ek kyk op na jou
daar waar jy staan
verewig teen 'n berg, dag en nag
eeuelank, uit vroeë tye hou jy reeds wag
met jou hoof geboë in swye
en arms wat wyd reik oor die baai.
wat dink jy in jou eensaamheid
in wind en weer,
vasgevang in tyd?
ikoon van 'n vasteland,
simbool van vrede
wat sien jy vanuit jou hoë stand
in die oord wat jy beset
reeds vir soveel jare lank?
het jou visie verskuif tot die hede
gewysig soos geboue verrys
die landskap verbou
en die mensdom ontvou?
ons gun jou geen nag
baai jou snags geluidloos in lig
jou besnede kop klief bedags stil
deur die asuur van die lug
ek bekyk van naderby jou gesig
tuur dringend na jou blik
wat blindelings in die niet staar –
die oogbank kil in seepsteen gehul
met geen iris of pupil –
en sien net die fungus
mos en patina
in die krake van jou statuur.

