SA-illustreerders: Maryke van Velden

  • 1

Naam
: Maryke van Velden

’n Skrikkel, deur Maryke van Velden

 

Wat is jou day job?

Voornemende studieskuld-afbetalende Engels-onderwyseres.

In watter medium werk jy die graagste, en waarom verkies jy die spesifieke medium?

Byna enigiets waarmee beide ’n fyn lynkwaliteit en ’n smudge verkry kan word. Ek hou veral van pen-en-ink en waterverf-inkleurpotlode. Laasgenoemde skep ’n assosiasie met kindertekeninge en word nie te ernstig opgeneem nie. Verder geniet ek dit ook om met collage te eksperimenteer.

Is daar spesifieke genres of tipes tekste wat jy die graagste illustreer?

Ek wil graag kinderboeke skryf en illustreer, maar het ook belangstelling in religieuse ikonografie en geniet selfs superrealistiese wetenskaplike illustrasie.

Wie is jou illustrasie-helde? Is daar ander illustreerders wat jou ontwikkeling as illustreerder en jou styl beïnvloed het?

Ek is mal oor die pittige tekeninge van Simon Evans, Dan Perjovschi en David Shrigley. Ander gunstelinge sluit in Jockum Nordström, Nedko Solakov, Janusz Grabianski en Evaline Ness. Onder my eweknieë het ek baie waardering vir die koddige illustrasies van Janneke de Kock en Xanele Puren en die spontane, dog sensitiewe, illustrasie van Doret Ferreira.

Lees jy graag, en indien wel, wie is jou gunsteling-skrywers?

Ek wens ek het nóg meer van lees gehou. Tans is die name boaan my lysie Anne Michaels, Michael Ondaatje, Chimamanda Ngozi Adichie en Alexandra Fuller. In Afrikaans lees ek meestal poësie. Breyten Breytenbach en Antjie Krog bly my mees geliefde digters.

Wat is die een bestaande teks wat jy die heel graagste sou wou illustreer?

Die Bybel in Afrikaans.

Saam met watter skrywer, lewend of dood, sou jy die graagste wou werk, en waaroor sou die fiksionele boek handel waaraan julle werk?

My vriend Pieter Odendaal (ja, ek hoop dat ons kort voor lank van hom as gevestigde skrywer sal kan praat). Hoe fiksioneel dit mag wees, weet ek nie, maar ek sal graag ’n digbundel van hom wil illustreer waarin natuurwetenskap as ’n estetiese dissipline verken word.

Het jy ’n ideale leser/gehoor in gedagte wanneer jy ’n illustrasie maak?

’n Nuuskierige kind.

Jy het so pas jou MPhil in illustrasie aan die Universiteit Stellenbosch voltooi. Die werk op jou uitstalling was 'n visuele uitbeelding van vier hoofstukke van die Bybelboek Job. Kan jy asseblief vir ons effe meer oor hierdie projek vertel? Waarom het jy hierdie spesifieke taak aangepak?

Gedurende die afgelope paar jaar het dit my al meer begin opval hoe didakties en sentimenteel populêre Bybelse beeldmateriaal dikwels is. Ek het begin wonder oor die hermeneutiese rol wat die aard van visuele beeldmateriaal kan speel in bepaalde denkwyses rondom spirituele begrippe en uiteindelik besluit om die tendens te ondersoek as navorsingsonderwerp vir my skripsie. Vir die praktiese komponent van hierdie studie het ek toe besluit om self ’n gedeelte uit die Bybel te probeer illustreer op ’n meer ambivalente of poëtiese wyse, met die hoop om uiteindelik nuwe assosiasies en betekenisvorming rondom ’n bepaalde teksgedeelte te stimuleer. Ek het die boek Job gekies op grond van sy digterlike aard asook die klem wat in hierdie laaste hoofstukke op die onverklaarbare misterie van die skepper-God val.

Hoe het die illustrasie-gogga jou gehap, en beplan jy om nou 'n voltydse illustreerder te word?

So lank as wat ek kan onthou, is ek nog altyd lief daarvoor om te teken. Gedurende my derde jaar op universiteit het ek egter ’n voltydse “doodler” geword in ’n poging om my (aandag-afleibare) gedagtes beter te kanaliseer tydens lesings. Sedertdien dra ek altyd ’n klein blanko boekie en tekenmateriale met my saam oral waar ek gaan. Ek hoop om eendag voltyds te kan illustreer, al weet ek nie hoe vinnig hierdie ambisie sal realiseer nie.

Stel jy enigsins belang in skryf ook? Sou jy dit oorweeg om 'n eie boekprojek aan te pak wat jy self illustreer?

Vir seker.

 

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top