Skeppingsleer

  • 12

Sjalom.

Heel in die begin was daar ’n leegte - ’n sonderlinge lugleegte - nie eens ’n stoffie aan die weegskaal nie; geen ruimte, geen tyd, geen lig, geen klank ...

Tog was al die wette van die natuur reeds in hul plek en vol potensiaal binne hierdie sonderlinge lugleegte.

Soos ’n reuse klip op die rand van ’n toringkrans gesetel...

Maar, wag ’n oomblik...

Alvorens die klip val moet ek net eers verduidelik dat ek eintlik glad nie weet waarvan ek hier tik nie. Dis wel so dat enige storie ’n begin het, maar hierdie is ’n verhaal oor die ontstaan van ons heelal. Daar is geen mensekennis oor die Absolute Begin nie. Heeltemal, hoegenaamd en beslis nie eens ’n enkele ou dingetjie nie. Ons weet absoluut niks omtrent die heelal voor die rype ouderdom daarvan op ’n biljoenste van ’n triljoenste sekonde nie - en dis ’n hele tydjie na die Oerknal. Wat jy ookal omtrent die geboorte van ons heelal hoor of lees, kan jy daarvan seker wees dis uit iemand se duim gesuig. Ons betree die ryk van die filosofie. God alleen weet wat in die Absolute Begin gebeur het (en Sy het dit nog aan niemand geopenbaar nie).

Nouja, waar was ons nou weer? O ja,...

Soos ’n reuse klip op die rand van ’n toringkrans gesetel - so was die leegte. Die balans daarvan so volkome dat die geringste wiesiewasie ’n verandering daaraan sou meebring - die verandering wat ons heelal uiteindelik geskep het. En dit het gebeur. Die sonderlinge lugleegte het met ’n slag uitmekaarbars. In die aanvanklike gloed daarvan is ruimte en tyd geskep. Hieruit het energie en materie ontstaan - ’n digte plasma deeltjies wat in radiasie versmelt het tot niks en weer terug in materie verander het. (Nou werk ons minstens met ’n paar feite en net ’n bietjie raaiwerk aan’t hand). Botsende deeltjies het nuwe deeltjies geskep. Ruimte en tyd het gekook en geskuim wyl swaartekrag kolke vorm en weer verdwyn. Wat ’n skouspel!

Namate die heelal uitgedy het, begin afkoel en yler raak het, het deeltjies gekondenseer en is kragte onderskei. Protone en neutrone het gevorm; daarna nukleone en atome en reuse wolke stof wat, wyl die heelal steeds groei, plek-plek stol en sterre, melkweë en planete vorm.

Op een so ’n planeet wat om ’n nietige ster wentel; ’n kolletjie in een van die reuse spiraal arms van ’n standaard melkweg iewers in ons heelal, het bruisende oseane en vastelande gevorm. Uit die oseane het ’n modder van organiese molekules gereageer en proteïne gebou - en lewe het ontstaan. Plante en diere het uit eenvoudige organismes geovuleer en ten einde laaste - kom ons hier aan.

Die mens is anders as enige ander wese op ons aarde omdat ons die enigste spesie is wat so intens begeer om meer van ons omgewing te leer. Mettertyd het daar mutasies ontstaan en ’n aardige ondersoort mens het die vlaktes begin verken. Hulle was arrogant. Hulle was nie vergenoeg om net die wonder van die heelal te waardeer nie. Hulle geluid was "HOE"? Hoe is die heelal geskape? Hoe kan die "stof" in die heelal soveel verskeidenheid in ons wêreld meebring: sterre, planete, see otters, oseane, korale, sonlig, die menslike brein? Die mutante se vrae kan wel beantwoord word maar slegs deur die oordrag, toewyding en harde werk tussen meester na student oor ’n honderd geslagte heen. Die vraag het ook menige verkeerde antwoord en verleentheid meegebring. Gelukkig ken hierdie mutante geen skaamte nie. Hulle staan vandag bekend as fisikusse (wetenskaplikes).

Vandag, na meer as tweeduisend jaar se ondersoek - skaars ’n skynseltjie op die kosmiese tydskaal - sien die mensdom vir die eerste keer net ’n vlugtige blik raak op die ontstaan van ons heelal. In ons teleskope en mikroskope, in ons sterrewagte en laboratoriums - en op ons rekenaars - begin ons om die buitelyne van die eertydse glorieryke prag en eweredigheid wat in die eerste oomblikke geheers het begryp. Ons kan dit amper sien. Maar die prentjie is nog nie duidelik nie en ons kan aanvoel dat iets ons visie belemmer - ’n duister mag wat die wesenlik eenvoud van ons wêreld vertroebel, verskuil, benewel.

Ek bid dat my dogtertjie eendag hierdie verhaling uit my hart aan die werk van ’n baie bekende Joodse wetenskaplike as fondament in haar noëtiese opvoeding omtrent die Skepping sal ontvang. Uit belangstelling nooi ek enigeen om te raai wie die wetenskaplike is en uit watter werk ek hierdie oorgesit het. As leidraad deel ek dat die wetenskaplike ’n bekroonde Nobelprys fisikus is veral bekend vir sy werk onder meer oor die "Tau neutrino" (oftewel "God particle").

Mag Jesus Christus ons Trooster, die enigste in wese en wete in alles en almal se oomblik voor die biljoenste van ’n triljoenste sekonde net na die Oerknal, self Haar openbaring in elkeen se hart bring wat hier lees.

Namaste!

Hindoe-, Moslem-, Joodse, katolieke en Boeddhistiese liefde,

Cornelius Henn

 

  • 12

Kommentaar

  • CorneliusHenn

    Dankie vir die skakel Panda!

    Ek's ietwat beperk in my kommunikasie en internet op die oomblik, maar ek kon darem so hier en daar 'n begrip kry waaroor die hele lesing gaan.

    Ek hoop om voor die einde van die week weer op 'n plek te wees waar als werk soos dit moet en dan sit ek terug en leer.

    Maar kan jy raai wie's die wetenskaplike wat ek in my bydrae vertaal?

  • CorneliusHenn

    Chris, dis werklik interessant.

    Vanuit 'n filosofiese fisika oogpunt beskou is dit net so moeilik om NIKS as om GOD te beskryf.

    Gister se antwoord het vandag se vraag geskep.

    Onthou hoe het John Dalton, die Griekse Democritus se onsigbare onverdeelbare deeltjie "gecoin" het en die basiese eenheid van elemente in die 1800's "atomus" of te wel "atoom" genoem het?

    Vandag is ons begrip van 'n atoom 'n komplekse saamgestelde eenheid uit menige ander deeltjies. So het elke generasie sy eie en unieke uitdaging op hul oupas en oumas se ontdekking.

    Maar weet jy wie's die wetenskaplike wat ek in my bydrae vertaal het?

  • Chris Dippenaar

    Hello Cornelius

    Dis dalk goed om in gedagte te hou dat Democritus se idee van 'n heelal wat bestaan uit atome wat suiwer materialisties is, en soos later verwoord is deur Lucretius in 'On the Nature of the Universe', in baie opsigte 'n uitspraak was teen die gode en menslike afhanklikheid aan hulle. Die gode wat self bestaan uit materialistiese atome en nie apart is van die heelal nie. Dit, dis nou die idee van atome, is intussen wetenskaplik gedemonstreer as nie net 'n eenvoudig geinspireerde spekulasie van Democrutus nie.

    Die ander helfte van Democritus se idee van die heelal, die 'void' waarin atome beweeg is ook onder die vergrootglas, en die moontlikheid is daar dat dit 'n bevredigende wetenskaplike verduideliking kan hê. Dieselfde kan nie gesê word van God nie en sal seker nooit gesê kan word. Om sy bestaan met die konsep van NIKS te regverdig is dalk nie die slimste idee waarmee gelowiges vorendag kom nie. As NIKS 'n wetenskaplike verklaring het, het die gelowige letterlik niks om op terug te val.

    Ek weet ongelukkig nie na wie jy verwys nie, alhoewel dit darem baie klink na die taalgebruik van Sagan (wie dit uit jou leidrade duidelik nie is nie) in Afrikaans.

    Mooibly

  • CorneliusHenn

    Chris, dankie vir jou belangstelling. Die wetenskaplike na wie ek verwys is nie Stephen Hawking of Carl Sagan nie. Hy is 'n 90 jarige fisikus (ek dink dis beslis die moeite werd om nog 'n bietjie gedagte te gee aan wie die baie bekende wetenskaplike is).

  • CorneliusHenn

    Chris, ek glo ook daar is menige wonderlike ontdekking wat vir ons volgende generasies wag. Daar is geen vervelige oomblik in ons bestaan nie. 'n honderd generasies in die toekoms in sit daar dalk 'n Chris iewers en bedink hoe geïnspireerd die spekulasie omtrent die "void" vandag is. Die woord "god" dien ook as 'n taalwetenskaplike begrip.

  • Hello Cornelius. Dankie dat jy die gedeel het. Ek wonder net hoekom jy geheimsinnig is rakende die persoon se identiteit? Dit is mos nie moeilik om dit op google op te spoor nie. Ek het dadelik vir Leon Lederman opgespoor http://en.wikipedia.org/wiki/Leon_M._Lederman as die man na wie jy verwys.

    Wat hy vertel is wonderlik en verrykend, maar hoekom die geheimsinnigheid? Ek wonder maar net, maar dankie dat jy gedeel het.

  • CorneliusHenn

    Hallo Johan, baie dankie vir jou belangstelling.  

    Jy is reg, die wetenskaplike wie se werk ek hier in ons Moedertaal oorgesit het is inderdaad Leon Lederman.

    Die gedeelte is uit die eerste gedeelte van hoofstuk 1 uit sy boek The God Particle: If the Universe Is the Answer, What is the Question?  

    Die boek op my rak is al amper 'n leeftyd daar. Die onderwerp is egter so aktueel soos diep in die toekoms iewers.  

    Daar is heelwat in die nuus omtrent die neutrone wat dalk vinniger as lig beweeg en wat Einstein se teorie terug op die bord sou plaas.

    'n Los draadjie hier en daar was toe egter die oorsaak van verkeerde tydmeting en na als weer vasgeskroef is, is daar bepaal dat lig steeds die wenner is!  

    Die werf het egter sy eie meule wat hierdie interessante kennis maal. 'n Mens deel nie so iets sommer goedsmoeds nie.  

    Johan, jy moes bepaalde kennis oor die onderwerp het om die antwoord te ken. Self kon ek steeds nog nie die boek raak Google nie.  

    Kobus en Wouter haat als wat nie gespoeg en geblerts kan word nie. Dus sou hulle sekerlik nooit die antwoord ken nie. Noudat hulle weet dis Leon Lederman en ook die boek se naam het, sal jy weldra sien hoe hul stertjies in die lug hul mening  oor Leon Lederman gaan Wiki.    

    Nietemin, vir my is Leon Lederman iemand wat my beskouinge lank terug reeds gevorm het en glo ek omtrent als wat hy skryf.  

    Boeke is duur en as jy jou eie beursie skud vir skrywers soos Brian Greene, Stephen Hawking, Karen Armstrong, Carl Sagan ... en vele ander, dan voel 'n mens ietwat stom as 'n kritikaster soos Wouter en Kobus so maklik spoeg en plak sonder die minste toewyding of ervaring in die onderwerp.  

    Maar, ek't al geleer en dink verdere gesprek oor die "God particle" of te wel "Tau neutrone" diskwalifiseer die ou grote en Woutie miskien na dese so effens. Ek nooi hulle egter heelhartig om saam met elke ander belangstellende op hul manier verder hierin te deel.  

    Johan, nogmaals dankie.  

    Namaste!  

    Hindoe-, Moslem-, Joodse, katolieke en Boeddhistiese groete,  
    Ekke

  • Cornelius, ek trek sommer jou been. Kobus het my wel uitgeskel as insigloos en "uit my diepte uit" rakende my kennis oor wetenskap en evolusie. Tog lees ek baie oor die onderwerp en het selfs so paar kwalifikasies agter my naam. Ek is dus lankal bewus van "Tau Neutrone" en die "God Particle". Ek het wel nie Lederman se naam onthou nie, maar die ander agtergrondkennis tot my beskikking het my instaat gestel om vinnig sy naam op te spoor. Jy is dus reg, dit het effense meer in diepte kennis geneem om hom op te spoor. Die rede hoekom ek nie in diepte betrokke raak by die debat nie, is bloot omdat ek nie meer die gal het om met Kobus te redeneer nie. Meeste van die mense wat hier skryf, het in elkgeval die situasie onder beheer. Ek is oud en sieklik, en gaan myself regtig nie, indien dit nie nodig is, ontstel oor die ou groot beer se gekerm oor Darwin nie. Sodra hy iets meer sinvol noem, kan mens nog deelneem, in die tussentyd giggel ek maar eerder in my mou!Lekker dag vir jou, Cornelius!

     

    Vriendelike Ateistiese Groete

    Johan Wiese

  • CorneliusHenn

    Johan,

    Ek kan nie help om met 'n diepe gevoel van verlies aan nog 'n ander kundige op die werf jeens die belediging en vyandigheid van die kitsnaslaner Kobus de Klerk te dink nie.

    Jan Viljoen het menige bydrae uit sy ervaring en oorwoë kennis voorheen met ons gedeel.

    Nes joune, het Jan se gal opgeraak met Kobus de Klerk se eentonige en absurde gedweep met twak soos "Darwin se evolusieleer".

    Dis verstommend hoe die "ou grote" en sy kreasionis ge-aliebende in hul huiskerkstelsels vir soveel jare met hul bedrog kan volhou.

    Darwin het die woord evolusie skaars gebruik -  wat nog die onsin dat Darwin 'n "evolusieleer" geformuleer het (met alle respek tot Darwin se kosbare bydrae in die geskiedenis daarvan)?

    Johan, ek sou wat wou gee om sinvol oor neutrone met ander belangstellendes te gesels.

    Die mens se kennis staan gedurig voor die venster in aanskoue van groot wonders ...

    Goed gaan met jou Johan,
    Ekke

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top