Die trein kreun en kraak en wieg teen die berg op. Die skreeugeluid, asof die remme aan is, klink soos ’n geweeklaag van iemand wat ‘n seerkry diep in hom ronddra. Soos ek.
Dit is Desember, twee dae voor Kersfees. Ons het gister in Zürich, Switserland, geland. Met die eerste probeerslag het die kaptein gewaarsku dat die sneeu op die aanloopbaan dalk te dik gaan wees en dan gaan hy weer opstyg. Daar het ‘n doodse stilte geheers en almal het asem opgehou toe hy inkom vir die landing. Toe hy land en die sneeu trek soos wasem by die vensters verby, het al die passasiers spontaan vir hom hande geklap. Seker uit verligting.
Ek kyk na Peet wat oorkant my sit. Sy oë toe. Sy selfoon in sy bosak, seker weer met die klank af. Ek het geleer om ’n selfoon met ’n passie te haat. Die selfoon wat hom die hele tyd aan Anci verbind. Anci met haar lang verleidelike lyf wat heeldag saam met hom op kantoor is terwyl ek moet werk en wonder. Hierdie is ons regmaakvakansie, ons vergeet-van-Anci-vakansie. Romantiese ski-vakansie in Kaprun, Oostenryk. Ons het dit al so lankal beplan en opgewonde alles bespreek. Dit was voor Anci vir hom so mooi geword het.
Die trein kreun weer. Die tandratstelsel in Switserland is uniek. Dit werk amper soos ’n ketting waarin die trein haak en dan word die trein teen die berge uitgetrek. Ek kyk deur die wasem wat my eie asem op die venster laat na die dorpies daar ver onder. Dit is asemrowend mooi. Die spierwit sneeu l? dik op elke dak terwyl die rook uit die skoorstene borrel. Kan daar ook seer in hierdie mooi sprokieshuisies wees? Miskien ook ’n Anci wat die sprokie aan skerwe wil breek? Geslaglose figure loop hier en daar deur die sneeu met stewels, serpe en hoede. In hierdie koue is ’n serp, handskoene en ’n hoed onontbeerlik. Dit het ek agtergekom toe ek op Zürich se Hauptbahnhof vinnig vir my ’n hoedjie moes koop. My ore wou van die koue afval.
Die lughawe in Zürich is baie gerieflik. Die trein vertrek uit die lughawegebou na die hoofstasie in die hartjie van Zürich. In Europa is die treinstasies lewendig, die aar van die dorp waar almal bymekaarkom. Zürich se hoofstasie is ’n belewenis. Daar is stalletjies, want dit is twee dae voor Kersfees. Ons koop warm glühwein by die een en ’n broodjie by die ander en verwonder ons aan die Kersboom in die hoofgebou wat verdiepings hoog uitreik na die koepel van die stasie. Elke trein is dodelik stiptelik en vertrektyd gaan die deure geluidloos toe en daar trek die trein. As jy nie op is nie, bly jy agter. Ons trein het volvloermatte en glasskuifdeure tussen die waens. Binne is die treine en stasies verhit. Op die perron van een van die klein dorpies waar ons vroeër gestop het, was ’n verhitte glashokkie waarin jy kan staan en wag vir die trein. Hierdie mense is so goed ingerig teen die ysige weer. Die horlosie en termometer op die stasie het netnou gewys dit is -17 grade Celsius!
Ek en Peet verkyk ons aan die sneeu en die mense en honde wat dit buite waag. Ons drink die landskap in soos die berge om ons meer en hoër raak. In die winter word dit hierbo in die Alpe baie vroeg al donker. Wanneer ons trein geluidloos op die stasie in Kaprun in Oostenryk stop, huur ons ’n taxi om ons na ons woonstel, Marco Polo Club Happy, te neem. Dankbaar en moeg ná die lang vlug uit Suid Afrika klim ons vroeg in die bed.
Ek word op 24 Desember wakker en stap na ons woonstel se balkon. Ek trek die dik gordyne oop en die uitsig slaan my asem weg! So ver as wat my oë kan sien, is daar die een wit bergpiek ná die ander. Die son verf goue strepe in die sneeu en die wit wolke vleg tussen die pieke deur soos wit rook wat van agter die berg geblaas word. Sneeuvlokkies val soos veertjies uit die lug. Ek stap op die balkon uit terwyl ek na Peet roep om te kom kyk. Die ligte sneeuvlokkies val op my gesig en my hare en bly daar lê, te koud om te smelt!
Vir die eerste maal in baie weke voel my hart lig en ek lag en slaan my arms om my man. Ons het gekom om te gaan ski, so vandag gaan ons dit aandurf.
Ons trek aan en eet ’n ontbyt in die eetsaal: gekookte eiers, vars warm brood en kaas en stomende koffie. Dan stap ons deur die dorpie Kaprun na die ski-helling. Daar is ’n riviertjie wat deur die dorpie kronkel, met bruggies oral. Ek is verbaas om te sien dat die rivier nie gevries is nie. Blykbaar vries dit wel, veral in Januarie, wanneer dit hier die koudste is. Die perdekar wat by ons verby ry, het toeriste in wat warm onder ’n karos toegemaak is. Die perde het klokke om hul nekke en mens hoor hulle ver al aankom. Oral is eetplekkies en winkeltjies. Dit wemel van mense wat met ski's op hul skouers rondloop. Ons stap na die winkel waar ons ski's en ski-stewels huur en val in die ry by die skihyser. Ons begin by die laagste helling. Ons het klasse gaan bywoon by die Springbok-skiklub in Suid Afrika, maar hier ski die kindertjies al vandat hulle kan loop, so ons besef ons sal nooit goed kan raak daarmee nie, daar is nie genoeg tyd nie. Om nie te val nie, is ons mikpunt.
Die skihyser wat ons gebruik, is ’n lang paal wat aan ’n band vas is wat aanmekaar beweeg. Onder is ’n ronde platvormpie wat jy tussen jou bene vasknyp terwyl jy teen die ski-helling opgetrek word.
Daarna ski jy teen die helling af en begin die hele proses weer van voor af. Ons kom reg met die eerste probeerslag en geniet alles. Ons lag en neem mekaar met die videokamera af. Nou en dan val een van ons, maar staan maar weer op en probeer weer. Etenstyd eet ons stomende borde pasta en drink warm koffie.
Laatmiddag is ons een van die groep mense wat met die ski's oor ons skouer huis toe stap. In die middel van die dorpie is ’n oop plein en ons hoor musiek en mense. Ons kom af op ’n kroeg met stoele wat buite in die sneeu onder sambrele staan. Die sambrele het ingeboude verwarmers en almal lag en gesels en drink glühwein. Ons ook. Glühwein word gemaak van rooiwyn en speserye soos naeltjies, kaneel, kardemom en suiker. Dit word warm bedien. Oral aan die kante is verwarmers met nagemaakte vlamme wat wapper in die wind wat hulle uitblaas. Die atmosfeer is ongelooflik. Ons kuier tot laataand en teen -21 grade stap ons die laaste twee blokke na ons woonstel en ’n warm bad met stomende pizzas in ons hande. Hierdie Oukersaand sal ons altyd onthou.
Kersoggend word ons wakker, seer en styf van al die ski. Dit sneeu swaarder en ons besluit om 10 km van Kaprun af na Zell am Zee te gaan. Voor ons woonstel kry ons ’n bus wat ons daarheen neem. Zell am Zee is groter as Kaprun en om ’n groot meer gebou. Dit beteken “plek by die meer”.
Ons stap deur die dorpie. Oral is daar skiërs en ons kan van die dorpie af sien hoe die mense teen die hoë hange af ski. Die meer is gedeeltelik gevries. Blykbaar ys dit in Januarie heeltemal en dan skaats almal op die meer. Ons Kersete bestaan uit warm sop en ’n beker glühwein.
Anci is ver. Ek besef dat mens nooit jou seer by die huis kan los nie, jy pak dit in. Tog praat ons nie daaroor nie en dit help dat daar so baie nuwe dinge om ons is wat ons aandag aflei en ons hou ons gesprekke neutraal. Ons praat oor al die nuwe dinge om ons en bewonder die skoonheid. Ek probeer om nie aan haar lyf te dink wanneer my man aan myne raak nie. Ek bid maar hy doen dieselfde.
Te gou is ons weer op die lughawe in Zürich, op pad huis toe. Op pad na die werklikheid en die onsekerheid. Die koue hand wat my hart vashou terwyl ons Switserland agter ons laat, wis amper die dankbaarheid uit van die wonderwêreld wat ons saam kon beleef. Geen sprokie hou vir ewig nie.

