Die uitsonderlike natuurband wat Leopard’s Leap-wynplaas in Franschhoek, die Cape Leopard Trust (CLT) en die internasionale skrywer, Tony Park, onsigbaar bind, het onlangs ’n heerlike feesviering meegebring. Nie net kon jy agteroorsit, in stilte ’n nuwe boek lees, wyn drink en na die reën buite die reuseruite kyk nie, ’n gedeelte van die boek- en kaartjieverkope is ook aan die CLT – wat vanjaar boonop hul 21ste verjaardag vier – vir luiperdbewaring geskenk.
Die pragtige kat het selfs sy eie bewaringsdag: 3 Mei word jaarliks internasionaal herdenk om bewustheid oor luiperds te skep. Hierdie majestueuse roofdiere is noodsaaklik vir die streek se biodiversiteit, maar staar toenemende bedreigings vir hul oorlewing in die gesig. Gelukkig lyk hul toekoms ’n bietjie helderder, danksy die plaaslike wynbedryf, navorsing, kamerastrikke en outeurs soos Tony Park.
Tony se boek, Die by the sword, wat sy 21ste jaar as outeur gedenk, is tydens dié geleentheid, wat ook Vrouedag vier, bekend gestel. Al sy boeke het natuurbewaring as onderliggende tema.
Mareli Roux, Leopard’s Leap se senior skakelbeampte, het in haar verwelkoming vertel dat ’n Cape Leopard Trust-kamera op die aangrensende La Motte-staproete die afgelope twee maande “twee waarnemings van ’n manjifieke luiperdmannetjie gehad het. Dit is wonderlik om te weet dat hulle almal nog steeds hier rondloop.”
Vir 21 jaar is die CLT aan die voorpunt van luiperdbewaring in die Kaap. Die organisasie, wat in 2004 gestig is, fokus op die bewaring van luiperdbevolkings deur ’n kombinasie van wetenskaplike navorsing, omgewingsopvoeding en habitatbewaring.
Aanvanklik is die CLT van stapel gestuur met die ondersteuning van ’n handjievol befondsers – waaronder Leopard’s Leap – en het as ’n luiperdnavorsingsprojek in die Sederberge begin. Sedertdien het dit gegroei tot ’n gerespekteerde organisasie met inisiatiewe wat oor ’n groot deel van die Wes-Kaap strek.
Die dag se bekendstelling is gelei deur Helen Turnbull, die uitvoerende hoof van CLT, wat vertel het dat sy die afgelope 13 jaar daar werksaam is; die laaste agt as hoof.
“Ons visie is om die voortgesette oorlewing van luiperds te verseker tot voordeel van die natuur en die samelewing. Ons werk om luiperdhabitats en prooispesies te beskerm, vreedsame naasbestaan met mense te bevorder en gemeenskapsbewaring aan te moedig.
“En as jy rondkyk waar ons vandag is en ons reflekteer oor hierdie omgewing, hoe ongelooflik is dit dat luiperds steeds in die natuur rondloop, én om te dink dat die Groot Vyf eens ook oor hierdie landskap geswerf het?
“Dis net een van daardie spesiale dinge wat al jou sintuie verryk, as jy ’n luiperd in die natuur sien.
“Ek noem hulle altyd die swartskaap van die grootkatwêreld, want hulle is oorlewendes, alleenjagters; wyfies maak hul werpsels op hul eie groot, daar is nooit ’n manlike figuur in die omtrek nie – wat redelik algemeen in Afrika is.
“Hulle is die helfte van die grootte van die bosluiperds en het baie aangepas by hierdie ongelooflike landskap van fynbos en Karoo-struike, en slaag daarin om op een of ander manier ’n bestaan te maak tussen die berge van hier tot in die Oos-Kaap.
“Daar is rofweg een luiperd per 100 vierkante kilometer in hierdie gebied, in teenstelling met die Kruger-luiperds waar dit 10 keer daardie digtheid is.
“So alhoewel luiperds as kwesbaar geklassifiseer word deur die Internasionale Unie van Bewaring, is hulle eintlik, in hierdie spesifieke gebied, een van die skaarsste luiperds ter wêreld,” het sy vertel.
Helen het ook verduidelik dat baie mense glo die luiperdwyfie is “kamerasku”, maar inderwaarheid is dit bloot omdat die mannetjies verkies om in die voetpaadjies – waar kamerastrikke aangebring word – te loop, terwyl die wyfies deur die ruier veld loop.
Helen het ook aan die gaste vertel dat dit moeilik is om ’n bewaringsboodskap oor te dra en mense te begeester en bewus te maak oor wat met die biodiversiteit om ons gebeur.
“Daarom is ons dankbaar dat mense soos Tony hierdie kritiese bewaringskwessies in sy boeke aanpak.”
Tony het meer vertel oor sy reis as voormalige joernalis tot skrywer. Hy het as joernalis en skakelbeampte in Australië gewerk toe hy op ’n ses maande sabbatsreis sy eerste boek skryf. Dit was ’n jammerlike mislukking met eendimensionele karakters. “Ek het probeer skryf uit boeknavorsing oor plekke waarvan ek geen persoonlike kennis gehad het nie.”
Met ’n vakansie in Suid-Afrika, Botswana en Zimbabwe, het ’n luiperd – die eerste katspesie wat hy in die bos gesien het – hom só betower, dat hy uit eie ondervinding begin skryf het. Hy het beskryf dat om vir die eerste maal ’n renoster of olifant of luiperd te sien, vir mense van oorsee ’n diep spirituele ervaring, amper ’n gevoel van tuiskoms, is.
“Om alles oor hierdie diere te hoor en dan te moet leer dat hulle geslag word vir hul velle, tande of horings, gaan jou verstand te bowe.”
Hy wou regtig skryf en het besef dat hy moet skryf wat hy graag self wil lees. “En ek hou van rillers. Kan ek ’n riller in Afrika laat afspeel? Absoluut. Ongelukkig, want die onwettige handel in wildlewe en wildleweprodukte is een van die topvyf- georganiseerde misdade ter wêreld, bo-aan die lys van dwelms en onwettige wapenhandel. En so leer jy oor die bedreiging. En ongelukkig het dit die idees vir my boeke geword.”
Sy eerste boek is in 1995 gepubliseer en is rondom olifantstropery geskryf, waarna hy ook oor renosters, perlemoen, broodbome, haaie, aasvoëls en pangolins geskryf het – en dit voel soms of die bedreiging net nie einde kry nie. Hy voeg by: “Die mees bedreigde lewende organisme op die vasteland is ’n broodboom, jy weet.”
Tony het vertel dat hy egter waak om sy boeke nie prekerig te maak en “as seepkis vir my persoonlike gevoelens te gebruik nie”.
Jy moet in staat wees om op ’n objektiewe manier oor dinge soos stroping te praat, verskillende standpunte aan te bied en mense hul eie besluite laat neem.
“Ek sien wel ’n waarde in fiksie om te help om bedreigings vir wilde diere en die omgewing te bevorder en bewustheid daarvan te verhoog. Maar ek dink dat as daar ’n waarde in hierdie fiksiewerke is, is dit dat hulle gegrond is op werklike kwessies en hopelik bewustheid kan verhoog, en dit is wat ek probeer.”
Hy het vertel dat met sy vorige boek, The protector, wat oor pangolins handel, lesers se reaksie hom verbaas het. Baie mense se kommentaar op sosiale media was dat hulle nie regtig geweet het van die bestaan van pangolins nie.
“En dit was interessant, want ek beskou my lesers, sekerlik in Suid-Afrika, maar ook oorsee, soos in die VK, Australië en Amerika, as nogal wildlewe-kundig, met ’n belangstelling in Afrika.”
Helen het by hom aangesluit en gesê dat daar darem ook hoop is. “Interpol het ’n konferensie hier gehou, omdat Suid-Afrika een van die strengste finansiële gelduitruilstelsels ter wêreld het. Hulle het kom kyk waarheen geld reis van die onwettige handel, wat goed is. Dus, alhoewel daar ’n paar manewales in ons politieke landskap aangaan, is die Reserwebank baie goed om die geld te volg en op te spoor. Hulle probeer baie hard om ’n houvas op hierdie onwettige wildlewehandel te kry.
“Ek het onlangs gekyk hoe sommige van die Endangered Wildlife Trust-honde opgelei word om broodbome, skilpaaie, reptiele, onwettige wildlewe en ander uit te snuffel. Ek bedoel, ons moet net op ’n multivlak probeer om te keer wat gebeur.”
Tony stem heelhartig saam en sê daarom fokus hy in sy boeke op die positiewe. “Dis maklik om perspektief te verloor, omdat die probleem só groot is.
“Maar wat ek graag in die boeke wil uitwys, is die goeie werk wat gedoen word. Meer dikwels nie op regeringsvlak nie en soms – in die ergste gevalle – in sommige lande omdat die wil ontbreek. Maar dit keer nie gewone mense soos veldwagters, vrywilligers en NRO’s om self skouer aan die wiel te sit nie.
“Dis noodsaaklik dat julle onthou dat Suid-Afrika ’n benydenswaardige bewaringsreputasie het: om renosters van uitwissing te red, om pikkewynbevolkings te laat groei en die werk van CLT.”
Tony het gesê as die res van die kontinent meer gedoen het in die vyftigs, sestigs, sewentigs, tagtigs en negentigs, daar vandag meer leeus, luiperds, renosters en aasvoëls sou wees.
“Ons moet ophou om onsself te blameer dat ons nie genoeg doen in Suid-Afrika nie.” (Hy en sy vrou, Nicola, het pas aansoek gedoen vir permanente verblyfpermitte en woon al etlike jare in Sabiepark, aangrensend aan die Kruger Nasionale Park.)
Hy sê Australiërs hou daarvan om mekaar op die skouer te klop oor hoe sterk hul ekonomie is; hoe veilig dit daar is; hoe ordelik hul samelewing is.
“In Australia, we’re very good at telling each other and the rest of the world how good we are, how safe we are, how orderly we are, how good our economy is and stuff like that.
“Maar die kontinent wat verantwoordelik was vir die uitsterwing van die grootste aantal van sy eie soogdiere, is Australië.
“Ek is dus ’n optimis en ek probeer in die boeke om die goeie werk wat gedoen is, uit te lig. Weet jy wat die definisie van ’n optimis is? ’n Australiër wat ’n huis in Suid-Afrika koop,” het hy tot groot vermaak van die gehoor afgesluit.
Opleeswerk oor die werk van die CLT met ’n glas wyn voor die kaggel gee meer agtergrond by wyse van Jeannie Hayward, kommunikasiebestuurder by die CLT:
“Baie mense is onbewus daarvan dat luiperds steeds langs die bergagtige streke van die Kaapse Vougordel in die Noord-, Wes- en Oos-Kaap voorkom. Hierdie luiperds is dieselfde subspesie as dié wat elders in Afrika voorkom – die Afrika-luiperd, of Panthera pardus pardus. Alhoewel luiperds in die Kaapse berge geografies geïsoleerd is van ander bevolkings in SA en ’n paar unieke morfologiese, ekologiese en genetiese eienskappe het, is dit nie genoeg om hulle as ’n subspesie te klassifiseer nie.
“Luiperds in hierdie streek – dikwels Kaapse luiperds genoem, hoewel die CLT fynbosluiperds verkies – is kleiner as hul savanna-neefs. Wyfies weeg gemiddeld slegs 20 kilogram, mannetjies ongeveer 35 kilogram.
“Ten spyte van hul grootte, bedek hierdie katte groot gebiede en benodig hulle baie meer ruimte as luiperds in ander dele van Afrika. Dit maak die bevolkingsdigtheid in die fynbosbioom besonder laag – en hul beskerming des te meer dringend.
“Luiperds word wêreldwyd as kwesbaar geklassifiseer, en hul getalle neem af,” verduidelik Jeannie. “In die Kaap sluit hul grootste bedreigings habitatverlies, stropery, strikke en vervolging ná veeverliese in.”
Tog speel hierdie roofdiere ’n belangrike ekologiese rol. As die topkarnivoor in die Kaapse berge, help die luiperd om prooibevolkings te reguleer en ondersteun die balans van hele ekosisteme. Deur hulle te beskerm, word nie net een spesie beskerm nie, maar die hele web van lewe wat hulle help onderhou – insluitend die berghabitatte wat as noodsaaklike wateropvanggebiede vir die provinsie dien.
Die sleutel tot die CLT se sukses was onder meer die vennootskappe met privaat grondeienaars – waaronder wynplase.
“Die grootste voordeel om wynplase betrokke te kry, is dat ons ’n hele nuwe gehoor by bewaring betrek. Baie wynplase het groot sosiale media aanhang en dis wonderlik om die luiperdstorie só uit te dra.”
Op die rak in die proelokaal staan die Leopard’s Leap-wynreeks. Een daarvan is die Pardus. Ek vra uit en Mareli verduidelik: “Die keuse om luiperdbewaring te ondersteun was nog altyd ’n eenvoudige een. Deur ons vennootskap met die CLT en hierdie spesiale rooi versnit, wil ons ons natuurlike erfenis vier.”
As mens so in die reuseproelokaal en restaurant rondkyk, is dit duidelik dat hulle baie goed in hierdie doel slaag.

Helen Turnbull (HUB van die Cape Leopard Trust), Tony Park en Mareli Roux (skakelbeampte vir Leopards’ Leap en La Motte)
Hein Koegelenberg, voormalige uitvoerende hoof van Leopard’s Leap, voeg by: “Pardus is die Latyn vir panter of luiperd en natuurlik ’n gepaste naam vir ’n toevoeging tot die Leopard’s Leap-wynversameling. Behalwe dat dit ’n lewenslange verbintenis tot die beskerming van ons natuurlike skatte erken, is Pardus ’n elegante rooi versnit, wat my passie vir wyn en ’n alledaagse kwaliteit leefstyl vier.
“Ons betrokkenheid by die CLT verseker dat ons help om die geheimenisse van die luiperds van die Kaap te onthul, waarvan een deur die CLT Pardus genoem is, ter erkenning van die samewerking met die Leopard’s Leap-wynhandelsmerk. Terselfdertyd ontbloot ons die volle dimensie van ons streekswynvariëteite. Dit is alles deel van ons bydrae tot die bewaring van die kuns van wynmaak én die natuurlike skatte van die Kaap.”
Kitsfeite
- Lees meer oor die Cape Leopard Trust by https://capeleopard.org.za/, oor Leopard’s Leap by https://www.leopardsleap.co.za/ en Internasionale Luiperddag by https://www.internationalleopardday.org/.
- Meer inligting oor Tony Park en sy 20 ander boeke wat natuurbewaring as grondslag het, by https://www.tonypark.net/.