Springsteen in die Stadium of Light – Sunderland 21 Junie 2012

  • 1

“Staan in pit; dis nág!” sms ek vir Wynand. “Bevange!”* My jong vriend, self ‘n bekwame musikant, se reaksie kom binne minute. Vandat ek en Alta verlede November ons ongereserveerde staanplekkaartjies vir die Springsteen show in Sunderland se Stadium of Light gekoop het, het ek begin droom van ‘n plekkie voor, téén die verhoog. In die pit, of Golden Circle soos dit hier bekend staan.

Maar ek het vrae gehad; hoe lank voor die tyd moes mens by die stadion opdaag? Is ek bereid om voor die stadion te slaap as dit nodig is? Wat as dit in die nag reën? Wat sal my chiropractor daarvan sê as hy hoor dat ek so ‘n wilde nag oorweeg? En, hoeveel kos ‘n goeie slaapsak in Ponde?

Iewers op pad het ek vrede gemaak met die feit dat slaap voor die stadion nie ‘n opsie is nie. Dit het steeds maar onregverdig gevoel omdat ons oor ‘n kontinent hierheen gereis het en dat daar, as ek realisties wou wees, ‘n besliste moontlikheid bestaan dat ek agter ‘n klomp lang mense sal opeindig en net na die musiek sal kan luister. Ek sou wel na die groot skerms kon kyk, maar daarvoor kon ek netsowel op ‘n gemaklike stoel gesit het

Die pit was dus voorop in my gedagtes toe ons net ná half-tien en ‘n stewige Engelse ontbyt - wat Black Pudding ingesluit het – in die reën weg is by die B&B. Net voor half-elf het die bus voor die Stadium of Light gestop en begin die lang dag en lang wag.

Ek was nie bekend met die pitreëlings nie. Ek het ‘n YouTube-clip gesien waarin ‘n meisie op en af spring en na ‘n handgeskrewe nommer op haar arm wys, wat my laat aanvaar het dat nommers wel toegeken word en as jy ‘n nommer het, jy voorlangs sal opeindig. Ons het in die korterige ry by die stadioningang geval en ons nommers – 467 en 468 – ná ‘n ruk se wag in die reën by twee jong organiseerders onder ‘n groot sambreel gekry. Ons name is op ‘n clipboard neergeskryf en ons moes weer teen twaalfuur incheck. Teen hierdie tyd was my denimbaadjie al goed nat. My travel poncho, behalwe dat dit die toppunt van zef was - dit het soos ‘n wit asbliksak met gate vir moue gelyk - was nie baie effektief nie.

Ons het rondgedwaal en na die groot trokke met nota’s soos “Tech Lights” op hul voorruite geplak agter die stadion gaan kyk. Twaalfuur is ons weer ry toe en het met die riemtelegram by ander fans gehoor dat ons eers drie-uur moes terugkom vir ‘n incheck. Nie een van die organiseerders in een van die rye waarin ons gestaan het, het ‘n megafoon gehad nie – iets wat ek onverklaarbaar vind. In elk geval, hierdie was die ideale tyd om ‘n pub te gaan soek, vir ‘n uur of wat te sit en sjerrie (Alta) of ‘n pint of twee Guinness (ek) te drink. Ons het nie te lank in die Colliery Tavern vertoef nie, want ek was nie seker of ek die pitproses vertrou nie – níe dat ek heeltemal geweet het wat aangaan nie.

Teen vier-uur was ons in ‘n tweede ry ingeorganiseer en het ons ons rooi polsbandjies gekry: Toegang tot die pit. Ek het iewers gelees dat die pit plek vir sowat driehonderd mense het en die feit dat ons met ons hoë nommers daar ingekom het is te danke aan Alta en haar lang bene en haar jare se stapoefening. Toe die hek oopgemaak word en ons ingelaat word het sy haar haar treë gerék en vir ons ‘n kleim in die derde ry van voor afgesteek.

Dis hel in die pit. Ek is iemand wat nie in die middel kan sit nie, nie eers tydens vergaderings by die werk nie. My personal bubble is te groot, om die minste daarvan te sê. Hier sit mens nie en moet mens jou staan ken, mense druk deurentyd teen jou aan. Maar jy plant net jou voete en druk, subtiel, terug. Ons het twee ure só gewag vir die show om te begin en dit was makliker as ek wat ek gedink het dit sou wees: die ervaring was na alles groter as my persoonlike borrel.

Dis hemel in die pit. Die fans was oor die algemeen vriendelik en nugter. Die grootste groep fans om ons was middeljarige mans maar skuins voor my was ‘n bloedjong ou wat elke woord saamgesing het, vuis in die lug. Langs my was ‘n tienermeisie met piercings en pienk hare wat benoud vir my gesê het “I’ve lost my dad!” Sý was die fikser een wat moes máák vir ‘n plek en haar pa in die proses verloor het. Dit was lekker om te sien hoe hy haar kry, haar ‘n drukkie gee en hoe hulle die show saam geniet; altwee singend.

Ek gaan nie eers probeer beskryf hoe dit gevoel het toe die E Street Band op die verhoog uitgestap kom nie, Bruce laaste. Hulle het met Badlands geopen en dis toe dit gebeur het: my skouers wat begin ruk en snikke wat ek vinnig moes sluk, voordat dit buite beheer raak. Ek is ‘n sentimental fool en die oomblik was vir my amper te groot; die droom, die maandelange uitsien en voorberei en oor en oor luister na Springsteen se musiek, die weer en weer kyk na live video’s was skielik op ons, dit was werklik. Híer staan die magtige E Street Band, híer sing Springsteen en híer is die passie en energie wat jou elke keer oorrompel. Hier bý jou.

Hy was op stadiums so ná aan ons dat ek die lagplooitjies om sy oë kon sien. En hy sou my grimeringlose oë (maskara afgewas na reën en trane) ook kon raaksien – en hopelik kon sien hoe dit geblink het!

Daar was ‘n klomp hoogtepunte (eintlik is die show een groot hoogtepunt) maar ‘n oomblik wat my gegryp en emosioneel gewurg het was die alto lamentasie waarmee Springsteen The River, sy liedjie oor tienerliefde, tienerswangerskap, tienertroues, die hopelose en uiteindelike uitsiglose werkersklasbestaan, afgesluit het. Die harteleed in daardie stukkie musiek was so diep dat dit amper onmoontlik was om daarna te luister sonder om net daar te gaan sit om nooit weer op te staan nie.

Springsteen gee mens darem altyd hoop ook, al is dit nie in die vorm van jubelsange nie (hierdie tipe opgeruimde liedjies vertrou ek in elk geval nie, ek ervaar dit meesal nie as nie solied nie). Die hoop wat hy gee gebeur binne ‘n realistiese raamwerk: die lewe is nie ‘n piekniek nie, dis hard, dis nie regverdig nie, ons sit in die dood se skaduwee. Maar daar is oomblikke in die lewe van onbeskryflike liefde, vriendskap en grootsheid, oomblikke wat jy jouself kan oortref en verras en dus oomblikke wat wat jy nie durf mis nie. Jy moet oop wees daarvoor want dit is wat die lewe kosbaar maak.

Ek het nog altyd gesê jy sal my nie sommer in ‘n Baptistekerk vang, hande in die lug en jubelend aan’t singe nie (op skool het ons hierdie mense wat so meegevoer geraak het die “happy clappies” genoem). “Ek is nie so demonstratief nie.” Onwaar. Ek is! Dis net dat die musiek by die Baptiste nie goed genoeg is nie het ek in Sunderland besef, want hier het ek vir die drie ure wat die show geduur het met my vuis, of arms in die lug gestaan en saamgesing, saamgehop, saamgedans, saam stilgestaan.

Van gospel gepraat: Land of Hope and Dreams is ‘n gospelliedjie en my laaste paar Sunderlandtrane is hier gehuil:

Well, this train carries saints and sinners
This train carries losers and winners
This train carries whores and gamblers
This train carries lost souls
This train carries broken-hearted
This train, thieves and sweet souls departed
This train carries fools and kings thrown
This train, all aboard

Persoonlik ervaar ek hierdie lied nie soseer as ‘n gospelsong nie, maar eerder toepaslik op die Springsteen aanhangergemeenskap. Dis wonderlik om deel van hierdie gemeenskap te wees en almal is welkom op hierdie trein want hier het ons almal, die saints en sinners, die losers and winners, die whores, gamblers en lost souls, een ding in gemeen: sy musiek. Hier is ons gelyk, ons deel liefde vir die musiek, respek vir die krag daarvan, bewondering vir een van die grootste storievertellers, helers en musikante van ons tyd.

And long may it last.

* Wynand het nie “Bevange!” gesê nie, hy’t “Befok!” gesê!

Nadia de Kock

 

 

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top