Totsiens Café Riche

  • 9

Op ’n reënerige oggend laat in November het ek by Café Riche gaan induik vir ’n koffie. Dit was my gunsteling koffieplekkie in Pretoria. Min het ek geweet dat dit my laaste sou wees.

En die oggend mors die bestuurder koffie op my en gee toe vir my ’n koffie op die huis. Dit was die kultuur daar.

En dit het sommer “ingeblend” by die argitektuur en hout-panele, meubels en reukgeskiedenis. ’n Plek waar jy kon dink. En ’n koppie op Oom Paul kon klink. Dit is op Kerkplein.

Behalwe Oom Paul, is die Paleis van Justisie daar. Dit is waar Nelson Mandela,  Govan Mbeki, Walter Sisulu en hul kamerade lewenslank gevonnis is in die sogenaamde Rivonia-verhoor. Ander historiese geboue sluit in die ou Reserwebank wat nou die Nasionale Tesourie se hoofkantoor is, die ZAR se Raadsaal en  Standard Bank.

Maar Café Riche – behalwe sy rustige atmosfeer – het getuig van die liefde en omgee wat sy eienaar Lamé Ebersohn  vir die plek gehad het.

Historiese foto’s – van die inval in Pretoria deur die Britte tydens die Anglo Boere-oorlog tot die Blou Bulle se inval van Pretoria met die Curriebeker. En haar trots was die talle poskaarte wat sy van tevrede besoekers van regoor die wêreld gekry het om dankie te sê vir uitmuntende diens.

So het ek en De Wet Potgieter een winteroggend in 2017 lekker daar gekuier. En goeie geselsie met Lamé gehad. Ek het ook vir Melt Myburgh oorgenooi, maar die rakker se program is vol en ons sou op ’n later datum daar ontmoet het.

Toe moes ek al iets agtergekom het. Café Riche het besluit om Saterdae te sluit. Dit was juis die dag waarop toeriste na die plek gestroom het.

Lamé, ofskoon sy in Stellenbosch woon, het gereeld tussen Pretoria en Kaapstad gependel. Dit het nie net haar liefde vir Café Riche onderstreep nie – ook haar liefde vir Kerkplein.

Sy het aktief deelgeneem aan Operasie Lalela – wat die hernuwing van Kerkplein behartig het. Vir haar het twee dinge sake gemaak: Kerkplein se geskiedenis moet behoue bly en dit moet ’n toeristetrekpleister wees. Ondanks haar talle pogings om die Plein aanloklik te maak het die Departement van Openbare Werke besluit om haar onder haar gat te skop. Dit is juistement dieselfde departement wat sy oë toegehou het terwyl die vergrype by Jacob Zuma se Nkandla-hartland aan die gang was.

Kerkplein onder konstruksie tydens Operasie Lalela

Volgens die department is Café Riche vir noodsaaklike onderhoudswerk gesluit. Waarom dan die huurders se huurooreenkomste opskort?

Met die vlaag van korrupsie, bra-skap en bankrot-regering ruik ’n mens ’n rot. Is die plek dalk aan ’n comrade beloof in ruil vir “geskenke”? Het die regering nog nie hul les geleer nie soos die wat deur die hof in die Pelgrimsrus-voorval (ook toerisme)  bevind het.

Hier het boekbesprekings, filosofiese praatjies en talle ander kulturele gebeure plaasgevind.

’n Slagaar in Pretoria is dood …

  • 9

Kommentaar

  • Ai Yuri, ek is jammer ek het die koffie by Café Riche saam met jou misgeloop. Ons sal nou maar 'n dop op 'n ander plek moet drink. Enige plek saam met jou is in elk geval 'n paleis.

  • Hans Richardt

    Ongeag, dit was koffiekroeg in vrot deel van Pretoria.
    Selfs in 1980's was dit snaakse plek. Histories, maar in slegte omgewing.
    Ek het ontbyt in 2018 daar geëet, maar die omgewing het my onveilig laat voel. Duidelik het stadsraad gevoel die hoofsaaklik wit gebruikers het plek rassisties gemaak ...

  • Toe ek in 1984 kuns by die Technikon studeer het, moes ons ’n lynskets van geboue in Pretoria doen. Die plein was my keuse. Ek het dit op ‘n manier (kan regtig nie onthou hóé nie) reggekry om tot op die dak van die poskantoorgebou te kom om die plein van bo af te skets. Koffie by Café Riche. Goeie herinnering. Heel paar jaar later skei ’n vriendin en na die hof gaan drink ons gin en tonic by Riche. Nog ’n jaar of wat later, vars uit die skeihof (nog ‘n vriendin), loop soek ons ’n gin by Riche. Ons is heeltemal te vroeg vir die kroeg, maar ons kry gin en tonic in koffiekoppies. So was Riche se mense, altyd daar. Reg om te troos - al het hulle dit nie besef nie. Of dalk hét hulle.

  • Louw van Biljon

    Ag, snert Hans! In die tagtigs was daar niks fout met daai omgewing nie - behalwe as jy probleme met grys skoene of safaripakke had.

  • Daar is meestal swart amptenare wat nie wit mense in groot getalle kan hanteer nie. Lesufi is een van hulle.

  • Nee wat die omgewing is nie so onveilig nie. Het 'n maand of twee terug nog daar koffie gedrink. Maar dit is so dat daar nie eintlik parkeerplek is nie, so mense sal nie daarheen ry om koffie te drink nie, en daar is baie ander koffieplekke wat deftig is, (Mugg and bean het pas so 50m daarvan oopgemaak), en min ander mense in ons land heg historiese waarde daaraan. So dit het nie meer baie klandisie gekry nie.

  • Hans Richardt

    Nostalgie en nostalgia word nie as deel van goeie sakeplan beskou nie. In die politieke korrektheid van SA, het dit apartheid-era verteenwoordig.
    Die Pretoria-teater is ook nie bekende plek in die steeg waarin dit is nie.
    Tans is dit swak deel van stad en nostalgie is nie goeie bemarkingtegniek nie.
    Nostalgie gee oogklappe skynbaar vir plakkers en hul toilette op die sypaadjies rondom die skynbare nostalgiese historiese plekkie.
    Sonder die een ligpunt, is daar veiligheidsheinings rondom monument op plein, wat so 70 jaar gelede staangemaak was op plein.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top