Beste Jan Rap
Die debat of Afrikaans suiwer gebesig moet word of onafwendbaar in ’n mengeltaal sal of moet ontaard, is ’n ou-ou een. Veral vanaf die middel-tagtigerjare het die jeug op groot skaal Engelse gonswoorde en uitdrukkings in hulle Afrikaanse gesprekke begin gebruik en het die amptelike beswaar teen dié slordigheid al hoe minder hewig geword. Die opklits van Engels in Afrikaans is ’n ingewikkelde saak – nog meer as wat die meeste mense besef. Ek noem ’n paar probleemfaktore.
1 ‘Engfrikaans’ verskil nie slegs van streek tot streek nie, maar ook van beroep tot beroep, tussen ekonomiese groepe en natuurlik ouderdomsgroepe. Verder verskil die mate van vermenging van taal ook nog tussen sportmense en vermaaklikheidspersoonlikhede en verskil dit tussen die drie, of is dit vier? genders. Byvoorbeeld, Willie se gewraakte stukkie parodie – glo my asseblief! - is ‘suiwer’ Melrose Arch-, Parkhurst-, Melville- en Sandton-‘Afrikaans!’. Dit het niks met ‘Kaaps’ te doen nie en is nie daaraan verwant nie. En dis ongelukkig ook nie ’n oordrywing nie.
2 Vermenging het ook baie met spraakritme en ‘invul’- gedagtes en -woorde te doen. (Kru woorde vervul dikwels dieselfde funksie in ’n taal se spraakgebruik.)
3 Afrikaanssprekers se politieke en sosio-kulturele verlede het sekerlik bygedra tot die erbarmlike woordgestremdheid wat ’n mens tans waarneem. Dat die onmagtige gebruik van taal ook ‘n wêreldprobleem is, is ook waar, maar in die Afrikaanse situasie is dit nogal akuut. ’n Mens hoef net na een of twee TV-onderhoude te kyk of na enige inbelradioprogram te luister om te hoor hoe woordgestrem Afrikaanssprekers werklik is, as hulle verbaal buite die begrensing van die klein gemoedelike omgewing gedwing word.
4 Die meeste Engelse gonswoorde en sinsnedes wat in Engfrikaans gebruik word, is afkomstig uit die Amerikaanse vermaaklikheids-, sport- en ekonomiese wêreld en is nie regtig uit standaard Engels nie. Terloops, na my wete is standaard Engels nie Queen’s English nie, maar Southern English. Dit is ook ’n verskynsel dat die vermengers gewoonlik ’n ewe swak Engels praat – wel sonder die vermenging!
5 Dit raak tyd dat ons verstaan, hoe moeilik ook al, dat Afrikaans nie ’n gemaklike moderne of byderwetse gebruikstaal is nie; daarvoor is sy eenvoudige maar lomp verlede tyd, sy gebrek aan emosioneel-intelligente woorde en uitdrukkings, sy gebrek aan byderwetse en gesofistikeerde innuendo en sy statiese argaïese idiome en uitdrukkings te blameer. Dis waarskynlik een van die redes waarom Afrikaanse prosa gewoon nooit dieselfde hoogtes kon bereik as die poësie nie. Beslis is dit ’n probleem in ontvlugtingsliteratuur. Dit sal interessant wees om die persentasie Afrikaanse mense wat Afrikaanse prosa vir ontvlugting lees te vergelyk met die persentasie wat Engels om dieselfde rede lees.
Nou: Die mense wat taalvermenging goedkeur of net aanvaar, skram weg van die vraag of die vermenging ook aanvaar moet word in die geskrewe taal. Of hulle gee nie om vir die voortbestaan van die geskrewe taal nie, óf het die saak nog nooit ordentlik bedink nie. (Hoe stry jy vir die behoud van ’n taal op akademiese, politieke, ekonomiese gebied of waar ook al, as die spreektaal skaars herkenbaar aan sy eie oorsprong is?)
My vraag is: Wat op aarde moet of kan mens doen om dié afgryslike tsoenami te keer? My enigste vae hoop is om ons taalsusters – daar is blykbaar niks van die taalbroeders meer oor nie – te smeek om hulle onderskeie gesagsposisies in die joernalistiek, televisie, populêre Afrikaanse musiek, kunstefeeste, uitgewersbedryf ensovoorts te gebruik om die saak te probeer regstel.
Beste wense,
FMarx
Kommentaar
Beste FMarx,
Taal is nes kleding; 'n mens dra dit gepas. Dasse, pakke en hoede word nie meer in die kerk gedra nie (met respek - behalwe die Hervormers wat ek ken). In die hooggeregshof is die drag steeds stoer en formeel. In 'n rietkroeg iewers op 'n Mosambiekse se strand, is kaalgat ook okei. En dan is daar die Vatikaan se prag en praal. So bid ek in my skoonste taal, al is dit na 'n ander se mening hoe ookal... - God ken my hart.
Soek iemand my verkeerd om, dan gooi ek Kaaps. Ek dink dis 'n kwessie van respek en die omstandighede. Kyk 'n mens na die al tatoeëer en algemene minagting wat mense vir hulself en die omgewing oor het, dan is die huidige trant van hul taal meng eerder 'n soort van opstand teen die orde en samelewing, as 'n vorm van evolusie. Alle tale neem sinvolle woorde en begrippe uit ander tale op hul weg die toekoms in. Waar taal in soveel protes verniel word, sal dit waarskynlik nie deel van die algemene woordeskat word nie. Ek is egter dankbaar dat ek nog my pakklere en das in die kas het om die geleentheid te pas (kisklere), sou dit nodig wees. Derhalwe kan ek ook met 'n riempie iewers deurgetrek in Afrika plak, sonder om skaam, of siek te voel.
Wel,
As Willie se stukkie aanvaarbare Afrikaans is kort iemand se taalkanker chemo ...
Nogtans interessant.
Dankie
Nogal interessant, toe ek in die 1970's begin vertaal het (jaarverslae, ens, is aan my vertel dat Afrikaans gaan "verdwyn"). En dit het stelselmatig wel gebeur. Die JSE het jare gelede besluit dat jaarverslae nie meer in Afrikaans gepubliseer hoef te word nie, en die meeste genoteerde maatskappye het die besparing verwelkom, alhoewel die koste verbonde daaraan om in Afrikaans te publiseer eintlik maar 'n klein persentasie van die drukkoste uitgemaak het.
Vroeg vanjaar is dit uitgebrei na finansiele advertensies, spesifiek halfjaar- en jaareindresultate. Dit is ook 'n klompie jare gelede probeer, maar die Afrikaanse pers en die advertensiemaatskappye het dit met groot trompetgeskal gekeer.
Hierdie keer . . . niemand het probeer om die JSE te keer nie. Slegs 'n handjievol maatskappye (en dit sluit Afrikaanse konglomerate in), publiseer nog in Afrikaans. Gevolglik verloor die koerante, advertensiemaatskappye en die taalbedryf 'n massiewe bron van inkomste.
Om by die punt te kom: om 'n taal lewend te hou moet hy nie net gepraat word nie, maar ook gelees word. Die nuwe geslag word geforseer om in Engels te kommunikeer, en verloor sodoende taalvaardighede. Ongelukkig het Afrikaans ook baie ver agter geraak, veral wat nuwe tegnologiese kommunikasiemiddele betref. Verder is die meeste woordeboeke donkiejare oud, en word doodeenvoudig lankal nie meer bygewerk nie. Dus maak baie mense maar soos die Nederlanders, en ontleen uit Engels. Of praat dit dus doodeenvoudig in plaas van Afrikaans . . . dus, dis ons eie skuld!