Toorkombuis: Augustus vra vir sieletroos – my balsemiekhoenderpotjie

  • 6

  • Karen Hart skryf ’n gereelde kosrubriek vir LitNet.

Dis weer dáárdie tyd van die jaar. Tyd vir troospotte. Vir my balsemiekhoenderpotjie. Dis my antwoord op ’n noodsituasie soos dié. En glo my, hierdie maand spel NOOD in hoofletters.

Augustus is ’n baie, baie lang maand. Dit voel vir my asof daardie 31 dae meer ure, meer minute en meer sekondes het as enige ander maand. En nie tot jou voordeel sodat jy meer dinge gedoen kan kry nie – o nee, dis ’n uitgerekte sielewroeging.

Ek het altyd gedink TS Eliot het die pot mis gesit met sy “April is the cruellest month.” Vir my is Augustus veel erger. Maar toe besef ek sy April is my Augustus. Dis die maand voor ons lente, nes dit die maand voor sy lente daar in die Noordelike Halfronde is. (Of was, in sy geval – hy is nou op ’n saliger plek waar April en Augustus genadiglik nie meer saak maak nie.)

Dis mos nou maar hoe die mens is. Voor die bloeisels deurbreek, moet jy eers in die stowwerige kaste van jou lewe gaan grawe en van al die ou dinge ontslae raak. En hierdie laaste maand voor die lente is ’n tyd van introspeksie en bestekopname. Pynlik, maar nodig.

Asof dit nie erg genoeg is nie, maak dit jou weerloos en ’n oop teiken vir alles wat moontlik kan skeefloop. En dis asof die venynige winterkoue nog vir oulaas alles uithaal om jou tot in jou gebeente in te pynig. Dis hoe ek dit ervaar.

My Augustusmaand het hierdie jaar nog boonop op ’n mank been afgeskop. Ek is deur twee pastamasjiene, en my blikoopmaker, waarvoor ek nou al jare lank verskonings maak, het my tot trane gedryf. Ek moes eindelik erken dat hy my nog nooit goed behandel het nie, en voor ek weer in ’n krisistyd oor ’n hardkoppige blik staan en huil, gaan hy reguit asblik toe. Die nuwe meneer is eenvoudig, maar deeglik. Maar ek kry nog steeds angsaanvalle wanneer ek ’n blik uit die kas moet haal. Die emosionele skade wat die ou, nuttelose een aangerig het, sal lank neem om uit my gestel te kom.

Met my nuwe pastamasjien en blikoopmaker was ek oorgehaal vir Augustus.

Of so het ek gedink ... Jy durf nooit hierdie paaiboelie van ’n maand onderskat nie.

Ek het verlede Vrydag vroegoggend wakker geword, oorgehaal vir ’n dag van kook. Ek was heel in my skik met myself. Ek was goed op datum en het net twee groterige bestellings vir die dag gehad. Ek het klaar my inkopies gedoen en al die bestanddele was gereed vir die botterhoender vir vier en die gesinsgrootte lasagne.

Maar toe ek my hand uitsteek na die ligskakelaar, gebeur daar net mooi niks. Ek gaan haal my kragkapingliggie om te kyk of ek nie dalk my meter moet voer nie. Toe kyk ek na die kragkapingskedule. Nee, besef ek toe, ek is op my eie. My bure het krag. Net ek nie.

Maar ek is nog ver van paniekerig. Ek het genoeg tyd om al my bestellings klaar te maak. My huisbaas stuur toe vroeg ’n elektrisiën uit. Toe hy by die hek inkom, daag die trok van die stadsraad in die straat op. Kabeldiefstal.

Met die belofte dat ek oor twee uur weer aan die gang sal wees in my kombuis, besluit ek toe maar om my biblioteekboeke te gaan omruil, ’n Uitstappie biblioteek toe het nog altyd my gemoed gestreel. Teen die tyd dat ek weer by die huis kom, het ek gereken, sal alles weer normaal wees en kan ek begin kook.

Toe nie ...

Dis toe dat ek paniekerig begin bel. Gelukkig was nie een van die bestellings vir ’n spesiale ete wat juis op dié dag moet gebeur nie en my klante het geen probleem gehad dat ons dit aanskuif na die volgende dag nie.

Ek gaan staan toe buite op die stoep en haal diep asem, maak vir my ’n koppie tee op die gasvlam. Toe maak ek die oorblyfsels van ’n bestelling van die vorige dag – peri-peri-hoenderlewers op kapokaartappels – vir my in ’n ysterpotjie op daardie einste gasvlam warm vir middagete.

Terwyl ek so lekker sit en eet aan my trooskos, besef ek skielik: Miskien is dit die heelal se manier om my ’n bietjie tot stilstand te bring, ’n afknyptydjie te gee om asem te haal. En skielik was die dag lig en lekker.

Teen drieuur was my krag weer aan. Te laat om iets aan enige bestelling te doen, maar ten minste het ek gemoedrus gehad en die res van my afdag geniet. Môre, het ek geweet, gaan ek die prys betaal wanneer ek die twee agterstallige bestellings saam met al die ander moet inpas. Maar nou geniet ek eers die res van my blaaskans.

Die res van die storie is minder mooi. Ek het Saterdagnag tot tienuur gewerk en drieuur Sondagoggend weer opgestaan om alles betyds klaar te kry. Toe die laaste bestelling teen middagete afgehaal is, het ek skoon kouekoors gehad van moegheid. Ek was oorgehaal om my kuiertjie by die geliefde te kanselleer, maar besluit toe gelukkig om deur te druk. Ná ’n lekker warm stort het ek weer kans gesien vir die lewe.

By die geliefde het ’n gesellige vuur gebrand. Aan tafel het hy skielik oorgeleun, my bril afgehaal en dit met sorg skoongemaak. Toe ons opskep, het hy ’n skaaptjop, die laaste een van die Karooveld van Merweville, vir my uitgehaal. Spesiaal vir my gebêre, het hy gesê. Perfek gebraai, lekker sappig met ’n kaiingrige vetjie, en daardie heerlike Karoobossiesmaak.

Miskien, dink ek toe, is dit waarvoor ons aan die ongenaakbaarheid van Augustus blootgestel word – sodat ons die klein dingetjies, die sorgsaamheid wat ons so dikwels as vanselfsprekend aanvaar, weer kan waardeer.

Balsem vir die siel ... soos hierdie trooskos om die res van hierdie lang, uitmergelende maand te oorleef.

........
Balsem vir die siel ... soos hierdie trooskos om die res van hierdie lang, uitmergelende maand te oorleef.
........

Karen se balsemiekhoenderpotjie

Hierdie is baie anders as die asynhoender wat ons ken of die ghrênd tradisionele Franse poulet au vinaigre, maar die lekkerste lekker wat jy jou kan verbeel.

Genoeg vir 4–6

6 middelslagaartappels, geskil en in kwarte gesny
3 eetlepels olie
8 swoerdlose spekrepies, in stukkies gesny
8 hoenderstukke
sout en varsgemaalde swartpeper
2 eetlepels varsgekapte roosmaryn
8 knoffeltoontjies,  in kwarte gesny
1 koppie balsemiekasyn
½ koppie hoenderaftreksel
sout en varsgemaalde swartpeper
10–13 piekel-grootte uitjies, geskil

Kook die aartappels in soutwater tot net-net sag en nog ferm. Hou eenkant. Verhit 1 eetlepel van die olie in ’n swaarboomkastrol en braai die spekstukkies daarin. Verwyder dit met ’n gaatjieslepel en hou eenkant. Giet die res van die olie in die pot. Plaas die hoenderstukke daarin en geur met sout en peper. Braai alkant mooi bruin. Voeg die roosmaryn en knoffel by en braai vir so ’n minuut of twee. Voeg die asyn by en roer om goed te meng en te sorg dat enige stukkies aanbrandsel onder in die pot losgemaak en bygeroer word. Voeg die aftreksel en klein uitjies by. Bedek die pot, verlaag die hitte en laat saggies prut vir ongeveer 40 minute. Voeg die aartappels en die spekstukkies by en laat vir nog 20 minute prut.

 

  • 6

Kommentaar

  • Ja Karen
    Pragtig geskryf! Jou merkwaardige beheer van ons pragtige Afrikaanse taal is vir my 'n riem omder die Hart.
    Groete
    Anton Hart

  • Ek 'sien' jou en jou vertelling asof dit verfilm is...gaan verseker jou hoenderdis maak! Afrikaans is ryk aan prentjie-woorde!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top