Te voet deur die tydlose Middeleeue

  • 0

Halfpad dorp toe val die man met die panga uit 'n sytak van dié breër grondpad, agter my in. Niks wat ek doen, stadiger of vinniger loop, swenk of stilstaan, skud hom af nie. Normaalweg voel ek hier, in die Mosambiekse platteland, veiliger op my eie as in Tshwane/Pretoria. Maar gedagtig aan twee wrede onlangse oorloë, wat méér littekens nagelaat het as die geamputeerde bene en arms van die bedelaars langs die pad, loop ek kromrug voor pangaman uit.

Selfs die onverwagse groetstemme in Afrikaans en kort gesprekke in óf mý moedertaal, óf Fanagalo, herinner aan die tragedies van trekarbeid, uitbuiting van werkers − én slawerny in veelvuldige vorms, deur stam teenoor stam, Arabiere en Portugese − en eietydse kommersiële kolonialisme.

mozWaar ek vir my tweede Coca-Cola uitdraai, skud ek die man met die wapen/werktuig af. By Jeff se Y2K-stalletjie is die koeldrank ys-yskoud, soos dit net in glas kan proe. My vorige Coke (wat die vrou van die boswinkeltjie met haar tande oopgemaak het!) was warm − die dorp se elektrisiteitsnetwerk reik nog nie tot dáár nie.

Dit was eers tydens die tweede of derde keer wat ek dié roete stap, dat ek die ooreenkoms tussen my lesings en dié werklike pelgrimstog herken. Terwyl ek prente vir die volgende dag se klasse in Kerkgeskiedenis uitsoek − om vir die studente te wys hoe alledaagse lewe in Middeleeuse Europa gelyk het − tref dit my: vir húlle lyk dit nie vreemd nie; dit lyk net soos híér. Arm mense leef permanent in die Middeleeue.

Sedert my tweede diensbesoek aan die kerklike opleidingsentrum volg ek dié persoonlike nuwe tradisie: om op die eerste voldag 'n tien kilometer lange sirkulêre roete te stap, waartydens ek die gejaagde stadslewe uitasem en Mosambiek se ambiance met diep teue intrek.

'n Klipgooi van die sentrum af is mens reeds in die bos. Effens verder gewaar jy die eerste woonplekkies, eenvoudige grashutte, uit die plaaslike natuurlike grondstowwe geskep – elk in sy eie netjiese werf (die grond skoon gehark, die wilde struike en gras gesnoei) soos die Sjangaans se gewoonte is, maar andersins tydloos en organies.

Baie eeue, oftewel 'n paar honderd tree verder, volg daar huisies van hout en klei of van vleiriete. Daarvoor moes die bouers materiaal van elders aandra of inkoop. By 'n perseel waar 'n paar manne 'n tradisionele grasdak opsit, gaan staan ek stil en kyk. Die hele dak is reeds volledig op die grond klaargemaak, en word nou eenvoudig opgetel en op die ronde kleirondawel vasgemaak.

Selfs die skooltjie, so skeef dat mens vir die kinders en onderwysers se veiligheid vrees is van hout, klei en gras gemaak. Onwillekeurig skiet die storie van die drie varkies en hulle huisies my gedagtes binne. Helaas, wolwe in verskillende soorte skaapsklere is hier nie skaars nie. Agter die skynbaar romantiese fasade leef arm mense, soos “minderbevoorregtes” oral en altyd, in 'n web van georganiseerde korrupsie en uitbuiting vasgevang.

Getuienis van industriële eeue verskyn in die vorm van sinkdakke en staalkosyne – én ook in die kinders se helder T-hempies, met 'n wye verskeidenheid van westerse reklame-ikone. Just do it, Toyota. The Simpsons, Surf en Billabong. En één maal, wrintiewaar, loop ek 'n jong man raak met ons ou Suid-Afrikaanse vlag op die bors en ”Die Stem” in Afrikaans op sy rug.

Nog nader aan wat ons, en die destydse Portugese owerhede, 'n properse “dorp” sou noem (met steengeboue en teerstrate), haal ek óns eeu in: satelietskywe en al hoe nuwer en blinker motors; verder terug was daar hoofsaaklik gehawende Peugeot- en Datsun-bakkies, en vroeër net kruiwaens en handkarretjies.

Ek gaan die middedorp binne waar ons organiese grondpad, tussen hope vullis en vuil agterplase by die vernaamste kommersiële straat aansluit. Toe ek Macia die eerste keer besoek het, was alle besighede variasies op 'n plaaswinkel, elkeen met iets van alles. Één uitsondering was die enigste boekwinkel, waar jy traktaatjies van Mao en Marx by die Kommunistiese Party kon koop.

Vandag is daar 'n apteek en 'n super mercado én hardewarewinkels! Dit is nie meer nodig om handjiesvol geroeste klinknaels en enkel velle skuurpapier by die stalletjies op die mark te gaan koop nie. Dié handelaars, en talle ander wat in die buitelug werk, is nog daar. Laas keer kon ons onder 'n boom 'n bruikbare tweedehandse waterpomp vir my 3-liter Ford-bakkie koop.

Wanneer ek vanuit die dorp terugdraai verdwyn die simboliese elemente van my mistieke reis. Langs die teerpad see toe en later in die sandpad (waar my Ford al soveel kere tot op sy pens vasgeval het), dink ek aan dinge vanuit 'n ander hoek: oor deurmekaar Suider-Afrika en ons westerse afkomelinge se aandeel in die slegte – én die goeie – vrugte. Ek besin oor waarvoor ek hier is, wat dit werd mag wees, maar ook die vraag: “Is daar beter maniere om mekaar te help?”

'n Aanhaling skiet my gedagtes binne. “I don't believe in charity,” skryf Chileense outeur, Eduardo Galeano, “I believe in solidarity. Charity is so vertical. It goes from the top to the bottom. Solidarity is horizontal. It respects the other person. I have a lot to learn from other people”. Ek hoop dat my insette nie té vertikaal oorkom nie, dat dié staptog, dié hele reis, deel word van 'n meer horisontale en solidêre lewe.

Onwillekeurig draai my gedagtes na die volgende twee weke se Engels-na-Tsonga-vertolkte lesings. Maar môreoggend gaan ons eers 'n paar strepe in die sand trek, 2000 jaar se geskiedenis in 200 treë voorstel, in 'n poging om 'n aanvoeling vir die skaal van die geskiedenis te kry - en vir óns beskeie paar metertjies.

In die rietbedekte klaskamer kruis ons paaie met magtige konings, invloedryke protesteerders, diep denkers, goeie pouse en slegtes, dwaalleraars en beroerders − en besin ons oor hoe hulle ons leef- en denkwêreld help vorm het en nou steeds verder hervorm.

Maar voor al dié magtiges, sal ons eers 'n oomblik met die invloedrykste Een van almal saamstap, 'n behoeftige en nederige Reisiger, op 'n aardse stofpad soos dié.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top