Sheila in die Langeberge

  • 0

Die Swellendam-voetslaanpad in die Langeberge is seker een van ons mooiste. Dis ‘n vyfdag-sirkelroete wat in Swellendam begin en eindig.

“Dit reën.”

“Ja, sedert drie-uur vanoggend.”

“Wat beteken dit?”

“Dat ons gaan nat word.”

“ So gaan ons stap?”

“ Ons het mos gekom vir ‘n winterstap.”

Piet 1,9m lank, is ‘n ervare stapper. Ek is ‘n halwe kop korter en ‘n groentjie. My vertroue in hom is absoluut. Na ons Oats So Easy en koffie, haak ons die rugsakke oor ons skouers en trek die deur van Boskloofhut toe.

“Wow, kyk hoe mooi!”

Die stroompie, die vorige middag skaars sigbaar, is ‘n skuimende watermassa. Ons lees geen waarskuwing daarin nie. Na ‘n uur se klim, kom ons op ‘n rif en draai noord. Die wind dryf yskoue druppels teen my nek af. Die voetpaadjie stroom water en ek probeer nie meer om die plasse mis te trap nie. Op my stewels staan bondels skuim soos die reën ou seep uit my sokkies was. Die proteas en restios dans wild rond.

“Piet, ek gaan nog iets aantrek. Dis vrek koud.”

Ek trek my reënbaadjie uit, vind ‘n fleece en trek dit met groot gesukkel aan. Aa, en hier’s ‘n serp en ‘n mus. Jislaaik, dis beter. Ek vind ook twee energiestafies. “Hier, help dit nie, dan troos dit. Trek nog iets aan jong.”

“Ek wil my warm goed bêre vir by die hut.”

“Kom ek stap ‘n slag voor. Bly naby my, uit die wind.” Hy stribbel nie teë nie.

“Hier by die stroompie kan ons rus en iets eet,” sê hy. “Bliksem! Só het ek hierdie meneertjie nog nooit gesien nie. Ons sal moet hoër klim om oor te gaan. Hier gaan dit nie werk nie.”

Ek is stil geskrik. Piet klouter links van die malende watermassa berg-op tussen rotse en geil fynbos. Ek trek myself op aan die tolbosse. Na 50 meter vind hy ‘n plek waar ons kan probeer. Hand-aan-hand sukkel ons heuphoogte deur kolkende water. As ons weer die paadjie vind, val ek tussen die nat struike neer. Piet klappertand. “Magtig man, jy’s nat tot op jou vel! Trek nog iets aan.”
“ Ek wil daai warm top nie nou laat nat word nie,” stotter hy deur geklemde kake.

“Wag, ek’t ‘n plan.” Met my tande skeur ek gate in ‘n swartsak vir sy kop en arms. Ons spook teen die wind en reën en uiteindelik is dit in posisie. Ons begin weer klim tot op ‘n tweede, hoër rif. Die wind ruk die reënskerm van my rugsak en dryf dit berg-af. Amper is ek saam.

“Liewe hemel, kyk na die Lang Kuile!” roep Piet.

Ons kyk af op ‘n smal vallei en tussen jagende wolke sien ek ‘n bruin rivier so wyd soos ‘n motorpad. Yslike branders dra takke, struike en bondels skuim rivier af.

“Daar kan ons nie deur nie. As die water só wyd loop, is daardie sentrale deel baie diep.”

“Kom ons probeer hoër op.”

“Nee, kyk hoe wyd loop die stroom daar bo. En daai kranse, ons sal nie daar kan uit nie. Ons moet terug.”

“Wat! Is jy ernstig? As ons omdraai, is die wind van voor. Dis seker ses kilometer tot by die hut.”

“Ja, ja en ja. Kom!” Piet se lippe is blou, sy vingers spierwit.

Ek rits my baadjie oop, trek die halfnat serp van my nek af en bind dit om Piet se kop. Die punte draai ek om sy nek en druk die nat hoed weer op sy kop. Hy laat my begaan. Dan steier ek verder teen die wind en hael. My hele lyf pyn. As ek omkyk, is Piet tussen die rotse en bosse onderkant die paadjie.

“ Piet! Hier’s die paadjie!”

Ek klim terug en pluk aan sy arm, maar hy beur weg. O Here, hipotermie. Die besef slaan ‘n kol op my maag. Ek neem sy gesig tussen my hande.

“Kom ons gaan hut toe.” Dit lyk of hy fokus en volg my na die paadjie. “Stap jy voor. Toe, ek kom.”

Vir ‘n ruk lei hy. Sy normale ferme stap het verander in ‘n onvaste slingerpas. Dan, sonder waarskuwing begin hy teen die hang van die berg opklim.

“Waar’s Sheila?” vra hy.

“Sy’s vooruit,” lieg ek. “ Sy’s seker al daar.”

Vir eers gaan dit goed. Ek stap voor en kyk kort-kort om. Dan hoor ek water druis. Ek verwag die ergste. So is dit ook. Die stroom het verdubbel in wydte en sterkte. Piet, totaal verward, stap die kwaai water binne. Ek gryp na hom, maar hy ruk los. Hy verloor sy balans en die water sleur hom saam. ‘n Dooie tak wat tussen twee rotse vassit, keer hom en ek sleep hom uit die water.

“Kyk!” roep ek bo die gedruis van die water, “kyk, daar’s Sheila.”

Dit is eers bo-op die kruin dat ons die stroom kan oorsteek. Ons behoort nou bokant die Boskloof te wees. Dis waar die hut is, maar ek sien geen hut nie. Deur die drywende reën en hael sien ek ‘n vierkantige dam. ‘n Dam? Waar’s ons dan nou? Ek onthou geen dam nie. Dan besef ek dis die dak van die Boskloofhut. As ons hier direk afklouter, kan ons twee uur spaar. Piet vasgevang in sy eie vae wêreld, volg my as ek die paadjie verlaat. Ons gly-val-struikel teen die berghang af. Die takke en rotse skeur my reeds bebloede bene. Amper daar. Maar dan gaan Piet sit in die gietende reën en begin die plastiek sak van hom afskeur.

“Warm!” sê hy.

“Ja , in die hut gaan ons alles uittrek.” Ek gooi my volle gewig teen sy massa. Hy roer nie. Dan sê ek dringend: “Sheila het seergekry. Kom.“

Dis of Piet wakker word. Besete storm hy na benede. Bingo! En dan is ons by Boskloofhut se trappe.

Later die aand vra Piet: “Andre, hoe’t jy dit gedoen? Hoe’t jy my hier gekry?”

“ Dit was Sheila, nie ek nie.”

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top