Sonder vonk met vonk

  • 0

Ons soek en ons ry rond - op soek na 'n renoster. Aan die suide van die pan was die leeus wat gejag het, die reuse-olifantbul in wit modder het beïndruk, maar nou wil ons graag 'n regte egte renoster sien, ‘n swarte as dit kan.

Om die volgende draai verskyn sy uit die niet – ‘n doodluiterse swartrenosterkoei.

Gaste hang oor die kante van die safarivoertuig. Almal het kameras. Groot kameras, klein kameras, lang lense, kort lense, selfs selfoonkameras. Groot tevredenheid kom lê oor my en ons beweeg stadig teen die bult uit om haar te volg en elke moontlike foto te bekom. My tevredenheid is van korte duur, want skielik gee die voertuig 'n allemintige snik en gaan steek viervoet vas. Ek is nie bekommerd nie, want ons staan teen 'n bult, en dis maklik. Haal haar uit rat, maak die handrem los en binne sekondes behoort sy weer vuur te vonk – of dalk nie!

Die sleutel draai, maar nie eens 'n belofte van 'n liggie op die paneelbord verskyn nie. 'n Paar bokspringrukke is al wat sy kan optower, maar van vuur in die gaskamers is daar geen sprake nie. 'n Algemene uitdrukking van onrus kruip oor die gaste se gesigte en almal gryp na hulle selfone. Geen sein klink soos 'n doodsvonnis.

Die kalf in die put dwing my hoogtevreeslyf tot bo-op die voertuig se seilkap. 'n Enkel strepie op die selfoonnetwerk bring hoop. "Call failed" laat my moed sentimeter vir sentimeter in my skoene sak. Ek probeer weer.

'n Benoude stemmetjie van onder die seilkap laat my amper my balans verloor.

"There is another rhino on the other side of the vehicle, approaching us."

So wrintiewaar, met gespitste ore, gespitste lip en neus in die lug, beskou die oerdier my van agter 'n mopanie. Die oproep gaan deur, maar juffrou Ontvangsdame hoor my nie. Ek fluister na bowe waar ek die selfoon so hoog moontlik hou om die seinstrepie te behou. Sy besluit om af te lui, en daar gaan ons weer, skakel, hou die instrument so hoog soos ek kan en maak keel skoon. Hierdie oproep moet gevat word, starende renosters (weerskante onthou) of te not, hier gaan hulp gevra word.

“Ek sal kyk wat ek kan doen meneer, waar is julle?”

“Iewers in die bos op Elanddrive.”

Die son begin stuk vir stuk die nagkombers oor sy kop trek en renoster nommer twee het besluit hy/sy vertrou nie die vrede nie en vaar met 'n gedonder, kop omhoog en stert in die lug die bosse in. 'n Paar gaste begin weer asemhaal.

'n Moedige gas begin Pro-vitas uitdeel, en dit kners en kraak onder my van uitgedroogde koringkoekies, maar sit, sit ek op my troon tussen hemel en aarde. Die ligte flikker, die luitoon weerklink en sy kondig aan dat die wildbewaarders van Halali op pad is.

Onheilspellend steek die maan sy kop agter die bome uit, en die swartrenosterkoei wei haarself uit die pad uit. Op die horison gooi die reën ligte, maar dis baie ver. En dan breek die duister in die bosse voor ons. Drie gaste spring orent met flou flitsliggies en waai vir 'n vale.

"Here we are!" weergalm dit deur die donker nag. Ons is gevind maar nie geholpe nie, die springkabels is te dun.

"Hoe ver is ons van Halali af?" vra ek heserig.

“So 26 km meneer. Ons is nou terug.”

"Nou hoe maak ons as hier roofdiere kom?" waag ek dit.

"Ons los die een man met die geweer hier," en hy beduie na die koddige kort knapie met ‘n jaggeweer.

Die atmosfeer breek en vriendinne omhels mekaar en giggel histeries omdat ons nou veilig is.

Kort voor 11 breek die ligte weer deur die bosse … NWR se eie wildbesigtigingsvoertuig stop langs ons en ons laai gaste en halfgeëte skyfiepakkies en leë waterbottels oor. Nog 'n bakkie kom oor die bult, en ons haak vir toerkar en daar gaan ons die diep donkerte in. 'n Slagveld van dooie naguiltjies laat my besef hierdie manne het gejaag en geen naguil ontsien om ons so spoedig moontlik te help nie - ek het 26 in die pad getel!

'n See van oë begroet ons om 'n skerp draai en jong swartneusrooibokkies huppel in die koel van die nag op die grondpad en stamp kop en jaag mekaar. Moeders snork en takke kraak en skielik is die pad wyd en oop voor ons. Ek verbeel my ek hoor 'n paar gaste snork al hier agter my - die adrenalien het uitgewerk. Reg voor ons in die pad, verskyn twee honger leeuwyfies op 'n jagtog. Hulle is skynbaar nie bang vir die kar en die ligte nie. Hulle loop na ons toe. Samuel skakel die enjin af en ook die ligte. Hulle kom nader en stap stadig verby die voertuig. Ek sien Samuel se hand begin bewerig soek na die sleutel, my knypers se koppelaar wil-wil gly.

Ons draai by die hekke van Halali-kamp in, en ek haal diep en stadig asem. Moeg maar dankbaar. Daar is nie genoeg kamers vir almal nie, iemand moet deel. Dis net ek en die Duitser, sy vrou en ‘n nog paar jong dames. Mevrou Duitser verstaan vinnig en bied aan dat ek en haar man ‘n kamer kan deel. Ek is dankbaar vir mense met insig.

Wat aanvanklik lyk soos ‘n dubbelbed, skuif toe maklik uitmekaar in twee enkelbeddens. Die hele voorraad bier is deur my kamermaat in groot slukke verorber en ek wonder oor die rekening.

Die slaap was haastig op my, maar nie voordat ek dankbaar kon wees vir die voorreg om in die hart van Afrika na die polsende ritme van haar liefde te kon luister nie. Ek het binne die voertuig ook in my hart gereis. Die Duitser snork al toe ek my omdraai en die slaap naderwink, in die arms van my Moeder, met ‘n vonk in my moeë lyf.
 

Lees hier meer oor die reisskryfkompetisie: 1 001 reiswoorde

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top