Steeds vir Varkspek oor sy 'nuttige Engels'

  • 0

Varkspek, ek wou nog een en ander byvoeg maar ek was haastig en het toe vergeet.

Nog 'n bewys van die ingeprentheid van Engels by ons Boere is die praktyk om die Engelse vertaling van vreemde woorde te gee. 'n Inbeller nou die dag, na aanleiding van die omroeper se opmerking oor haar uitsonderlike naam, sê sy "Ja dis Russies, dit beteken 'everlasting joy'." Hoekom nie 'ewigdurende vreugde' nie?

Dit gebeur male sonder tal dat die Engels vir 'n vreemde naam of uitdrukking gegee word. Ook aanhalings van nie-Engelse soos Plato, Aristoteles, Nietzsche, Mao, Boeddha, noem maar op, word in Engels gegee. Daar is selfs ouens wat, as hulle die Bybel aanhaal, is dit 'n Engelse aanhaling kan jy glo.

Dan is daar nog die verskynsel dat Afrikaanse mense Engelse woorde op Engels uitspreek in Afrikaans waar Engelse mense Afrikaanse woorde aanpas om by Engels aan te pas wanneer hulle Engels praat. Die eienaardige ding is dat die Afrikaanssprekendes OOK die Afrikaanse woorde verengels wanneer húlle Engels praat. 'n Afrikaanse ou met die naam, sê Gert Myburgh, sal byvoorbeeld homself aan 'n Engelssprekende voorstel as Ghût Maaibûgh. Daar is 'n gereelde inbeller wat dit as 'n opdrag beskou om die mense te vertel daar is nie 'n plek soos Port Elizabeth (Afrikaanse uitspraak) nie, dis Port Elizabeth (Engelse uitspraak). Ek wonder of hierdie ou dan ook vir Engelssprekendes vertel dat daar nie sulke plekke soos Dzjouhennisbûgh, Pwetôwië of Klaaksdôp is nie maar wel Johannesburg, Pretoria en Klerksdorp. Ek twyfel, om die waarheid te sê, ek is seker hierdie ou, as hy Engels praat, spreek hierdie plekname uit soos die Engelse dit uitspreek.

Die Afrikaanssprekendes se pogings om Engelse woorde en name op Engels uit te spreek klink geforseerd en partykeer selfs lagwekkend. Hierdie verskynsel kom veral by omroepers voor. As jy Afrikaans praat en jy brei dan behoort jy logieserwys te brei as jy Engels (of Russies of wat ookal) praat. As jy nie brei nie en die 'r' op die gewone Afrikaanse (of Skotse) manier uitspreek dan SÊ jy die 'r' soos in Afrikaans of soos die Skotte wanneer jy Engels praat anders klink dit uiters aangeplak.

Die ergste is wanneer Afrikaanssprekendes anderstalige woorde (soos Italiaans of Spaans) op die Engelse manier uitspreek waar die Afrikaanse uitspraak van hierdie woorde oor die algemeen presies soos in die ander taal is. Daar was 'n TV-program waar die programleidstertjie van 'papawazi' gepraat het in plaas van 'paparazzi'. 'n Omroeper spreek nou die dag die van Ueckermann uit as joekermin kan jy dit nou oorvertel.

Dit is huilwekkend.

Groetnis

Jan Rap

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top