Treurmares by RSG

  • 10

Ek luister Sondag na 'Die tale wat ons praat' en dit gaan oor babataal teenoor, wat die programleidster (Magdaleen Kruger) en haar gaste, ‘motherese’, noem.  Ek neem aan in Engels staan ‘motherese’ teenoor ‘mother’ soos ‘Japanese’ teenoor ‘Japan’ staan; so hoekom nie, aangesien dit ’n Afrikaanse program is, ‘moederees’ nie?  Op ’n stadium vra Magdaleen of mens die twee kan mix – kan jy glo, die Afrikaanssprekende hoof van ’n Afrikaanse stasie op ’n program oor Afrikaans praat van ‘mix’ in plaas van ‘meng’!

Magdaleen het ook gepraat van ’n baba wat ‘sy of haar taal ...’.  Dit moet wees ’n baba wat ‘sy taal...’; die ‘sy of haar’ is onnodig want baba is onsydig en onsydige goed se persoonlike en besitlike voornaamwoorde is soos die manlike.

Een van die gaste, ook ’n omroeper, het so ’n ruk terug in ’n program oor kinderopvoeding heeltyd van ‘crafts’ gepraat.  ’n Ander omroeper nou die dag praat van ’n helikopter wat ’n ‘propeller’ bo en agter het (in plaas van ’n ‘rotor’ bo en ’n ‘skroef’ of ‘lugskroef’ agter).   Dieselfde omroeper het ook op ’n stadium na ‘witruis’ as ‘wit geraas’ verwys.

In die program daarna, ‘Hoe verklaar jy dit’, sê een van die deskundiges ‘. . . sal daar ’n wyfie is ...’.  Ek mag verkeerd wees maar ek kon sweer dis wat hy gesê het.

’n Groot verleentheid op RSG is die namaak van ’n Engelse spreekwyse as ’n Engelse woord of naam uitgespreek word; dit klink geforseerd en dus baie sleg.  In Engels, as Afrikaanse name of woorde uitgespreek word, word dit verengels om by die sleutel van die taal te pas so hoekom probeer Afrikaanssprekendes die Engelse woorde Engels hou?  Een omroepster het op ’n kol deurmekaar geraak en gepraat van ‘McWeeWie op EwSG’ in plaas van ‘McReery op RSG’.  Behalwe dat McReery ’n Skotse van is en die ‘r’ deur die Skotte soos ons uitgespreek word, is daar baie Engelse wat ook die ‘r’ rol.  Name soos ‘Roland’ of ‘Graham’ word as ‘Roulind’ of ‘Gwyhim’ uitgespreek; dit klink simpel as daar Afrikaans gepraat word.

Van die omroepers en -sters is ook baie ontaktvol; gou-gou word aan ’n gas of inbeller gesê hy kan maar Engels praat as hy wil.  Die ou probeer sy bes om Afrikaans te praat en wat die programleier in effek vir hom sê is dat sy Afrikaans sleg is.  Dit het nou die dag met ’n James Self (of so iets) van die DA gebeur; die man het perfekte Afrikaanse grammatika gebruik, wel bietjie gestamel, en Anita het vir hom gesê hy is welkom om Engels te praat.  Dit is ongeskik teenoor die gas en ook uiters ongeskik teenoor die duisende luisteraars van RSG wat nie Engels kan praat nie.

Ook gebruik omroepers en -sters glad nie meer die hoflikheidsvorm nie, hulle ‘jy en jou’ sommer almal.  Dit is familiêr en ook, streng gesproke, verkeerde grammatika.

Dit sal goed wees as RSG gehoor gee aan wyle Anton Prinsloo se voorstel dat hulle weer ’n taalversorger moet aanstel.

Jan Rap

  • 10

Kommentaar

  • Jan

    "Ook gebruik omroepers en -sters glad nie meer die hoflikheidsvorm nie, hulle ‘jy en jou’ sommer almal"

    Die Engelse hoflikheidsvorm "Thee" en "Thou" het lankal verval. Mag dit dan ook nie met Afrikaans gebeur nie?

  • Ja — en een van die omroepers van RSG wat verslag gedoen het oor die Olimpiese Spele in Rio, het na Dafne Schippers verwys as die Duitse atleet ipv die Nederlandse atleet. Weet klaarblyklik nie wat die verskil tusssn "Dutch" en "German" is nie.

  • Beste Jan,
    Die Engelse spel dit Japanese. In Afrikaans is dit Japannese (mv) en Japannees (ev) Ek sal vir jou die spelreëls uitlê indien jy graag wil weet waarom.
    Jare gelede, toe ek so elf, twaalf was, het ek twee Afrikaanssprekende maatjies gehad, twee boeties. Hulle het graag vliegtuigies gebou, en die propellers van hout met hulle pa se gereedskap gemaak. Onderaan die vliegtuie was 'n stuk sterk rek wat opgewen word om die propellers te draai. Van die goed het nogal gevlieg ook. Vandag is albei ingenieurs en as jy vir hulle sou vertel dat hulle destyds nie propellers gemaak het nie, maar skroewe, sal hulle lekker lag.
    Hoe sê AG Visser nou weer oor Metusalem?
    Sy vaders trots, sy moeders vreugd',
    Met Step by Step en Trap der Jeugd
    in Hoog-Galdeus en Aramees,
    Want almal moes tweetalig wees.
    't Was goed en wel, maar al te vaak
    Het die twee "opgemix" geraak.
    Dis noodsaaklik dat 'n instansie soos die SAUK taalversorgers aanstel. Hulle moet net nie probeer om diegene met wie 'n onderhoud gevoer word, of die gaste, se taal te versorg nie.
    Groete,
    Angus

  • Beste Angus

    Japannees is die taal wat die Japanners praat, ook genoem die Japannese.

    Jare gelede, toe ek so 5 of 6 was, het ek my tannies 'antie' genoem seker oor ek 'n paar Engelse niggies gehad het. Ek het sedertdien uitgevind 'tannie' is die korrekte woord maar dit het geensins ons verwantskap verander nie; hulle was nog steeds my pa of ma se susters.

    Op dieselfde wyses kon jou Afrikaanse maatjies agterkom die korrekte woord is eintlik 'lugskroef' in plaas van 'propeller', die goed ongeag of die vervaardiger nie die korrekte naam ken nie. Om die waarheid te sê, selfs in Engels is 'propeller' verkeerd vir 'n vliegtuig, die korrekte woord is 'air screw' (airscrew?). 'n Boot het 'n propeller. By die vliegtuie waarvan die skroef AGTER sit (aan die agterkant van die kajuit/kabine of vlerke) kan dan seker van 'n 'propeller' in Engels gepraat word want hy 'propel' dan die vliegtuig soos in die geval van 'n boot.
    Groetnis
    Jan Rap

  • Beste Jan,
    Ongeag wat die mense ook al praat, die woord Japannees en sy verwante verbuigings word met 'n dubbel-n in Afrikaans geskryf.
    Ek het 'n foto van 'n vliegtuig geneem met daardie ding daarvoor wat jy 'n lugskroef noem, en dit vir 14 Afrikaanssprekendes gewys. Hulle moes vir my sê wat dit is. Almal, deur die bank, het gesê dis 'n propeller.
    Ek dink ek is die enigste in Natal wat sal sê dis 'n lugskroef. Toets 'n bietjie die Afrikaanssprekendes daar in jou omgewing, dan kyk ons wat hulle sê.
    Groete,
    Angus

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top