Sterwensuur

  • 1

Foto: Canva

Sterwensuur
(vir my Engel)

van iewers stroom ’n dowwe lig:
’n tuin vol verwronge vorme
donker, dan weer newel
tog vaag bekend

wat vliet jy tog so dofweg deur my oog?

van iewers stroom ’n sagte klank:
’n holte vol duister brabbel
dof, dan weer duidelik
tog vaag bekend

wat sê jy tog so dringend in my oor?

van iewers huil ’n wolhaarbrak:
nat snoet uit ’n moddersloot
weg, dan weer hier
tog vaag bekend

wat bind jy tog so stewig om my nek?

van iewers kom ’n sagte gloed:
kraaineskokon van sy gespin
lou, dan weer warm
tog vaag bekend

wat lê jy tog so knus in my gemoed?

van iewers kom ’n witskuimbrander:
bars golwe teen ’n rots
ysig, dan weer soutsmaak
tog vaag bekend

wat breek jy tog so bitter deur my laaste lig!

naskrif:
ons dra jou terug
deur sand en sewejaartjies
oor rots en bamboes
strooi jou vir ewig
sout uit die Swartland
in Blouberg se branders

  • 1

Kommentaar

  • Johan van der Merwe

    Baie ver en diep uitgesleep uit 'n donker geheim vol skuim en bekende goed ingekleur in alles wat herinnering bring, vir 'n swaar gemoed.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top