Twee gedigte deur Risha Lötter

  • 1

Fotobron: Canva

Jy is ’n geheim

Jy is ’n geheim.
Die huidmondjies van jou siel open
en sluit, open en sluit
daar is dou in jou swye
in die gras van jou holtes ontbreek antwoorde
natuurlik en reëlmatig soos asem ontbreek uit poele
vrae stippel jou landskap stil soos son selfgenoegsaam
jy is genoeg
saam

Die geheim in my herken die geheim in jou
dis al

____________________________________________________

Vrou

Kyk, daar is sy
fyn
met haar onewe bene en haar pragtige oë,
die verstand wat flink en sagmoedig
jou woorde in onthullings omskep,
jou vredig laat,
gesien.
Haar hart sit in haar vingerpunte
en haar vingerpunte streel teen jou nek
omsingel liggies jou skedel,
soos ’n ma en ’n minnares
trek sy geleidelik die vrees en die verwonding uit jou keel
soos towenaars geleidelik sakdoeke uit ’n hoed haal.
Kyk, sy het jou lief:
sy sal haar dae netjies rondom jou vou
haar blik op jou rus omdat jy belangrik is
haar tyd in armsvol op jou skoot neerlê.
Snags verwelkom sy jou woede en jou verwarring in haar liggaam in
sy dein teen jou op en trek jou in;
woed jou teen haar uit
jy is geldig
jy is veilig.
Versigtig verwelkom sy jou waarhede
omdat hulle waarde het
sy bewaar jou hart
met koestering soos vir ’n plant in vroegwinter
voor die reën.

Kyk, hier is sy
en haar voël is groter as joune
haar woede ook.
Haar stiltes is kavernes waarin mans kom verdrink
haar grotte onteenseglik uitgekalwe
uit haar wande uit haar buik.
Haar verdriet eggo onverpoosd
in die holtes die spelonke
die onversadigde hart van haar
Sy ruik soos grond
Sy proe soos bloed
Vou haar kartelinge oop en die lied van haar waansin ruk
jou vae goeie wense in die bek ─
moet haar nie oopsluit nie,
haar woestyn is geiler en groter as jou hongertes
en jy is te klein om haar oases te begryp.

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top