
Foto: Canva
Sterwensuur
(vir my Engel)
van iewers stroom ’n dowwe lig:
’n tuin vol verwronge vorme
donker, dan weer newel
tog vaag bekend
wat vliet jy tog so dofweg deur my oog?
van iewers stroom ’n sagte klank:
’n holte vol duister brabbel
dof, dan weer duidelik
tog vaag bekend
wat sê jy tog so dringend in my oor?
van iewers huil ’n wolhaarbrak:
nat snoet uit ’n moddersloot
weg, dan weer hier
tog vaag bekend
wat bind jy tog so stewig om my nek?
van iewers kom ’n sagte gloed:
kraaineskokon van sy gespin
lou, dan weer warm
tog vaag bekend
wat lê jy tog so knus in my gemoed?
van iewers kom ’n witskuimbrander:
bars golwe teen ’n rots
ysig, dan weer soutsmaak
tog vaag bekend
wat breek jy tog so bitter deur my laaste lig!
naskrif:
ons dra jou terug
deur sand en sewejaartjies
oor rots en bamboes
strooi jou vir ewig
sout uit die Swartland
in Blouberg se branders


Kommentaar
Baie ver en diep uitgesleep uit 'n donker geheim vol skuim en bekende goed ingekleur in alles wat herinnering bring, vir 'n swaar gemoed.