"Skaakmaat" deur Merishia Collins

  • 0

Geskryf vir: Straatligkinders

In jou werklikheid was ek net ’n pion
Op jou lewenspad van swart en wit
Waar dit op laas in ’n rivier van grys na Babel gevloei het
Die lyne tussen realiteit en sprokie, so dig soos water

Jou toring was gebou op sinksand
Gemik na die hemel
Na die net van koue spatsels
Hul glinstering millenniums van ons verwyder
Wankelrig in die warboel van lee fantasieë, sien jy my, snikkend, op my knieë

In ’n kamer met ’n spieël het ek deur jou illusies gesien ...
Dat feetjiesland swart en dissonant was
Musiek note hol
Rusteloos
Wit op swart
Swart op wit
Dans langs my bloedrooi skoene verby
Vir ewig vasgeklem in ’n grasieuse marteling
Welkom by my karnaval
Agter grynsende maskers speel ons
Op die ewige draaiende mallemeule
Met die reënboog in sy revolusie
Op, af, op, af
My hande styf geklem om my swart en wit plastiek-perd

Sien ek weer jou gesig, jou oë wat pleit ...
Ons wêrelde vir ewig verwyderd van mekaar
’n Skuif vir jou
’n Skuif vir my
Sien ek weer wie jy was
’n Skuif vir jou
’n Skuif vir my
Ruik ek weer wie jy was
Skuif vir skuif, ontbloot jy, jy
As jy weer aan my hand probeer vat
En jou tekortkominge wegvee
My hele self oorneem
... skaakmat ...

Onwillig deel van jou Babel, sit ek in jou ondergrondse toring
Weg is my karnaval, weg is my rooi skoene ...
Geboë met my rug na die spieël
My enigste hek na wonderland ....

Waar die maan se silver grynslag my gevange hou
Weet ek
Ek verloor in jou
 

lyricMap homeMap


Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief
. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top