'Spiere onder die vel van die alledaagse' - André P Brink se 'n Vurk in die pad

  • 0

Titel: ’n Vurk in die pad
Outeur: André P Brink
Uitgewer: Human & Rousseau
ISBN: 9780798149969
Prys:
R248

 

I

Ek het André P Brink se boeke ontdek toe ek in die destydse standerd 6 was. Dit was 1988. Die eerste boek was Kennis van die aand (1973). Ek was ’n strydlustige, argumentatiewe jong seun, veral oor politieke sake, en my ma het dit goedgedink om hierdie eertyds verbode roman, wat sy glo in die vroeë 1970's skelm en in bruin oortrekpapier te lees gekry het, aan te beveel.

Nodeloos om te sê was Kennis van die aand nie net ’n soort versnelde politieke skoling nie. Dit was, laat ek dit maar erken, ook ’n erotiese openbaring. Die boek kon die titel gedra het: “Wat seuns regtig moet weet ...” (Miskien nooit (1967) was, terloops, net so nuttig in hierdie verband, en ek kan dit nou nog nie oor my hart kry om iets negatiefs daaroor te sê nie!)

So het ’n lang, gelukkige leesverhouding dus begin. Kort nadat ek Kennis van die aand gelees het, het ek ’n ligte griepaandoening misbruik om twee dae by die huis te bly en die pragtige ’n Oomblik in die Wind (1975) te lees, en ek onthou ook dat ek op ’n keer amper ’n eksamen (bedryfsekonomie, van alle dinge) gedop het omdat ek die naweek toe ek daarvoor moes leer, Die muur van die pes (1984) net nie kon neersit nie.

En dit was nie ’n leesavontuur wat tot my skooldae beperk gebly het nie. Brink publiseer nou al ’n halfeeu lank boeke, en steeds lewer hy werk wat kan verras en ontroer, soos die meer onlangse Bidsprinkaan (2005), een van sy beste romans.

Waarvoor Brink dus staan, in my eie biografie, is ’n reeks eerste kennismakings: met die letterkunde; met ’n Europese kultuurmilieu; met die eksistensialisme; met ’n ander idee van wat Suid-Afrika was en kon wees. En dit is hierom dat ek heel gretig was vir nog ’n verdere kennismaking, hierdie keer, hopelik, met die skrywer self.

II

En ek was nie teleurgesteld nie. Wat Brink nog altyd onderskei het, selfs in sy minder geslaagde romans, is dat hy ’n natuurlike storieverteller is. Brink weet hoe om momentum te gee aan ’n storie, om daardie narratiewe energie op te wek wat dit moeilik maak vir ’n leser om ’n boek neer te sit. Hier is hy weer op volle stoom.

’n Vurk in die pad is ’n reeks herinneringe, of ’n reeks konfrontasies met herinneringe, nie ’n poging tot ’n sistematiese outobiografie nie. Brink bied nie ’n chronologiese oorsig van sy lewe nie. Die onderskeie hoofstukke ondersoek verskillende temas (byvoorbeeld geweld en rassisme), liefdes (byvoorbeeld Parys en Ingrid Jonker) en gebeurtenisse (byvoorbeeld die studenteopstande in 1968 en die verbod op Kennis van die aand), en daar is dus tydperke en fasette van sy lewe wat glad nie ter sprake kom nie. Dit is nie ’n nabetragting nie; dit is nie die boek van ’n man wat afstand doen nie. Dit is eerder ’n boek wat in die stroomversnelling van ’n nuwe begin, by ’n nuwe vurk in die pad, en in die teken van ’n hernude betrokkenheid by die lewe – hier versimboliseer deur Brink se onlangse huwelik met Karina, aan wie die boek nie net opgedra is nie, maar aan wie die vertelling inderdaad gerig word – tot stand kom. In daardie opsig doen Brink sy woord gestand:

Ek het nog altyd vasberade geweier om toe te gee aan uitgewers en vriende en vreemdelinge se versoeke oor die jare om ’n outobiografie te skryf. Ek het nog altyd ongemaklik gevoel oor die kunsmatigheid en selfgesentreerde van so ’n onderneming. Bowendien is my lewe gevorm deur soveel mense wat ’n gedeelte van die reis saam met my afgelê het en wie se vertroue ek nie kan of wil skend nie. Die private en persoonlike aard van daardie gedeelde reise, soms kort en eenvoudig, soms lank en baie ingewikkeld, behoort tussen ons te bly. Op die eenvoudigste vlak stel ek gewoon nie belang in “kiss-and-tell” nie. (p 475)

In die gedeeltes oor sy jeug fokus Brink spesifiek op sy gewaarwording van die geweld, soms eksplisiet, maar meer dikwels "gedemp", wat onderliggend was aan die Suid-Afrikaanse leefwêreld van daardie tyd: "spiere onder die vel van die alledaagse" noem hy dit. In hierdie opsig is daar ooreenkomste met Elsa Joubert se outobiografiese roman, ’n Wonderlike geweld (2006). Trouens, wat die hantering van hierdie motief van ’n onderliggende, amper strukturerende geweld betref, is Joubert se boek, juis omdat sy haar jeug soveel meer gedetailleerd en romanmatig aanbied, meer geslaag. Maar Brink bied nogtans ’n intieme, soms roerende beeld van die wêreld waarin hy grootgeword het, en veral van sy verhouding met sy vader.

Heelwat lesers sal die boek seker wil lees vir Brink se herinneringe aan Ingrid Jonker. So baie is al oor hulle verhouding gesê, en Jonker is al in so ’n mate vermitologiseer, dat ’n mens amper twyfel of dit moontlik is om nog ewewigtig oor haar te skryf. Brink kry dit wel reg. Sy herinneringe aan Jonker en hulle verhouding ontroer juis omdat dit met deernis (vir haar, maar ook vir die jong man wat hy toe was) omgaan met die doodgewone menslikheid en kompleksiteit van die gegewe. Hy roep beide die uitgelatenheid en die wanhoop van die verhouding op, beide die kreatiewe en vernietigende effekte daarvan.

Maar Ingrid Jonker oorheers nie die boek nie, en daar is baie ander redes om dit te lees. Brink is geseën met ’n rykdom van ervarings en verhoudings, en hy bring hier hulde aan die mense, plekke, kunstenaars en skrywers wat sy lewe gevorm het en saam met hom gereis het. Ek het veral sy herinneringe aan die 1968-studente-opstande geniet – is hierdie gebeure al vantevore in Afrikaans beskryf deur iemand wat self daar was? Dit is ook met betrekking tot 1968 dat Brink ’n stelling maak wat nie net op hierdie gebeure van toepassing is nie, maar ’n eintlik ’n soort sleutel tot sy hele oeuvre is:

[D]ie wete dat niks ooit heeltemal verlore is nie, dat die onmoontlike kán waar word, dat die mees openlike politieke daad ook die intiemste kan wees. Die egalige gedreun en geteem van die alledaagse kan dit tydelik smoor of demp, maar nie uitwis nie. Uiteindelik kan dit nooit ontken word nie. Ons sal altyd bly weet: Dit was daar. Dit het gebeur. En omdat dit eenkeer gebeur het, kan dit weer gebeur. Miskien nie op heeltemal so ’n dramatiese of gewelddadige manier nie, maar steeds as ’n teenwoordigheid in die gemoed, ’n klein gloeiende kooltjie teen al die winde van die wêreld. (pp 326-7)

Minder bevredigend is die hoofstuk waarin Brink sy pen opneem teen die ANC-regering en die toestande, veral wat geweldsmisdaad betref, in die hedendaagse Suid-Afrika. Dit is nie dat ek verskil van Brink se lees van die situasie nie, of dat ek nie sy bereidwilligheid om kritiek te lewer bewonder nie, maar ek is nie seker hierdie boek is die beste plek vir so ’n uitgebreide relaas nie. So baie van Brink se inventaris van die stommiteite en vergrype van magshebbers en kriminele – dikwels is hulle een en dieselfde mens – in die hedendaagse Suid-Afrika is vir die gewone Suid-Afrikaanse leser algemene kennis. Brink kon gerus hier gesnoei het en die ruimte gebruik het vir die baie aspekte van sy verhaal wat hy agterweë moes laat.

III

Brink is natuurlik ’n uitstekende komiese skrywer (gaan lees gerus weer sy humoristiese kortverhale) en in hierdie boek maak hy ruimskoots gebruik van daardie talent – soms ook ten koste van homself. Maar die humor is maar een dimensie van ’n baie breë emosionele register. Verwag dus ook vreugde en hartseer, opstandigheid en woede, hoop en verlies, en – sekerlik een van Brink se hebbelikhede – ’n neiging om soms ietwat sentimenteel te raak, veral oor jong liefde ...

Waarvan die boek egter redelik vry is, is enige vermoeiende obsessering met oudword of sy eie sterflikheid. Anders as Simone de Beauvoir, wat ouerword in een van haar memoires (toe sy maar in haar 50's was ...) uitbeeld as ’n soort vernederende nederlaag, skakel Brink homself nie uit as ’n vitalistiese, betrokke deelnemer aan die lewe nie. Dit is nie dat Brink wegskram daarvan om verlies en die dood vierkant in die oë te kyk nie. Sommige van die mees ontroerende gedeeltes in die boek handel dan ook oor die voortydige dood van goeie vriende. Maar in Brink se benadering word die lewe net soveel deur geboorte as dood gekenmerk, net soveel deur dit wat nog kan wees as dit wat reeds was. Hy kom dalk in verset teen die onregte van die tye waarin hy leef, maar dan juis omdat hy intens daarby betrokke bly. Hy posisioneer homself nie buite die tyd deur nostalgies toevlug te neem tot die verlede of bloot fatalisties te kyk na die toekoms nie.

Hierdie ingesteldheid word dalk die beste vervat in die woorde waarmee Brink vir Edith Piaf huldig: "die stem van die lewe self, wat weier om te sterf, weier om stilgemaak te word, die stem van die mensdom, onuitroeibaar, onuitdoofbaar" (p 182).

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top