Sirkel voltooi

  • 1

Jan beduie annerdag vir my dat ek moet loop kyk. Piet is besig om te verkoop. Hy is gatvol. Jan beduie vir my dat ons die stowe en die bakplate en die gasbranders en tafels en stoele kan gebruik hier waar die ryk mense aansit vir die seegoeters en skulpdiere.

"Loop kyk, Piet is in die kak. Jy gaan bargains optel." En so ry ek teen my sin want dis nie lekker om iemand se lewenswerk te loop optel vir 'n appel en ei nie. Dit hoort nie so nie. Buitendien: dit lyk altoos of mens loop aas langs die kadawer. Tog, dit is deesdae die norm in hierdie ekonomie wat blykbaar kerngesond en aan’t opswaai is: bankrot-veilings. Of, wel, koop voor die amptelike veiling.

So ry ek maar die pad en met 'n swaar hart draai ek die grondpad in na dit wat net nou die dag 'n blerrie lekker kuierplek en vir sommige 'n suipplek was. Ek ken die plek want dit was nie twee dekades terug nie toe die plek ontwikkel is as die bestemming vir 'n eksklusiewe blanke uitspanplek. Geld gevat by baie en grond gekoop toe dit nog goedkoop was en toe maar gebou soos die gedagte gegaan het. Nooit "track" gehou met die powers that be nie en met 'n paar munisipale ordonnansies is die plek toegemaak. Want jy gaan nie verder as wat jy toegelaat word nie. Nie tensy jy goed gekonnekteer is nie. 'n Paar los aande met 'n spul dronkies het nog 'n mate van inkomste voorsien en met die tyd het die gasstoof opgehou brand en die pizza-oond, wat nooit regtig reg gewerk het nie omdat hulle die skoorsteen verkeerd gebou het, het bloot nie meer deeg in sy binneste gekry nie.

Piet kom uitgestap en ek weet nou waarom ek altyd 'n wrewel sal hê in uitgetrapte Crocs ...

Piet slinger die woorde uit wat ek weet hy moet sê: "Kom jy kyk?"

"Ja, Piet, ek kom kyk. Jan het vir my beduie jy het goetertjies om te verkoop."

"Jy weet mos hoe dit is. Ek vat mos nie 'n vrou vir langer as vyf jaar nie. Ek is nou al 21 jaar met hierdie vrou en ek dink dis tyd om aan te beweeg."

Ek staan en kyk die uitsig oor hierdie Blou Dam en ek probeer dit in sy kop kry dat hy besig is om letterlik een van die laaste stukkies oop aarde wat nog nie deur die grynslaggende ontwikkelaars ingepalm is nie ook gaan laat gaan. "Here, Piet, vir hierdie uitsig sal meeste mense hulle siele verkoop."

"Siele is deesdae goedkoop goed."

Ek maak 'n aanbod op die wasbakke en die stoele en die kroegtoonbank en die gasbranders en hy kibbel oor die prys en ons kom ooreen want ons wil nie een oor twee weke by die veiling wees nie. Hy beduie vir my van die veiling oor 'n maand wat in die Kaap moet gebeur en ek beduie vir hom dat hy moet vashou want ek het 'n koper want hier is nog mense wat sewe miljoen sal uithaal om hierdie sig oor die Blou Dam se branders te hê. Hy sê ek’s vol kak en ek het 'n week oor.

Ek laai die verwarmer en hy beduie vir my dat die ding nou die dag nog goed gewerk het. Ek glo hom nie en ry na Charlse toe solat hy moet kyk of die ding werk. Want dis mos maar hoe ons is, né?

Ons kibbel later oor die prys van die steakbraaier en ek aanvaar toe maar sy prys van R450 want hy beduie vir my dat hy nog petrol moet ingooi. Ek beduie vir hom dat ek 'n aanbod gekry het vir die eiendom. Die manne met die groot geld is bereid om ses miljoen te betaal. Soos die plek is. Piet beduie vir my dat dit nou regtig bloedgeld is. En beslis nie onderhandelbaar nie.

"Sewe miljoen. Klaar gepraat. Kyk die see hier onder ons. Ek sit snags oormowwe aan want ek is al so gatvol vir die geluid en geraas van branders in my ore, ek wil net die vlaktes inhardloop. Dink jy nie ander mense sal val hiervoor nie? Buitendien. Lank voor hulle gatvol is hiervoor sal ek al onder die kluite wees en die geld opgespandeer."

Ek sit met die kaart voor my wat die prima eiendom uiteensit. Ek sit met die ontwikkelaars wat soos aasvoëls wil toesak op hierdie stukkie droom van iemand wat te lank gelede nog probeer mens wees het. Toe sit ek en wonder waarom ons nog redekawel oor die prys van 'n doodgewone koffiemasjien wat destyds, toe die droom nog vlak in die gedagtes gelê het, iemand anders se eiendom was.

Letterlik die laaste stukkie ongerepte kus gaan voor my oë onder die hamer van gesiglose afslaers toegeslaan word en ook, soos meeste ander stukkies kus, ontwikkel word. Ten minste kon ek vir 'n dag of twee oor die duine tuur en droom ek’s die enigste en eerste reisiger hier.

oester

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top