Sinkhuisie is nog glad nie opgradeer nie. Die huis bedoel ekke. Die huis is maar nog steeds die ou sinkplaat huis soos die outydse mynhuise. Vloer het nou al oral gate in wat met novylaun (my spelling) en tapyt toegemaak word. Jaarliks hier rondom die groot dae koop Sinkhuis ’n rol of twee en die vorige deurgetrapte stuk word uitgegooi na die motorhuis of noudat dominees en Mev Stok in die buitekamer bly oorgestuur soontoe om te kyk wat hulle kan gebruik. So hou ’n tapyt mos sommer dubbel sy normale leeftyd, baie soos die klogoete se klerasies wat mos maar aangestuur word. Goeie beginsel eintlik, en mens se voetspoor is dan mos soveel kleiner as hierdie weggooi generasie sinne. Ek het al vir Sinkhuisie beduie van die deugde van ’n paar sakkies sement en ’n paar kruiwaens sand en klip maar hy se dit gaan te veel kos en ou Mev D gaan hom beslis nie afslag gee as dit by huurgeld einde van die maand kom nie. Ek beduie hom dat hy in elk geval amper verniet bly en hy kyk annerpad. Baie diepdenkend die vertes in.
Maar Sinkhuisie se situasie raak by die dag al meer benard. Oor daai anner man se vrou, as jy nog kan onthou. Dit was mos eers die vrou wie se man by die kaasfabriek gewerk het tot hy uitgevind het van die twee se "koffiedrinkery" en in elk geval nie omgegee het nie. Sinkhuisie beduie dat hy nie verder kon aangaan met haar nie want hy het gesien sy het kolletjies onner haar voete en, wel, jy weet mos die gerugte oor wit kolletjies onner die voete op die voetsole langs (hulle se mos dis die GROOT ene as jy die kolletjies het). Die "anner" vrou en haar man is intussen vort iewers anners heen.
Die mense beduie of ek weet dat die Boere anneraand weer by Sinkhuisie was en ek hou my dom. "Nee," beduie antie J, "hy het mos ’n probleem met daai broek van hom. Die bleddie (sy het beter woorde gebruik) ding moet mos altyd los as hy ’n rok sien."
"Bedoel antie nou die broek?"
"Broek onnerbroek, die lot. Moet nou nie vir jou kom onnosel hou nie. Toe bel ek die polisie want ek wil nie lat my klong verder daar kom nie. As sy vrou wil rondloop is dit haar saak. Ek het vir hom beduie dat ek hom gaan toesluit innie huis as hy weer daar kom."
"Ja, maar antie, die man is al groot en uitgegroei ..."
"Weet jy wat doen Sinkhuisie met hom, weet jy? Hy gebruik die hartpille wat hy kry omdat hy kamma siek is om dit vir my kind in te gee. Dan meng hy dit met my klong se dop en dan is my klong onkapabel om te sien wat in die kamer met sy vrou gebeur."
Ek hoor die storie en luister maar want die stories loop al so dik lat mens later nie kop of stert uitmaak nie. Ek weet wel dat die Boere maar daar loop omry want daar is mos gebel en hulle moet hul werk mos doen. Ek kry vir Sinkhuisie in ’n hoek vas en ek moet mos maar aanklaer en verdediging en sommer judge ook wees so ek beduie vir hom oor die pille en die goete en hy vra hoe die besigheid en die Blou Dam is. Ek skop vas want hier is ’n storie as ’n man ’n ding so wegpraat. En hy moet maar beduie, soort van:
Sien, hier laatnag, as N lekker diep tiep dan maak S haar skaars. Reguit Sinkhuis toe. Want daar vloei die rooiprop lekker en daars boonop nog mix ook, nie skone water nie. En dan gaan dit jolig en dinge raas. Tot Maandag toe en dan moet N haar weer loop haal want "’n vrou se plek is by haar huis" aldus Sinkhuisie. En dan spook die spul. Sinkhuisie beduie vir my dat hulle ten minste nie barbare is nie, hulle sal die bakleiery uit die strate hou. Dinge uitsort op privaat eiendom. Ek dink hulle is bang vir openbare oproerigheid en die negatiewe nagevolge, maar dis ek.
Die drie kom annerdag gesels-gesels die pad op en Datie beduie vir my ek moet kom kyk, die lot het vrede gemaak. Mens kan mossie anners nie en toe die twee verder om die hoek stap vra ek vir Sinkhuisie nou hoe nou?
"Ons gaan maar aan. Ek wil haar tog nie he nie, en as N gesuip is kan hy haar nie he nie"
"Jirre, oompie, maar julle gaan soos nare goed tekere" roer ek.
""Wat sal jy maak in my posisie? As ’n vrou laatnag en dors aan jou deur kom klop sal jy haar wegwys?"
"Ja, maar sy issie net dorsie, oom."
"Loop vlieg jy. Wat in ons twee se binnekamers gebeur het niks met niemand uit te waai nie. Buitendien, ons is net vriende en ek gee vir haar bloot slaapplek as sy ’n dop of twee te veel inhet. G’n mens sal mos ’n vrou alleen laat stap huistoe nie."
En toe wonder ek oor hierdie ding van die liefde. Want S het ’n grote bos blomme by haar man gekry en later het die twee sinkhuis toe gestap (wat de hel hulle op Valentynsdag by ’n wewenaar wil loop maak weet nugter alleen) en N is laatnag vloek-vloek daar weg. Die liefde is inderdaad ’n duister besigheid en wie kan hom ooit verstaan?
oester

