
Foto:Canva
Strandtoneel
Die woorde in my kop kom land
saam met die meeue op Hartenbos se strand:
uit-die-lug-gepluk-lomp.
In die verte pose Mosselbaai alewig;
die agtergrond vir nog ’n amateurfotograaf
se poging tot ’n poskaart.
Tussen my en die breekwater
beur sandslakke boontoe,
sluip verhongerd in die rigting
van ’n opnuut uitgespoelde vis.
Die meeue gewaar dié blink belofte
wat die gety met elke brander opdis
en sak as swerm al krysend
daarop neer,
net om weer op te styg
met snawels vol viskop en ruggraat
as hul met woord en vis verdwyn
die kus se grou lug in:
helemal leeg gelaat
net nog ’n gryswit bladsy.


Kommentaar
Ek het vanoggend opgestaan, Weishan Pouchon tee gedrink, en toe 'n baie goeie gedig gelees. Dit gebeur nie aldag nie.