Dit is basies die oudste huis hier in my omtes. Ek weet nie presies hoe oud die plek is nie, maar ek weet oupa het die dak wat sy pa gedek het weer oorgedek. Oupa en Oom Dan. Ek hoor die mense beduie dat die dak daardie tyd alreeds ’n ou dak was toe hy afgeslaan moes word. Iewers in die verre verganklikheid moes een van my voorsate die fondasie lê en die stene pak. Sonder handlangers. Want hulle was arm mense en moes maar doen wat gedoen moes word. Saywen was die vakansiehuis vir die ryk mense. Wegbreekplekkie lank voor die tipe van goed, soos vandag, hoogmode was. Lieflike uitsig oor die Langeberge en die rivier en selfs die vlaktes met die goudgeel koringlande. Ver genoeg van die Blou dam af sodat jy darem nog kon stap al met goewermentsgronde langs om by die strand uit te kom. Ver genoeg van die Blou Dam af dat die branders se sproei darem nie die ruite kan natmaak nie.
Ek onthou, nie so lank terug nie, toe die laaste nasaat op haar laaste was toe die erfgenaam hier ingestap het met die opdrag dat ons die plek moet restoureer soos dit was in die dae toe hoogtee en scones bedien is onner die boom. Die Akasia wat geplant is die dag toe sy gebore is. Maar die boom moes waai. Want hy hang te veel oor die ou waenhuis en die waenhuis moet ’n regte egte ou "Cottage" word. Ek onthou soos gister toe ek by ou Mev Tolousse besoek afgelê het ’n dag of twee voor haar dood. Want om haar boom, of enige boom, af te saag is mos nie gepas nie. Mens moet soort van loop goedkeuring vra. Ek onthou die aand langs haar sterfbed en die suurstofmaskers en apparate en haar verbasing toe sy roggel: "Are you one of the Little oesters?"
""Yes Madam, I came to see how you’re doing. And I need your personal permission to cut down your tree."
"My tree?"
"Yes. the one your father planted the day you were born."
En ek kan sien sy weet nie regtig waarvan ek praat nie. Maar ek moes loop vra, want al kan sy nie onthou nie, was dit tog immers die boom wat vir haar geplant is.
Ek het die volgende oggend die boom loop afsaag. En die dag na ek haar boom loop afsaag het is Mev T oorlede. Sy was, as ek nou reg onthou, 103 jaar oud. Ek het haar boom in planke gesaag en as jy hier by my kom kan ek vir jou die planke wys. Lieflike, rooibruin hout. Hard soos glas. Die onbruikbare houte het ons opgebrand iewers langs ’n kaggel met goeie wyn en dalk ’n brannewyn of twee. Want, so moes dit gedoen word.
Ons bou op die fondasie van die ou boom die designer Cottage reg in die styl soos die erfgenaam dit wou hê. Met ’n designer gasstoof reg uit Frankryk ingevoer. Regoor die murasie van die ou waenhuis/boathouse. Lieflike plekkie as jy wil wegbreek van die stad se geraas en mammie se geneul en so het ek die mense gesien kom en gaan en selfs die een middag lank gestaan en wag vir Tony Porra om klaar te maak want ek moet sluit. Die blonde kind het nog vir hom gevra wie de hel so haastig is en ons het later ’n regte Portugese braai gehou met die jonge meisiekind wat dikbek sit en Tony wat heeltyd op sy ou Siemens baksteen foon vir vroulief probeer beduie dat hy in ’n dringende afspraak was en dis hoekom hy nie haar oproepe kon antwoord nie. Jy weet mos hoe dit was toe almal die eerste keer selfone gekry het ....
En so kan die ou huis die stories vertel. want jy weet mos hoe dit is met ’n ou huis. Hy kry later ’n storie van sy eie.
Annerdag stap hier ’n man wat uit ’n blink Kaapse kar uitklim in en hy kyk rond asof hy weet waar hy is maar nie regtig seker is nie. Ek beduie vir hom of hy die nuwe eienaar is want hier rond is nie regtig veel geheime nie. hy beduie ja, maar hy wil kom hoor oor die huis. Hy het die ou plek gekoop en ek vra hom of hy die ou rondawel gaan platslaan want die ding is ’n bouval. Ek soek die Oregon planke as hy belangstel om te verkoop.
"No, I am demolishing the whole bloody place."
Ek vra hom wat hy gaan bou en hy sê hy gaan basies op die ou planne net weer bou (hy het dalk die regulasies onner oë gehad wat beduie dat jy die voetspoor van die ou huis mnoet behou) maar net meer modern. Ek vra hom wat fout is met die ou perseel want hy staan al vir meer as 100 jaar en hy beduie dat die mure te klam is. Boonop, en dis hoekom hy eintlik hier is. Kan ek die ou Bloekoms afsaag? Ek vra hom of hy weet hoe oud daai Bloekoms is en of hy nie dalk die ou goed, al is hulle vreemdelinge, net wil trim nie? Hy beduie vir my oor die erfenisstigting en die spul wat net wil behou en of ek die bome kan saag dat hulle die ou huis in sy moer kan val nie? Ons kan dit laat lyk na ’n ongeluk. Beduie hy. Ek beduie vir hom dat my oupa daai dak gedek het en dat oupa se pa die fondasie gegooi het en dat ons net noudie dag nuwe riet op daai dak neergesit het. Hy is uit dikbek. Mompel onderlangs oor mense wat nie vorentoe kan nie.
Ek saag toe die Bloekoms en die goed val toe nie die huis moertoe nie. Ek het die stompe maar een vir een weggery. Eke meter ’n bakkievrag. Ou hout.
Hy kom vandag hier in en beduie vir my dat ek die gras en kappe kan kom wegry. Ek vra hom of hy weet wat die hout werd is en hy kyk my aan asof ek mal is. Want ek sien hy wil vir my vra of ek weet wat die kasarm gaan werd wees as hy klaar is met sy dubbelverdieping baksteen gedoente. Ek wil nie eens weet wie die bliksem is wat uiteindelik die goedkeuring gegee het dat hierdie legende uiteindelik vernietig word nie of watse politieke toutjies getrek moes word nie.
oester


Kommentaar
Dis so ’n hartseerstorie. So baie ou geboue het al orals in SA in die stof gebyt. Hier is nie ’n vreeslike kultuur van bewaring nie.
Weereens baie mooi geskryf!
Groete
Perdebytjie
Hi Perdeby!
Hierdie huis is eintlik soort van my huis ook omdat hier soveel eelte en bloedblase van my en my voorsate se hanne hierin belê is. Hulle mens moenie vasklou aan die verlede nie en dit het meriete soms. Ek sal maar ’n afdak iewers maak met die ou kappe en die riet wat net noudiedag gele is.
groete