Teenreaksie op Jan Rap se skrywe van 30 Januarie

  • 0

Ag, ou Jan, ek is al gewoond daaraan. Skryf ek iets, dan word ek uitgeskel vir nonsens praat, ek sit glo gereeld die pot mis, ek skryf glo twak en onsin, sê ek iets is swart, word vir my gesê ek kyk skeel, dis wit, en sê ek dit wit, dan is dit kwansuis nou weer swart. Ek wil ook nie hê jy moet ʼn duim wyk van jou standpunt nie; hou wat jy het, al vergaan alles om jou.

Ek sou graag wou weet waar jy die kastige definisie tussen ʼn leenwoord en ʼn indringerwoord gekry het. Of did you thunk it out yourself? Dit lyk my al of dit van ʼn taalonnie af kom, wat graag anglisismes wou uitroei, maar nie mooi geweet het wat om met die Engelse woorde te maak wat wel in Afrikaans voorkom nie. Dis maar presies wat alle tale doen om woorde van vreemde tale oor te neem al het daardie taal ʼn woord daarvoor. Nederlands het hier ter plaatse bv ‘baadjie’ van Maleis-Portugees gevat, terwyl dit die oulike woord ‘jasje’ gehad het. Nee, wat, jy kan nie vir ʼn taal en sy sprekers wil voorskryf dat hierdie Engelse woord is nogal toelaatbaar in Afrikaans, maar daardie woord is verbode nie. As jy so aanhou met “achieve my goal”, gaan “bereik my doel” netnou ook vergetelheidstatus bereik.

Die verskil tussen my siening van taal en joue is dat jy alles in kompartemente wil indruk, en wette van die Mede en die Perse vir alles wil maak, terwyl ek net vir jou probeer verduidelik hoe linguiste taal sien en daarmee omgaan. Wat jou siening van die grammatika betref, kan ek duidelik sien dat jy een of ander derde taal op skool gehad het, en dat die onderwyser dit aangebied het dmv die grammatika-vertaalmetode. Dit is ʼn uiters swak manier van taalaanbieding, veral omdat dit die grammatika preskriptief aanwend. Vra maar enige taalonderwyser wat sy sout werd is, en hy sal dit beaam. Grammatika is nie preskriptief nie. Wat wel preskriptief is, is spelling. ʼn Groep mense, ʼn taalkommissie, kom bymekaar, en besluit op die spelling nadat hulle ʼn deeglike sinchroniese en diachroniese studie daarvan gemaak het. Hulle mag besluit om “Japanees” met een n te skryf, soos in Engels “Japanese”. Dan ontdek hulle dat daar dan probleme met ander woorde, bv. “Japanner”,  sal wees, en dan besluit hulle dat die spelling “Japannees” moet wees in Afrikaans en ook “Japannese”. Dis reg dat spelreëls preskriptief moet wees, want daar moet eenvormigheid wees wanneer dit by skrywe kom.

Dis egter onmoontlik om deur middel van reëls te probeer voorskryf hoe mense moet praat. Grammatika kan slegs deskriptief wees. Die grammatikus bestudeer ʼn taal, en hy beskryf die werking daarvan. Dit wat hy skryf, is die grammatika van daardie taal. Afrikaans se grammatika is nog braak; daar is nog groot dele wat nie beskryf is nie, en ek meen nog meer as een meesters- en doktorstesis sal nog kom.

As jy beweer dat grammatika voorskriftelik is, dan moet jy vir my kan sê wie het dit voorgeskryf? Wie het by sy studeertafel gaan sit en vir Engelssprekendes voorgeskryf dat hulle moet sê “I am”, en nie “I is” nie? As ek beweer dat spelreëls voorskriftelik is, dan kan ek sê wie dit voorgeskryf het. Jy moet dus vir my sê wie skryf grammatikareëls voor? Jy ken Engels. Hoe weet jy dat jy moet sê “I am”? Het iemand dit vir jou voorgeskryf, of sê jou taalgevoel jou dit? Ek praat nou maar van “taalgevoel” want ek kan agterkom jy het nie my raad gevolg, en Chomsky bestudeer nie. (As Chomsky te moeilik is, probeer Langacker.)

Jy vergeet gou wat ek voorheen aan jou verduidelik het. Vir meer as 200 jaar (die 300 was ʼn tikfout) word Engels al in ons kele afgedruk. Aan die begin van die negentiende eeu het Engeland die Kaap oorgeneem. Kort daarna het Lord Charles Somerset sy taalwette uitgevaardig waarin hy die sogenaamde “Dutch” wat die mense gepraat het, in skole verbied. As deel van sy verengelsingsbeleid het hy die 1820-setlaars ingevoer om die Oosgrens te beset. Van toe af was daar ʼn stryd teen Engels. Afrikaans is juis gestig as gevolg van die renons wat mense gehad het in Engels. Dis juis hierdie teenstand wat van Afrikaans ʼn sterk taal gemaak het. In sy kinderskoene kon Engels hom maklik oordonder het, maar noudat hy ʼn grootman is, is hy sterk, en moet hy sy woordeskat uitbrei. Die enigste taal waaruit ontleen kan word, wat die moeite werd is, is Engels. Ons is nie so in kontak met Duits, of Russies of Frans of Spaans nie. Buitendien is Engels die taal der tale: dis linguistiektaal, wetenskaptaal, sporttaal, wetstaal, regeringstaal, politieketaal, nuustaal, ag, sommer alles. Dit het ʼn uitmuntende woordeskat, danksy Vulgêrlatyn, nou waar wil jy beter hê? En is dit nou so moeilik om te verstaan?

Natuurlik het jy gesê dat Afrikaans Engels gaan word agv die baie Engelse woorde. Dis in elk geval hoe ek die volgende woorde van jou vertolk: “Jy ‘put’ egter nie uit ’n ander taal deur jou woorde met die ander taal s’n te vervang nie; in wese verteenwoordig dit die vervanging van jou taal met die ander taal.” Die enigste gevaar vir Afrikaans is as dit in onbruik raak, en sprekers besluit om maar liewer Engels te praat. Engelse woorde in Afrikaans kan nie die taal laat verdwyn nie. As dit lei tot swakker Afrikaans, dan sal ʼn nuwe taal daaruit voortspruit wat nie Engels of Afrikaans is nie. Afrikaans is bv nie Nederlands of Maleis-Portugees nie, en ook nie Engels nie.

Jan, jy mors my tyd deur gedurig half te lees. Gaan lees weer: “Sou iemand sê: ‘ek achieve my goal’, dan sê hy dit omdat dit vir HOM beter kommunikeer onder die omstandighede, en met wie hy praat.” Ek het nie gesê hy praat net met homself soos jy beweer nie. Die hoorders hoef nie Engels te kan praat as “achieve” en “goal” van babadae af deel van hulle taal was nie. Van my Engelse vriende wat uit Engeland kom verstaan absoluut niks Afrikaans nie, maar hulle weet wat ʼn braai en braaivleis is. Ek verstaan nie ʼn woord Portugees nie maar ek weet wat “você fala merda” beteken. Aangesien jy die onderwerp aanraak, hy kan ook net met homself praat, en as dit die taal is wat hy praat, kommunikeer dit ook beter. Volgens Chomsky vind ʼn groot deel taalaktiwiteit innerlik plaas.

Jou albasterstorie is juis “você fala merda”. Oudengels, wat ʼn Germaanse taal was, is verryk deur ʼn magdom van Franse woorde, en dit het ʼn verrykte Engels tot gevolg gehad. Natuurlik is Engels maar uiters swak Oudengels. Is dit so moeilik om te verstaan?

Ten slotte: as taal so onlosmaaklik deel is van jou kultuur en identiteit, waarom is jy dan bevrees dat Afrikaans gaan verdwyn? Jy gee tog self die voorbeeld van Iere wat nie meer Iers kan praat nie, maar nog Iere is?

Angus

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top