Omroepers, veral party, is vreeslik lief om te praat van 'in terme van'. Ek dink nie dis korrek nie, mens moet sê 'insoverre ...' of 'wat betref ...' of so-iets; hulle moet maar uitvind wat die korrekte Afrikaans is, dis hulle werk.
Advertensies wemel van goggas; daar's byvoorbeeld een wat begin met 'n klomp 'wat as'-se; 'wat as' dit gebeur of 'wat as' dat gebeur. Dit moet 'sê-nou' wees. 'n Ander advertensie verwys na 'n motorkar as vroulik, 'Eleanor' nogal. Dis verkeerd, 'n voertuig, enige voertuig, is onsydig. 'n Ander advertensie sluit af met '... maak jou reg vir dit'. Aaklig, moet wees 'maak jou gereed daarvoor'. Omroepers en gaste praat gedurig van 'op dit' en 'vir dit' en 'met dit' ens. Omroepers moet hulle vergewis van die regte taalgebruik en voor die tyd met gaste so soort van 'n toetslopie doen.
Een omroeper praat van laatslaap as 'inlê', 'n ander het die van Uckerman as 'joekermin' uitgespreek en nog een, kan een van bogenoemde twee ook wees, het gedink 'braaf' en 'dapper' beteken dieselfde. Het hierdie ouens ooit Afrikaans as vak op skool gehad, en word hulle nie getoets in Afrikaans voor hulle aangestel word as omroepers nie? Is daar nie, soos in die ou tyd, taalversorgers wat hulle krit na 'n program nie?
En dan is daar nog die aaklige gedienstigheid teenoor Engels: Engelse boodskappies word gelees, Engelse gaste word genooi wat SLEGS Engels praat en dan praat die programleier nog partykeer terug in Engels ook. Enige gas is 'welkom' om ter enige oor te slaan na Engels toe. In advertensies word enige vreemde woord op die Engelse manier uitgespreek, mirsydies vir Mercedes, owdy vir Audi (klink soos 'n cowboygroet), nissin vir Nissan en hoehennou sandèhoehou vir Renault Sandero. Wat besiel die stasie om Engels op 'n troontjie te plaas?
Daar is geen vloekwoorde in advertensies nie wat daarop dui dat reklamefirmas se werk tog gekontroleer word. Of weet hulle hulle mag nie skeltaal gebruik nie? Hoe dit ookal sy, daar is nie 'n verskoning vir swak Afrikaans nie; gaan die taalgebruik na of lig die firmas in om korrekte Afrikaans vir reklame op 'n Afrikaanse stasies te gebruik.
Ek luister taamlik gereeld na die stasiebestuurderes se program Sondae en ek moet sê dit klink of sy die handhaaf van goeie Afrikaans op die hart dra. Nou hoe gebeur dit dan dat hierdie goggas op die lug verskyn? Is sy dalk nie die baas nie? Is daar 'n sinistêre donker mag wat haar opdragte gee?
Jan Rap


Kommentaar
Beste Jan Rap,
Sê die radiostasie se naam nie vir jou iets nie; "Radio Sonder Grense". "Grense", "riglyne", on-oordeelkundige indiensneming, "Carte Blanche". Die groot vlieë in die sop!!!!! dat dit nie geïdentifiseer word en reggestel word nie, spreek vir my boekdele!!!
Terloops, Jan, "sê nou" is ook anglisisties. Die "suiwer Afrikaans" is "gestel nou".
En juis dáár lê die probleem met Afrikaans. Selfs diegene wat lief is vir die taal is nie vry om dit regtig te gebruik nie, want daar lê om elke hoek en draai 'n taalpolisieman wat gereed is om te wys hoe "verkeerd" hulle dit gebruik. Dis waarom ek Engels verkies, selfs as Afrikaner – daar is veel meer vryheid, en dis makliker om in die praktyk te gebruik, want dis baie aanpasbaar.
Nico, daar is nie meer vryheid wat Engels betref nie; jy praat dit net beter omdat jy meer oefening daarin kry en jy kry meer oefening daarin omdat dit in jou keel afgedruk word. Ook ly jy, lyk dit my, aan die variasie van die Stockholmsindroom waaraan die meeste Afrikaners ly naamlik omhelsing van wat hy as die taal van die meesters beskou. Hy is in 'n moerse verleentheid as hy 'n fout in Engels maak (en dus maak hy seker hy praat sover moontlik korrekte Engels) maar is nukkerig as iemand hom op 'n fout wys wanneer hy Afrikaans praat.
Pierre, vir my lyk dit of RSG se OPDRAG is om ons Afrikaanssprekendes te verengels.
Angus, dankie vir die teregwysings en hulp. Ek is egter nie heeltemal seker van jou 'handhawing'-storie nie want mens kan mos 'n selfstandige naamwoord van die infinitief maak soos 'terugvoer' (in plaas van 'terugvoering'). Mens praat byvoorbeeld van die 'bou' van 'n nasie, nie die 'bouing' van 'n nasie nie so daar is gevalle waar die '-ing' gewoon verkeerd is.
Stockholmsindroom? Werklik? Dis seker so as jy "die Engelse" nog op die ou manier as jou "meesters" sien. Die meeste van ons het egter nie daardie ou siening nie – dis vir ons vreemd omdat ons nie met daardie verwysingsraamwerk grootgeword het nie. Die punt wat ek probeer maak is dat ek Engels geniet juis omdat daar nie elke nou en dan iemand is wat my probeer korrigeer nie. Ek word nie omring deur Engelse mense wat neul dat mense Engels "verkeerd gebruik" nie. Inteendeel, as jy iets nie in Engels kan sê nie, maak jy 'n woord daarvoor op – en die kans is goed dat jy dit later in algemene gebruik sal sien. In Afrikaans sal jy net oor die kole gehaal word daarvoor. Daarom is Engels vir my in die alledaagse lewe meer funksioneel en lekkerder om op kreatiewe wyse te gebruik.
Die puriste sal die taal vernietig. Die mening is belangriker as die vorm (en as spelling). Hart-intelligensie is by verre meer kragtig as rasionele intellek.
Jan Rap,
Goeiedag Nico
Ek is maar nog net 15 jaar oud, so ek sê nie dat ek heel moontlik reg is nie. Afrikaans is besig om dood te gaan as gevolg van mense wat Engelse woorde tussenin gebruik en Engels praat. Baie van ons aller daaglikse mense kan nie Afrikaans vlot praat nie. Byvoorbeeld daar is geen kind wat weet wat awesome beteken in 'Afrikaans' en 'cool' ens ... Dis waarom ons dus goeie Afrikaans moet gebruik om vir ander te wys hoe om dit uit te spreek.
Groete
Dawid
Ek stem saam!
Nico, jy is duidelik nie 'n Afrikaner nie. 'n Afrikaner is lief vir sy taal, praat en skryf sy taal en poog om Afrikaans korrek te praat. 'n Afrikaner is trots op wie hy is.
Nico
Die sien van die Engelse 'op die ou manier' is volgens jou dan toe hulle, kollektief, ons heer en meester was. Hulle was dit nooit behalwe nou in die geval van ouens soos jy wat nog steeds hulle en hulle taal omhels; jy sê openlik jy verkies Engels (bo Afrikaans) want dié sou nou 'vryer' wees. Onsin; Engels het 'n grammatika en 'n woordeskat wat, indien verkeerd gebruik, die 'puriste' erg kan ontstig - soos GB Shaw by monde van professor Higgins sê: "The moment an Englishman opens his mouth he makes another Englishman despise him."
Jy sê ook jy verkies Engels omdat daar nie nou en dan iemand jou probeer korrigeer nie. Wel, as iemand jou kort-kort in Afrikaans probeer korrigeer beteken dit net jy praat Afrikaans nie goed nie - net soos jy dalk vanweë jou gedienstige ingesteldheid goed Engels praat, dié dat jy nie gekorrigeer word nie.
Ek sien ek het my brief al in 2013 geskryf, amper ses jaar gelede en van toe tot nou het dinge net erger geraak - die 'op/by/met/teen/vir dit' het toegeneem; omroepers en gaste se gesprekke wemel daarvan. Dit is nou benewens ander taalgoggas soos 'gaan groot', 'braaf' ipv 'dapper' en nog 'n menigte ander goed. Voeg daarby die verdwyn van Afrikaans op universiteite, in die openbare wêreld, by skole ens en dit is duidelik dat Afrikaans besig is om te kwyn.
Ongeërgde mense wat taalhandhawing betref stuit nie hierdie agteruitgang nie; hoe anders - gods water moet maar oor gods akker loop. Vyandige mense egter, soos jy, versnel hierdie agteruitgang - wat 'n verleentheid, wat 'n skande.
Chris Wait, hoe kan wat jy 'puriste' noem die taal nou doodmaak? Dit is juis die geleidelike indringing van Engels wat besig is om die taal dood te maak. Dis so goed jy sê die verwydering van onkruid uit die land van 'n gewas maak die gewas dood.
Jimmy, 'n lewelose ding is onsydig en die persoonlike en besitlike voorname van onsydige goed is SOOS die manlike.