Swakopmund herbesoek, 2008

  • 0

(in vier dele, met Apfelschnapps en Tafel Lager)

 

1
Op die kaai by die Mole
het Melanie mos jou hand geneem,
jou palm na bo gekeer en beweer
sy kan die toekoms sien.
Die klokkies aan haar romp het
geklingel toe sy met groot oë sê:
Jy gaan doodgaan.
Die woestyn was rooi teen die wolke
en die see grys onder die mis.
Enigiemand kon dit sien, die kleure
van die woestyn en die see. Of dalk
meng ek nou my kleure en my tye
en was die lug bloot newelloos en blou.
Nee, ek onthou dit nou. Die dag was wel
helder. Ons lag oor die profesie.
In daardie geval kan enigiemand mos
die toekoms sien. Die vraag is net:
Hoe ver?

2
Hoe dig lê die mis dan oor die horison?
Kan jy die punt van die jetty sien?
Almal van ons gaan mos maar ritmies dood.
Nou wonder ek of die ligtoring se straal
nog dieselfde radius en kadens het.
Die jetty se bene het seker meer jaarringe roes,
maar anders as bome beur yster se
jaarringe na binne. Wat dan van
’n mens? Dit was negentien jaar
gelede. Ek was toe negentien jaar oud.
Dalk is hierdie plek ’n spilpunt
waarom ek entropies draai.

3
Wis ek tóé dat die seesand
tussen die Mole en die jetty
so grof is? Was die bordjie tóé daar,
die een wat sê:
          Jy mag nie swem nie
          Jy mag nie visvang nie?
Dis die onbenullige bakens,
klanke, reuke, wat jou so seer
laat onthou. ’n Vrou stap met ’n jas
wat teen haar kuite klap.
My aandete is in ’n bottel en ’n sak.
Geparkeer langs die kaai verloor ek
my greep op die stuurwiel en nog wat.
Ek wil die venster oopdraai,
haar nader roep: Ken jy vir Melanie?
Maar wat sal dit help? Sy sal dink
ek is mal soos die meeue.

4
Jy, ja jý, hees voël! Sal ek jou
’n duik deur die water spaar?
Kom pik maar aan ’n stukkie brood.
Melanie, kon jy negentien jaar
gelede sien hoe ek hier
langs die see sou doodgaan?
Kon jy tóé al sien hoe ek
en die meeue op oorskiet sou aas?

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top