Stereotipes

  • 5

Ek luister nou die Sondag na Magdaleen Kruger op die program ‘Die Tale Wat Ons Praat’, hoe sy daadwerklik die pendulum na die anderkant toe swaai om, wat sy as heersende stereotipes beskou, die nek in te slaan. Dis beleid daar (sy’t genoem dat sy gereeld met die omroepers/-sters daaroor praat) dat kundige bruines spesiaal uitgesoek word as gaste om die idee oor te dra dat die bruines en die wittes ewe slim is. Niks fout daarmee nie; dit is so.

Maar nou werk dit ongelukkig ook so dat die stereotiep gevestig en versterk word dat die Kapenaars omtrent nie twee woorde agtermekaar kan sê sonder om ’n Engelse woord in te gooi nie. Partykeer slaat hulle sommer met hele sinne oor Engels toe. Ek kan op die helfte van my een hand se vingers tel hoeveel van byvoorbeeld Lynette Francis se gaste nou regtig Afrikaans gepraat het; Danny Titus en Christo van der Rheede was twee van hulle.
Dit beklemtoon maar net weer die idee dat sogenaamde Kaaps maar net slordige Afrikaans is.
Jan Rap

  • 5

Kommentaar

  • Beste Jan,
    Nog steeds jou mes in vir Kaaps? Dis histories nie korrek om te sê Kaaps is slordige Afrikaans nie. Kaaps is eintlik slordige Nederlands. Afrikaans is gesuiwerde Kaaps: alles wat lyk en ruik na Engels is daaruit verwyder. Die vermenging van Afrikaans en Engels wat jy beveg, is nie Kaaps nie. Dis moderne "gesuiwerde" Afrikaans wat deur Engels beïnvloed word.
    Groete,
    Angus

  • Beste Angus
    Wat jy hierbo sê oor Kaaps en Afrikaans is waarskynlik waar maar ek het nie van Kaaps hier gepraat nie; ek praat van Afrikaans wat met Engels vermeng word en dit gebeur die hele land deur maar veral in die Kaap.
    Groete
    Jan Rap

  • Beste Jan,
    Ek het maar net kommentaar gelewer op jou laaste sin: "Dit beklemtoon maar net weer die idee dat sogenaamde Kaaps maar net slordige Afrikaans is."
    "Beklemtoon maar net weer..." is hier sinoniem met "bevestig". Buitendien, 'n slotsin vat mos maar saam wat jy eintlik wou sê, nie waar nie? Dat jy van Kaaps gepraat het, kan jy nie ontken nie.

    Dar is 'n verskil tussen Kaaps wat Engelse woordeskat bevat, en Afrikaans wat Engelse woorde in sy woordeskat het en nog steeds bykry.

    Tale het geen grensdrade wat keer dat dat die kalwers nie heen en weer wegloop nie.

    Groete,
    Angus

  • Beste Angus
    Oukei Angus daar het jy my. Maar, ter versagting, in die nie te verre verlede nie het jy (en Dirk Rigter as ek dit nie mis het nie) spesifiek 'Kaaps' verdedig deur die Engelse woorde daarin te regverdig, dit sou nou beter kommunikeer volgens jou.
    Terloops. tale het wel grensdrade; mens noem dit grammatikaboeke. Nie baie styf gespan nie moet ek toegee maar dit verhoed darem 'n stormloop oor die grense heen.
    Groetnis
    Jan Rap

  • Beste Jan,
    Ek verdedig niks nie. Ek beskryf maar net wat daar is, en wat ek hoor. Vir my is Engelse woorde in Kaaps of Afrikaans lelik. Dis egter na my persoonlike smaak en mening, maar persoonlike smaak kan nie die norm wees nie. Natuurlik kommunikeer Kaaps beter met die Engelse woorde daarin. Haal al die Engelse invloed uit Kaaps en Kaapssprekendes sal skaars met mekaar kan gesels. As jy met 'n fynkam AL die Engels uit Afrikaans haal, sal ek en jy beswaarlik iets vir mekaar iets kon sê.

    Dis juis die grammatika wat die slapperige grensdrade wat daar nog was, verwyder; veral die moderne linguistiek en veral vanaf Chomsky en sy Universal Grammar: in die dieptestruktuur is alle tale een, dis slegs in die oppervlaktestruktuur dat hulle van mekaar verskil.

    Groete,
    Angus

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top