Vreemd hoe die sterre prut vannag,
kaal deur die oog beskou, ’n donker brousel,
maar as jy hiér – op die Roggeveld se skurwe eskarp,
ver van fabriek en brandende stad –
in die duisternis roer met lens en silinder,
kan jy Sirius aanstip, daardie witwarm son,
selfs die mane geslingervel om Jupiter, die reus,
nóg wêrelde wat swerk in die wolk van Magellaan
en in elke ster wat uitbrand
ontkiem ontelbaar meer.
Ja, ’n sterrewag moet skerp kan kyk,
want alles bars in skille na buite,
vanaf ’n pit iewers, een of ander tyd,
lank voor die woord.
Eeue reeds, maar steeds te laat,
volg ons dié trajek met passer en teleskoop.
Ek swaai die buis te na aan die maan,
die sekel blits, my pupille ’n seeroos,
kramp toe, en kyk ek meteens na binne,
na ’n stomme heelal wat in my oogbal ontplof.
(21 Desember 2009)

