Steeds besig met Angus oor Afrikaans

  • 0

Dag Angus

Jou brief van gister verwys.

Jy skuld my antwoorde en verduidelikings op die brief van my wat jy gister geantwoord het; dit help nie jy sê net dat jy na my brief verwys en dan vra dat ek konsekwent moet wees nie. Byvoorbeeld, ek het vir jou gesê jou stelling dat volgens "Jan Rap se taalteorie" Afrikaans vir Nederlands oorgeneem het hier is onsin; ek het nog die analoog van die papie en die skoenlapper gebruik om aan jou te verduidelik dat iets wat voortvloei uit iets anders nie geag kan word as dit 'oorgeneem' nie.

En vertel tog waar jy reken ek nie konsekwent was nie dat ek kan verskoning aanteken en regmaak.

Ek dink jy's reg wat jam betref naamlik dat hy naas konfyt bestaan. 'n Oom van my het beweer dat jam is fyn (wat die Amerikaners jello noem) en konfyt het stukke in, soos stukke vy of waatlemoen of wat ookal. Hierdie einste oom het ook beweer porridge is slap pap waar pap stywe pap is. Ek weet nie so mooi wat dit betref nie.

Hoe dit ookal sy, jam en porridge was leenwoorde in daardie oom van my se woordeskat; dit was omtrent al Engelse woorde wat hy geken het (Swazi was sy tweede taal, eintlik sy eerste taal sou ek sê). Hulle het leemtes vervul vir hom, dit was woorde spesifiek vir fyn konfyt en slap pap. Gatlekwoorde sou introduce, innocent, involve ens gewees het want dit vul geen leemte nie, sy woorde vir daardie begrippe was voorstel, onskuldig en betrek.

Laat ek dit weer stadig sê: Leenwoorde vul 'n leemte en word noodgedwonge gebruik, gatlekwoorde word gebruik in die plek van bestaande woorde om moedswillig of gedienstig te wees (of natuurlik weens gebrekkige taalkennis by tweedetaalsprekers maar dan is dit natuurlik nie gatlek nie). Dit is vir my verbysterend dat jy dit nie in jou uitgebreide studie agtergekom het nie.

Jy skep 'n valse indruk met die noem van al daardie tale in jou tweede paragraaf: Afrikaans is nie 'n mengsel van al daardie tale nie alhoewel woorde uit daardie tale in Afrikaans opgeneem is. Daar is so iets soos graadverskil en verhoudings; jou stuk vleis met sout en peper op is nie 'n mengsel van ewe veel vleis, sout en peper nie.

Ek sien jy merk op teenoor Wouter dat daardie stuk drekafrikaans van F Marx (Willie) lees vloeiender as die vertaalde stuk drekengels en jy wonder wat aangaan. Dis voor-die-hand-liggend Angus; jy's gewoond aan drekafrikaans maar nie aan drekengels nie, die Engelse praat eenvoudig nie so nie want hulle vind dit nie nodig om Afrikanergatte te lek nie; jy hoor dit dus nooit nie. Drekafrikaans, aan die ander kant, hoor jy dikwels want die Afrikaner trap so graag sy eie bril stukkend (vgl Woody Allen in Grab the Money and Run).

Mens kan maklik aan iets gewoond raak. Toe ek klein was, voor ek koshuis toe gegaan het was my pa en ma se susters my anties, 'tannie' was vir my vreemd en snaaks. Vir my kinders is antie weer snaaks en nou vir my ook. Op die manier kan jy gewoond raak aan drekafrikaans en naderhand klink dit vir jou normaal, veral as almal dit verdedig en bevorder.

Terloops, jy sê die Hollanders het Afrikaans 'n kombuistaal genoem. Hulle doen dit nog steeds maar op 'n ander wyse; hulle noem dit 'kinderlijk Nederlands'. Ek onthou nog hoe onthuts was die Hollander by die klub toe ek saamstem en vir hom sê op dieselfde manier is Hollands 'kinderlijk Duits' as mens die vereenvoudigde grammatika in aanmerking neem.

Groetnis

Jan Rap

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top