
Foto: Woordfees
As wenner van die Reinet Nagtegaal-teksprys open Huis van sand hierdie jaar by die Woordfees. Die teks, deur Dianne du Toit Albertze, is ’n diep en skokkende storie oor Sandy en haar dogter Babs se verhouding met Rodney – die een man wat altyd teruggekom het na Sandy en wat Babs onomkeerbaar verander het. ’n Poëtiese vervlegting van verskillende weergawes en herinneringe volg en vorm ’n droomagtige montage waarin dit moeilik is om die waarheid van die leuens te skei.
Die stel (deur Stefan Benadé) is ’n baie fyn-ontwerpte chaos, maar tog is die geheel visueel treffend. Die dorheid van die klippies en die leegheid van die metaalbuitelyne aan die karavaan skep suksesvol die wêreld van armoede en pyn waar slegs die taaistes oorleef. Die liggies wat aankom in dele, wys wel dat die karakters nog nie ten volle hoop verloor het nie, en word baie slim simbolies gebruik – tesame met die algemene beligtingsontwerp wat die regisseur self hanteer het. Klank word dikwels gebruik om die gehoor uit een toneel te ruk en dra by tot die gevoel dat jy as gehoorlid binne-in die karakters se pyn sit.
’n Wolf Britz-toneelstuk is dikwels eksperimenteel en het ’n skokelement. Dit is nie vir almal nie – dit is niche. As jy nie hou van flitsende ligte, harde musiek, vloekwoorde, ander skokwoorde en ’n aanslag wat jou soms direk in die gesig slaan met donker en pynvolle waarhede nie, dan moet jy liewer nie die stuk kyk nie. Die tempo is onophoudelik. Dit is ’n tsunami van emosie en geweld wat jou vir die hele duur tref. En mens is by tye verlore – hoewel dit teen die einde bymekaarkom en jy skielik die waarheid besef en uitloop met ’n gevoel dat jou kop vol rou idees gestop is wat nog lank nie verwerk is nie. Dit laat jou dink. Of jy daarvan hou of nie, moet ’n mens krediet gee aan Britz vir die feit dat hy kanse waag en grense verskuif.
Persoonlik voel ek die stuk is effens te lank en ook ’n bietjie te besig – ek wil graag in die beelde sit en asemhaal. Ek sou meer van die sekondêre storielyne wou sny en eerder fokus op die ma, dogter, stiefdogter en stiefpa se lewens as familie – en dan hoe hul wêreld verander ná sy verdwyning. Die onderwysers, studente en ander karakters wat by die skool ingebring word, pas nie stilisties vir my by die droomstyl van die res van die stuk nie. Dit word dan verwarrend en trek mens uit die oomblik – wat sou werk indien dit teen die klimaks van die stuk ’n groot impak het op die uiteindelike boodskap, maar ek voel dat groot dele daarvan nooit afgehandel word nie en nie bydra tot die hoofstorielyn nie.
Wat ek werklik geniet het en wat my bybly, is die primêre storielyn. Die vermenging van digkuns, alledaagse taal en kru taal om die boodskap oor te dra is treffend. Die hoofkarakters is volrond, menslik en ongelooflik genuanseerd. Tinarie van Wyk Loots as Sandy en Kristen Raath as Babs lewer uitmuntende toneelspel. Raath hanteer die worsteling in haar karakter se psige en lang emosionele monoloë met gemak. Loots, aan die ander kant, het die moeilike taak om ’n karakter te vertolk wat ontsnap in digkuns en drank. Sy is aanvanklik ’n parodie van ’n swak ma, en tog is haar teerheid onvermydelik. Mens kan jouself nie help nie – jy voel jammer vir haar.
Soms kyk mens ’n toneelstuk en jy loop by die deur uit, oorweldig deur hoe dit jou laat voel het. Ander kere loop jy onseker uit – en dan gebeur iets wonderliks: Hoe langer jy sit met die beelde in jou kop, hoe meer vind jy aanklank daarby. Ek skryf hierdie resensie ’n dag ná ek dit gesien het en ek voel reeds hoe die stuk op my groei. Daar is altyd ’n stuk wat gehore verdeel en aan die praat kry – ek het ’n gevoel hierdie een is daardie stuk. ’n Prikkelende teks in ’n moderne en omstrede vertolking – gaan kyk en besluit vir jouself.
Die span:
Met Tinarie van Wyk Loots, René Cloete, Kristen Raath, Jefferson J Dirks-Korkee
Regie en beligting: Wolf Britz
Skrywer: Dianne du Toit Albertze
Stel en rekwisiete: Stefan Benadé
Kostuumontwerper: Birrie le Roux
Verhoogbestuurder: Morag Tison
Lees ook:
Persverklaring: Nagtegaal-tekspryswenner Dianne du Toit Albertze betower met "uitmuntende tegniek"

