Oom Jors, Koos en Antie San

  • 1

Julle sal die storie onthou van oom Jors en Koos daar op die stoep van die gewese pastorie in die Wes-Transvaal. Oom Jors was die profeet wat saam met Koos hul eie filosofieë oor die lewe, die dood, die heelal, die skepping en alles wat bestaan en nog moet ontstaan ontwikkel het. Vrae was meer as antwoorde, maar diepsinnige gesprekke oor die vrae was altyd aan die orde. Hierdie verhaal is die waarheid en die volle waarheid alleen! Ek hou my immers nie op met dinge wat nie die toets van die Grootboek kan weerstaan nie!

Oom Jors se ou huis was tipies daardie tyd se huise: vierkantig met ’n voordeur in die middel, twee vensters weerskante van die deur wat op ’n stoep uitloop wat oor die lengte van die huis strek, met trappies na onder tot op die grond. Van daar kon ’n mens mooi oor die lande uitkyk! Kom jy by die deur in die portaal-gang in, lê die voorhuis regs en die hoofslaapkamer links. Verby die twee ... bietjie verder in die gang/portaal af, loop jy in die badskamer in en regs daarvan in die kinderkamer. Reg voor lê die kombuis met sy koolstoof en platdak asook ’n stoep aan elke kant … waarvan een toegemaak is en nou dien as derde slaapkamer. Die agterdeur maak op die oop stoep uit die kombuis oop!

Terwille van volledigheid moet ek tog vertel van die nuuskierigheid van daardie tyd se mense … amper soos nou se tyd se mense! Geheime organisasies het, so net na die groot oorlog, oral in die dorp en op die plase die gesprekke oorheers. Almal het ’n mening oor die Broederbond, die Ossewa Brandwag, die Vrymesselaars, die Gryshemde, die Moths ens ens gehad, maar niemand het regtig geweet wat dit nou eintlik was nie! Selfs onder die volkies is daar gegis oor hierdie vreemde goete waarvan die wit mense praat!

Julle sal ook onthou … as julle al gebore was en verstand gekry het, dat die draadloos die enigste kontak vir die plaasmense met die buitewêreld was. Elke môre het ant San die draadloos uit die kombuis loop haal en op die sideboard in die sitkamer tuisgemaak. Dis hierdie einste draadloos wat die mens na liggaam en gees sou voed … maar ek onderbreek nou myself!

Ant San was nie die kleinste van vrou nie … soos wat die boervroue oor die algemeen maar was. Haar agterstewe sou vir Saartjie Baartman opdraand in ’n kompetisie kon gee, haar een been het seker so honderd pond geweeg en die ander een was net so swaar. In vandag se tyd sou sy as ’n gewigtige antie bekend wees. Nietemin, sy het, na sy seker gemaak het dat oom Jors en Koos op die land of elders  was, haar rok uitgetrek en met die borsrok aan op die voorhuis se vloer loop sit, wagtende op die man van die draadloos wat om halftien sou opkom met sy daaglikse liggaamsoefeningprogram. Dié oggend was dit weer so … hy het opgekom en gesê: ”nou ja dames, vanmore doen ons ’n oefening wat goed is vir die maagvetjies!”  “Net wat ek nodig het …,” mymer ant San.

“Die eerste deel van die oefeningons gaan sit lekker plat, bene langs mekaar en haal lekker diep asem. Nou die tweede deel van die oefeningons moet die regterbeen oor die linkerskouer haak En hy speel op die klavier en tel … een … twee … drie … een … twee … drie … Ant San het die been beet en so per geluk in die omrolslag haak sy hom oor die linkerskouer. ”En nou dames vir die derde deel van die oefeningons moet die linkerbeen oor die regterskouer haaken hy speel een … twee … drie … een … twee. … drie … Sy het die linkerbeen beet en met alle mag en krag en geluk kry sy hom ingehaak! “Nou dames vir die volgende deel van die oefening moet ons die linkerbeen van die regterskouer afhaak en die man speel … een … twee … drie … een … twee … drie …  Ant San probeer haar linkervoet bykom, maar onmoontlik … sy kry hom net nie vas gevat nie. Die man is later by die regterbeen van die linkerskouer af, maar vergeefs probeer sy nog die linkerbeen afhaak. Hy groet later met die wens dat almal die oefening geniet het, maar ant San stoei nog met die linkerbeen! Dis naderhand huisgodsdiens om 10uur, maar sy stoei steeds met die vierde deel. Radio Bantoe is later verby en steeds stoei sy met die linkerbeen. Paniek pak haar beet … en sy weet sy moet oom Jors in die hande kry om te kom help … dis haar enigste redding! Sy kry haarself later op die sitvlak sit met die twee bene gekruis voor haar oor haar skouers en sy stoot haarself stadig en moeisaam by die voordeur uit. Sy merk oom Jors op met die ploeg in die hand en Koos wat die osse aandryf doerrr in die verte op die land. “Jorsie!! Jorsie-e-e! ” roep/skree sy benoud. “Ag, ou Koos, loop kyk tog wat die miesies wil hê, ek kan nie nou hier los nie … dan verloor ons plek!”

Ou Koos hardloop opstal toe en kom so voor die stoep tot stilstand. Hy kyk teen die trappies op en sien die vreemde spektakel daar bo-op die stoep. Asvaal draai hy net daar om en vlieg die pad terug na waar oom Jors steeds rustig ploeg.

“Ja en toe Koos, wat wil die Miesies hê?”

“Au baas Jors … die Miesies ek het hom nie gasien … maar daarie deng  wat ek het hom gasien … ek denk hy is die Ossewabrandwag!”

Sou dit nie wonderlik wees nie  as ons, anders as Koos, oor genoegsame kennis beskik om korrekte gevolgtrekkings in hierdie verwarrende wêreld te maak nie!

’n Ou storie met bietjie werklikheid en baie verbeelding gemeng.

Lucas Nel

  • 1

Kommentaar

  • Ha-ha-ha

    Dankie Lucas, jy het my lekker laat lag ... (wonder net wat is alles waar aan die storie)

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top