Taal is wispelturig

  • 16

Ja, taal is ʼn wispelturige ding, dit verander gedurig. Selfs wanneer twee linguiste taal bespreek, verskil hulle soms wat bv grammatika betref. Die een is ʼn voorstander van preskriptiewe grammatika, terwyl die ander deskriptiewe grammatika voorstaan. Preskriptiewe grammatika is hoe ʼn taal behoort gepraat en geskryf behoort te word. Vir eeue het voorstanders hiervan die septer geswaai, en bepaal wat word toegelaat en  wat nie. Voorstanders van die deskriptiewe grammatika, beskryf weer die taal soos dit in die werklikheid voorkom. Taal is vir hulle wel nog onderhewig aan reëls, maar dit word onbewus toegepas deur die spreker, en is nie die wet van die Mede en die Perse nie. Daar is natuurlik heelwat oorvleueling tussen die twee, maar soos die tyd aanstap, en taal verander soos feite ook verander, so word die gaping tussen die twee sienswyses al groter en groter.

Aan die ander kant is taal ook heel stabiel. Die konsonantfrekwensie van Afrikaans kom ooreen met 16de eeuse Nederlands, met so hier en daar ʼn verskil. Dit is bv ook so met Engels. Moderne Engels en Ou Engels se konsonante kom ooreen, alhoewel daar ʼn duisend jaar verskil is tussen die twee.

Tog is daar menige voorbeeld van linguistiese veranderinge in tale. Nuwe woorde word geskep of ontleen aan ander tale en ou woorde verdwyn. Die woord ‘jasje’ is onbekend in Afrikaans, terwyl almal weet wat ʼn ‘baadjie’ is. Dit wil voorkom hoe kleiner die gebruiksfrekwensie van ʼn woord is, hoe makliker staan dit ʼn kans om te verdwyn en vervang te word met ʼn ander woord. Dis heel waarskynlik die rede waarom so baie Engelse woorde deesdae inglip in die Afrikaanse woordeskat. Wie gebruik nog die woorde ‘inderdaad’ of ‘werklikwaar’ of selfs ‘wraggieswaar’? Daarenteen is die woord ‘actually’ deesdae ʼn bekende woord. Miskien het dit ook ʼn effens ander betekenis.

Deesdae is ons so gewoond aan rekenaars. Met die goed moet jy presies te werk gaan. Spel net een letter van ʼn woord verkeerd, of tik ʼn hoofletter ipv ʼn kleinletter, of ʼn komma ipv ʼn punt, en jy beland in die grammadoelas. Met taal is dit heel anders gesteld. Anders as wat mense wat aan preskriptiewe reëls vasklou, is daar, wat taal betref, geen objektiewe waarheid nie. Daar is geen onveranderlike reëls wat êrens, ek weet nie waar nie, neergeskryf en in klip gegraveer is nie. Taal is heeltemal uitgelewer aan sy sprekers. ʼn Woord is nie meer verkeerd as dit deur ʼn groot aantal sprekers anders gebruik word nie. As die woord ‘sondebok’ vir die meeste mense beteken dat die betrokke persoon skuldig is, dan beken die woord ‘skuldige persoon’. “Belhamel’ verloor dan sy betekenis van ‘skuldige’. Dit lyk my in elk geval of daar ook ʼn betekenisverskuiwing lê, as ek luister hoe mense praat. ‘Belhamel’  het meer die betekenis nou van ‘boosdoener’, ‘geweldenaar’. Ek hoor van my Engelse vriende gebruik die woord ‘disinterested’, terwyl ander weer ‘uninterested’ gebruik. Wie moet nou vir wie korrigeer? Daar is, so lyk dit my, ook nie net meer drie trappe van vergelyking soos my onnies my geleer het nie. Op ʼn TV-advertensie sê die een outjie sy pa se bakkie is taaierer as die ander s'n.

Dit bring my by nog iets wat vaste taalreëls in die wiele ry, en dis die sogenaamde idiolek. Afgesien van die standaardtaal, het elke mens ook sy eie manier van praat. Dit verskil van persoon tot persoon. Elkeen het ook nog sy eie woordeskat, grammatika, uitspraak van woorde, en aksent. Gelukkig is dit so, want sou ek my vrou en my skelmpie met mekaar verwar as hulle my by die werk bel, dan is dit tiekets met my. Selfs wanneer ons met iemand anders praat, beïnvloed daardie persoon ons spraakpatrone en ook anders om, al is dit heel dikwels onbewustelik. Die Engels wat ek met my Zulusprekende tuinier voer, klink heel anders as wanneer ek met my kollegas praat. Ek gesels nou die dag nog met ʼn vrou wat my vertel dat sy daarvan hou om koek te ‘baak’, in die son langs die swembad te lê en boek te ‘leeees’, en soms om inkopies te ‘doeen’. Sy eindig haar sinne met so ʼn lang uitgerekte woord en so ʼn stygende stemmetjie. Gelukkig keer ek my betyds, of ek het ook so begin ‘praaat’. ʼn Engelssprekende nefie van my woon nou in Amerika, en het hierdie tipiese Amerikaanse aksent aangeleer, behalwe natuurlik, as hy met sy ouers praat, dan klink hy weer heel skaflik. Natuurlik gebeur dit nie met almal nie. Diegene wat nog kon onthou hoe Henry Kissinger geklink het, sal weet dat, alhoewel hy jare lank, ek dink seker 70 jaar, in Amerika gewoon het, hy nog sy swaar Duitse aksent behou het.

Taal is dus maar gedurig aan die verander en dit is deel van die mens se voortdurende aanpassing by veranderde omstandighede. In ʼn kort tydjie het ons almal rekenaar-, TV-, en selfoongeletterd geraak. Met 1875 se Afrikaans sou ʼn mens vandag heel onbeholpe gewees het.

Angus

 

  • 16

Kommentaar

  • Preskriptiewe-en deskriptiewe taal. Wat is dit? Ek lag sommer! Ek tik hier in die taal wat ek elke dag gebruik, dit wat die mense rondom my praat. Ek gebruik nie 'n afrikaanse spel-en grammatika toetser nie. Sê my watter soort taal "praat" die afrikaanse spel-en grammatika toetser(s) volgens jou dan nou? Jy daag my uit dat Webvoet my skryfsels net so plaas, maar dan moet jy dieselfde doen en jou taaltoetser afskakel sodat ek joù skryfsels kan beoordeel(soos ek hier tik, korrigeer en onderstreep die komper elke word in rooi, want hy(dit) is 'engelssprekend').
    Soos wat dit hierbo lyk, is dinge maar aan die effense kant. Is 'rekenaar' nie meer in die somme maak rigting nie. Is komper nie Afrikaans nie?
    En natuurlik moet jy geradbraaktheid voorstaan. Dis mos volgens jou, Afrikaans.
    ***
    (Hierdie koemmentaar is onveranderd geplaas - Webvoet)

  • En nou hardloop jy weg met 'n "one liner". Hoe dramaties! Kom, wys my my foute uit, ek is bereid om te leer.

    En Webvoet het seker bedoel "kommintaar".

  • Beste Raed-na-Gael,
    Met ‘I rest my case’ het ek eintlik bedoel: dit wat ek voorheen beweer het, het jy bewys met jou skrywe. Verder wou ek jou nie in ʼn verleentheid stel deur jou foute uit te wys nie, maar nou vra jy daarvoor; dus moet ek maar, heel onwillig, gehoor gee.
    Eerstens kan jy nie goed lees nie. Ek het verduidelik wat die verskil is tussen preskriptiewe en deskriptiewe grammatika. Jy noem dit sommer “preskriptiewe-en deskriptiewe taal”. “Preskriptiewe-en” is ook ʼn spelfout.
    Dan het jy ook heeltemal misverstaan toe ek beweer het dat ʼn mens nie moet verkeerd spel as jy rekenaars gebruik nie. Ek het daarmee programmering, soek na informasie op bv Google, bedoel. Selfs al het jy ʼn Afrikaanse speltoetser gehad om jou te help, sou jou getikkery nog vol rooi strepe gewees het. Jy skryf bv “afrikaanse spel-en grammatika toetser(s)”. Dit behoort “Afrikaanse spel- en grammatikatoetser(s)” te wees. Let op die hoofletter en die spasie tussen “spel- en”.
    Vir jou inligting, ek maak nie gebruik van ʼn speltoetser nie. Dit laat te veel spelfoute deur, en kla waar daar nie te klae is nie. Soos reeds gesê, al het jy ʼn speltoetser gehad, sou dit nog rooi strepe onder jou skrywes getrek het.
    Jy skryf: “Is 'rekenaar' nie meer in die somme maak rigting nie.” Dit is ʼn vraag, en daarom moet dit deur ʼn vraagteken afgesluit word. Dis swak gestel maar jy kon ten minste “sommemaakrigting” geskryf het.
    “Rekenaar” word deur Afrikaanssprekendes gebruik vir “computer”. “Komper” is ʼn neologisme wat ongelukkig nie wou posvat nie.
    Waar het ek gesê dat geradbraaktheid Afrikaans is? Wat is “geradbraaktheid” in elk geval? Bedoel jy geradbraakte taal? As Engelse woorde in ʼn Afrikaanse sin gebruik word, is dit allermins geradbraakte taal.
    Groete,
    Angus

    • Chris Marnewick SC

      Heel preskriptief, jou antwoord, lyk dit vir my.

      'n Speltoetser is 'n onding erger - en gevaarliker - as Grendel. Toe ek laas 'n resensie vir LitNet doen, verander die speltoetser sommer guerillas na gorillas toe ek na (sogenaamde?) vryheidsvegters verwys.

      'n Faux pas van onmeetbare dimensies in SA.

      • Soos jy sê, 'n faux pas van onmeetbare dimensies in die nuwe Suid-Afrika (juis omdat s dito na aan die waarheid is).

  • Ag wat, met hier en daar se spelfoutjie kan ek saamleef. Was onder die indruk dit gaan oor grammatika en taalbegrip. Daar is 'n beskrywing wat ek nou die dag oor 'n kouetjie gehoor en nie eens geweet het bestaan nie - taalvitter.

  • Chris Marnewick SC se faux pas.
    Speltoetsmakers is net so menslik soos woordeboekmakers. As ʼn woord nie in die speltoetser opgeneem is nie, kan dit nie die spelling daarvan verbeter nie. Al wat ʼn mens dan moet doen, is om die woord in te voeg. Maak net absoluut seker van die spelling van die woord wat jy invoeg.

    Enige speltoetser sal in elk geval die woord “guerillas” as ʼn spelfout aandui, want jy het dit verkeerd gespel. Dit moet “guerrillas” wees. “Gorillas” word weer net met een r gespel.
    Kry vir jou ʼn Afrikaanse Woordelys en Spelreëls.
    Groete,
    Angus

    • Chris Marnewick SC

      Ag nee wat. Ek het:
      Die WL&SR
      WAT (in leer gebind)
      Afr-Eng
      Verskeie Engelse woordeboeke
      Duits
      Frans
      Latyn
      Nederlands
      Spaans
      Italiaans
      en selfs 'n woordeboek vir vroedvroue

      Al wat ek kortkom - vir my doeleindes - is een met Afrikaanse terme vir motorwerktuigkundiges.

      En ek het tog guerrillas oorspronklik reg gehad - nadat ek die speltoetser afgeskakel het.

  • IEWERS moet een wees met Afrikaanse motorterme; daar was tog 'n tyd wat Afrikaanssprekendes vakleerlinge in daardie bedryf was. Indien jy nie een kry nie, kry maar 'n Duitse ene; hulle het motorkarre 'n rukkie voor die Engelse begin bou.

    • Chris Marnewick SC

      Dit is juis vir 'n roman oor 'n Duitse motortjie wat ek die woordeboek nodig het: 'n 1968 Volkswagen Karmann Ghia. Ek sal maar die Afr-Eng standaard woordeboek moet gebruik.

  • Chris Marnewick SC

    Soos ek ouer word het ek so 'n sitplek al hoe meer nodig, maar ongelukkig werk dit nie so nie. Stamp my kop, rek my rugspiere en kramp my in as ek eers my sit gekry het. En soos ek die Ghia van die grond af op oorgebou het, het ek gereeld gewonder wat die Afrikaanse woord of term was vir die onderdeel waarmee ek gespook het.

    Die soek vir die woordeboek duur voort. Instussen, soek maar vir Saving Emiko onder die Ghias op thesamba.com.

  • Chris Marnewick SC

    Kan jy nou meer? Ek is nooit te oud om te leer nie. Vonkproppe is ook nie daar nie. Rockers?

    Ek soek steeds na daai woordeboek. As daar een vir vroedvroue kan wees, moet daar een vir werktuigkundiges ook wees.

  • Beste Chris,
    Ek het mos gesê dis die begin. Jy sien nou self die veld is nog braak.
    Die volgende stap is, jy gaan sit en skryf self 'n woordeboek met die titel Afrikaanse motorterme. Dit behoort jou nie langer as tien jaar te neem nie, want jy sal gedurigdeur, byna daagliks, woorde moet bywerk. As jy self nog nooit met die skrywe van woordeboeke te doene gehad het nie, stel ek voor dat jy in aanraking kom met iemand wat wel het vir raad en bystand.
    Na sowat tien jaar kan jy dit laat publiseer as Afrikaans nog relevant is. Doen egter ook deeglik navorsing of jou woordeboek sal verkoop, anders sit jy dalk in 'n finansiële verknorsing.
    Sterkte en laat weet hoe dit met die skrywery gaan.
    Groete
    Angus

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top