SA op die praatbank: Sonder luister – die geesteswetenskappe in Suid-Afrika

  • 0

praatbank

In 2010 het LitNet die volgende vraag aan LitNet Akademies-geledere gestel:

As Suid-Afrika op sy/haar rug op die praatbank sou lê en sy/haar vreugdes en/of pyne sou uitspreek, wat sou jy aanhoor? Dalk prewel die land geheimenisse teenoor jou. Dalk is hy/sy bekommerd oor misdaad. Of droogte. Dalk ly hy/sy aan depressie. Dalk is hy/sy op haar einde. Of ’n uitbundige puber. Wat pla ons komplekse land?

Desmond Painter het geantwoord: 

In ’n opstel wat nou reeds kanonieke status in die geesteswetenskappe verkry het, vra Gayatri Spivak (1993) hierdie steeds dwingend relevante vraag: “Can the subaltern speak?” Die “subaltern”-verwysing hier is na die stilgemaakte en andersins stemlose subjekte van die (veral koloniale) geskiedenis; na hulle wat die produkte is van imperialistiese projekte van subjektivering en wat voortdurend onderhewig bly – wanneer hulle wel objekte van kennis word; wanneer daar, met ander (se) woorde, wel óór hulle gepraat word – aan wat Spivak tereg “epistemiese geweld” noem (p 104). Die “subalterns” is die ondergeskiktes, die onderhoriges, die onderdruktes. Hulle na wie Frantz Fanon (1961) verwys het as “die verdoemdes van die aarde”.

Die onderhoriges is dus hulle wat uitgesluit word van sisteme van representasie; hulle wat stemloos is; hulle wat letterlik nie ’n sê het nie, wat nie in die posisie is om by te dra tot amptelike diskoers nie (p 104). Maar nie net uitsluiting is ter sprake nie – die onderhoriges word ook verteken en wanvoorgestel binne heersende sisteme van representasie, hetsy histories, polities, wetenskaplik, artisitiek of literêr.

Daar word verder van die onderhoriges verwag (oftewel: hulle word hiertoe gedwing ter wille van ekonomiese en maatskaplike oorlewing) om hulleself te “vertaal” – hulle word sigbaar en stemhebbend in die mate waarin hulle koloniale sisteme van representasie aanneem en hulleself in koloniale terme voorstel: ’n koloniale naam; ’n koloniale godsdiens; ’n koloniale regsisteem; ’n landskap wat koloniaal gekarteer, benoem en begrens is; ’n koloniale taal. Op hierdie manier word die moontlikheidsvoorwaardes vir identiteit, verlossing, geregtigheid, mobiliteit en selfs betekenis en kommunikasie effektief gekolonialiseer.

Koloniale wanvoorstelling en blatante negering van die onderhoriges kan ook nie sommer reggestel word deur bloot stem te verleen aan “die ander” nie (en terloops, die alomteenwoordige verwysings na “die ander” in die geesteswetenskappe, dikwels eerbiedig in hoofletters geskryf, loop immer die gevaar om koloniale verhoudinge op allerlei maniere te depolitiseer, ten gunste van ’n ahistoriese, kwasimetafisiese diskoers oor self en ander): die sosiale wetenskappe ontkom nie so maklik aan hulle gedeelde geskiedenis van koloniale meewerking en gepaardgaande epistemiese geweld nie; en die romantisering van die (onvervreemde en onvervreemdende) “stem” van die onderhoriges hou dikwels nie rekening met presies hoe onagterhaalbaar enige idee van ’n “oorspronklike kultuur/identiteit” of “prekoloniale leefwyses” eintlik is nie.

Waarmee ons gelaat word, is dus die buikspraak van die koloniale geskiedenis. Spivak se vraag bly beslis relevant: Kan die onderhoriges praat? Maar miskien is die eintlike vraag (vir ons, in elk geval) nie soseer of die onderhoriges kan praat nie, maar veel eerder of die geesteswetenskappe kan hoor. Want natuurlik is daar ook veel meer as bloot koloniale buikspraak ter sprake: geen proses van kolonisering is volledig nie; daar is altyd oorblyfsels, hibridisering, mutasies en allerlei herwinningspogings. Die onderhoriges het eintlik nooit opgehou om te praat nie.

Maar hoe kan die geesteswetenskappe in Suid-Afrika voorgee om te luister en te hoor wanneer taal, en spesifiek die Afrikatale, so laag op die akademiese agenda is? Pogings om die Afrikale as akademiese tale te bemagtig word dikwels met agterdog en hovaardigheid bejeën. Weinig navorsing word in die geesteswetenskappe in Suid-Afrika (en ek verwys nie na taaldissiplines soos die sosiolinguistiek nie) oor die maatskaplike en politieke dimensies van taal, taaldiversiteit en ons spesifieke “taalgeskiedenis” gedoen. Selfs in plaaslike publikasies oor kwalitatiewe navorsingsmetodes, oor etnografie en orale geskiedenis, aktiwiteite wat fundamenteel afhanklik is van taal en vertaling, word daar weinig sistematiese energie bestee aan die implikasie van taalverskeidenheid en vertaling.

Ek probeer nie hiermee voorgee dat die geesteswetenskappe in Suid-Afrika van hulle koloniale bagasie ontslae kan raak bloot deur inheemse tale aan te leer, of deur middel van inheemse tale te werk nie. So eenvoudig is dit ook nie. Die inheemse tale is in ’n sekere sin ook koloniale produkte, nie ongeskonde prekoloniale gegewens nie. Inheemse spraakvorme is immers koloniaal toegeëien en gereduseer en gestandaardiseer tot “tale” in die Europese sin van die woord, waarop verskillende en meestal heel arbitrêre etnonasionalistiese konstruksies boonop staangemaak is ...

Maar hierdie historiese kompleksiteit is nogtans geen verskoning vir die negering van die Afrikatale in die geesteswetenskappe nie – want miljoene mense praat dit, hoe arbitrêr die grense tussen verskillende “tale” dan ook somtyds is. Die negering van die Afrikatale in die geesteswetenskappe bly ’n vorm van sistemiese geweld. Dit laat die meeste Suid-Afrikaners sprakeloos binne die diskoerse en voorstellings van die geesteswetenskappe. Hulle bly ongehoord en onderhorig. En dit laat ons, diegene wat die geesteswetenskappe bedryf, horende doof. En ons dissiplines sonder luister.

Wat hoor ek dus wanneer Suid-Afrika op die spraakbank gaan lê? ’n Roesemoes van stemme, ja, maar weinig sin. Soos so baie van my kollegas is ek gewoon nie toegerus om na hierdie land se mense te luister nie, om hulle te hóór nie ...

Verwysings

Fanon, F. 1961. Les damnés de la terre. Paris: Francois Maspéro. [In Engels vertaal deur Constance Farrington as The wretched of the earth, Penguin Books, 1990.]

Spivak, G. 1993. Can the subaltern speak? In P Williams & L Chrisman (reds), Colonial discourse and post-colonial theory (pp 66–111). New York: Harvester Wheatsheaf.


praatbank_desmond240

 

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top