker gaan groet met ’n konka bier of twee en was hulle teen die tyd in so ’n vrolike bui dat hulle nie ’n saak gehad met die vertraging nie!
Volgens alle aanduidinge was so ’n treintrip eintlik vet pret gewees en vertel die manne van ’n paar keer wat die biltonglus te erg geraak het as hulle ’n lekker vet gemsbok of springbok naby die spoor gesien was en dan stop hulle die trein en skiet eers die bok en laai hom voor hulle verder ry ... te lekker.
As mens die toeriste bekyk wat ons land binnekom met blink 4x4 en boswa vir die geriewe op die kampplek en die kinders wat agter in die kar sit en DVD’s kyk op skerms en g’n idee het wat buite daai kar aangaan nie, dan dink ek ek leef in die verkeerde tyd. Hierdie kitsoplossings is nie vir my nie. Ek sou my oogtanne gee om op daai treintjie, met al sy ontberinge (oop trokke!) êrens heen te kon ry. Die ou mense het al die pret gehad!
Namib

