SA-illustreerders: Chris Venter

  • 4

Naam
: Chris Venter

'n Skrikkel, deur Chris Venter

Wat is jou "day job"?

Ek is ‘n kinderboek-illustreerder. Ek werk vir myself van die huis af.

 

Is jou werk al gepubliseer?

Ja, ek werk al van 2009 af, so ek is maar nog jonk in die bedryf, maar ek het al ‘n paar boeke op my naam. Ek het al ‘n hele paar opvoedkundige werke gedoen vir uitgewers soos MML, Oxford University Press, Via Afrika en ander. Dan het ek seker so ongeveer 20 boeke al gedoen vir LAPA Uitgewers en NB-Uitgewers. Hierdie boeke sluit in my ATKV Woordveertjie-wenner, Karla Krullebol deur Theresa van Baalen; Waarvoor is seerowers bang deur Jaco Jacobs; Die Speurhond Willem-reeks deur Elizabeth Wasserman; Nina en die wacky hare deur Elizbe van der Colff; ‘n Kas vol monsters-reeks, Middernagfees en My boetie dink hy’s Batman, almal deur Jaco Jacobs. Ek werk ook as illustreerder vir Vrouekeur-tydskrif.

 

Hoe het die illustrasie-gogga jou gehap? 

Vandat ek kan onthou het ek prentjies geteken. Ek is een van daardie gelukkige mense wat van kleins af gegroei het saam met my tekenvermoëns. So vandag werk ek heeltemal uit intuïsie uit. Dis soos asemhaal vir my. Ek het eers begin met die beeldende kunste in ‘n foto-realistiese styl. Toe het ek na skool vir vier jaar grafiese ontwerp gedoen en in 2008 my graad gekry. Tydens my studies was ek blootgestel aan die wêreld van illustrasie. My manier van werk en dink het heeltemal verander onder die lektorskap van die bekroonde illustreerder Piet Grobler. Vandag werk ek baie meer los in styl, maar realisme sal altyd daardie nodige fondasie bly vir my.

In 2009 het ek besef ek wil nie ‘n grafiese ontwerper wees nie, maar ‘n voltydse kinderboek-illustreerder. Ek stuur toe van my portefeulje-werke per e-pos aan verskillende uitgewers, en dis hoe ek my eerste werk begin kry het. Ek is ‘n geweldig passievolle mens, en my werk is uit en uit deel van wie ek is. As kind is ek deur die prente in kinderboeke nader aan boeke gebring. Ek was maar baie stadiger met die leerwerk as ander kinders in die begin, omdat ek daarvan gehou het om op my eie ritme te werk. My ma is vroeg in my lewe oorlede en ek was as kind duidelik geraak daardeur. My prenteboeke het my hier gehelp om beter en vinniger te lees en terselfdertyd kreatief te wees en om by te bly met die ander kinders in my klas. Vandag werk ek met die wete dat ek vir ander kinders net so kan help met my prente en dit heg soveel waarde vir my aan dit wat ek doen.

In watter medium werk jy, en waarom verkies jy dié spesifieke medium? 

Ek werk meestal digitaal, omdat dit vinniger is, maar my hart sal altyd lê by tradisionele media. Ek verkies goeie kwas-hale en lynwerk bo plat skoon vlakke van digitale kleur, so wanneer ek op die rekenaar werk, probeer ek ‘n bietjie lynwerk en tekstuur inbring waar ek kan. Ek hou van die idee dat elke mens sy of haar eie manier het van merk maak en dit speel definitief ‘n rol in die manier waarop ek werk. Ek probeer gereeld my manier van merk maak gebruik op ‘n nuwe manier. Elke projek wat ek aanpak, word behandel op ‘n nuwe manier wat gepas is. As ek dit nie doen nie, voel dit vir my asof ek nie die beste van my vir die betalende werkgewers gee nie. Dit raak ook gou vervelig as ek nie gereeld my werkswyse verander nie. Dis natuurlik waar ‘n wye kennis van verskillende tipes media baie help.

Is daar spesifieke genres of tipes tekste wat jy die graagste illustreer?

Ek probeer spesifiek wegbly van die advertensiebedryf af. Dis nie my ding nie. As dit kom by boeke, is ek is mal oor enige teks. My gunsteling is prenteboeke vir die jongklomp, omdat daar baie meer vryheid is in styl. Ek begin ook nou stadig in die Christelike boekmark in beweeg met my werk. Dis iets wat ek van die begin af wou regkry, omdat ek nog altyd kleurvolle Bybel-prentjies wou maak, soos dié waarmee ek grootgeword het, maar net met my eie stempel op.

Lees jy graag, en indien wel, wie is jou gunsteling-skrywers? 

Ek lees nie so baie soos ek wil nie, so my kennis van skrywers is nie so groot soos my kennis van kunstenaars nie, maar ek het my gunstellinge. Victor Hugo se Les Miserables, Christopher Priest se The Prestige, Audrey Niffenegger se The time traveler’s wife. Dis drie van my gunsteling-boeke en skrywers. Enigiets deur Paulo Coelho en Roald Dahl hou ek van.


Wie is jou illustrasiehelde? Is daar ander illustreerders wat jou ontwikkeling as illustreerder en jou styl beïnvloed het?

Ja, soos ek genoem het is my mentor, Piet Grobler, ‘n groot invloed. Niki Daly se werke, Maja Sereda, Quentin Blake, Oliver Jeffers, Jim Lee, Alex Ross, Masashi Kishimoto, Russell Ayto en Maurice Sendak, en nog vele meer. Ek het ‘n waardering vir elkeen van hierdie kunstenaars. Die passie wat hulle het vir hulle werk is aansteeklik en ek dink dis die grootste invloed wat ek by hulle kry. Daar is iets wat my lok tot die werke van ‘n kunstenaar wat ‘n duidelike styl het maar dit kan aanpas by enige projek op die gemaklikste manier. Mens kry soveel kunstenaars en illustreerders wat net op een manier kan werk. Daar is niks fout daarmee nie, maar ek verkies diversiteit en “buigsaamheid”.

Saam met watter skrywer, lewend of dood, sou jy die graagste wou werk, en waaroor sou die fiksionele boek handel waaraan julle werk?

Roald Dahl. Ek sal graag ‘n baie kleurvolle en onrealistiese boek wil illustreer waar daar geen reëls is nie. Daar moet baie krulle en kleure en beweging in wees sodat ek lekker kreatiewe moeite kan insit. Miskien twee kinders wat op ‘n avontuur gaan en ‘n les leer en aan die einde is daar ‘n “twist” in die storie. Daar moet ook pratende diere wees en ‘n groot, vriendelike monster.

Wat is die een bestaande teks wat jy die heel graagste sou wou illustreer?
 

Enige klassieke sprokie. Spesifiek Jan en die boontjierank. Ek kan net sien hoe ek nuwe lewe sal wil gee aan die boontjierank en al sy krulle en draaie. Na dit sou ek sê Alice in Wonderland, Sneeuwitjie, Die drie varkies, Rooikappie, ensovoorts. Enigiets met reuse in.

Het jy ’n ideale leser/gehoor in gedagte wanneer jy ’n illustrasie maak?

Dit hang maar van die projek af. Ek probeer elke keer ‘n kunswerk maak en terselfdertyd iets wat geskik is vir die kinders vir wie die boek geskryf is. Baie van die uitgewers met wie ek werk hou daarvan om klem te plaas op ma’s en oumas wat die boeke koop. Vir my is dit belangriker om klem te plaas op die kinders. ‘n Kinderboek moet ‘n “wegkomkans” wees vir die kinders. In my navorsing het ek geleer hoe belangrik ‘n kinderboek kan wees in die ontwikkeling van ‘n kind se kreatiwiteit. Kreatiwiteit is iets wat ‘n kind deur sy/haar hele lewe kan help. Dit is veral nodig in vandag se wêreld, waar progressie en verandering deel is van die lewe. Om een of ander rede word die ontwikkeling van kreatiwiteit dikwels misgekyk in ons skole en dis vir my baie hartseer. As gevolg daarvan het ek dit my lewensdoel gemaak om prente te skep wat vir kinders ‘n groter idee kan gee van die storie. Volgens kindersielkundiges is die blootstelling aan variasie baie belangrik in die ontwikkeling van kreatiwiteit. Dit alleen is definitief iets wat ek kan gebruik in my eie skeppingsproses.

Dit is my wens dat alle ouers leer en besef hoe belangrik die ontwikkeling van kreatiwiteit is in hul kinders se lewens. Jy hoef nie net ‘n kunstenaar te wees om kreatief te wees nie. Selfs die logiese “linkerbrein”-besigheidsman moet nuwe, oorspronklike idees kry om iewers te kom in die wêreld. Daarvoor het hy kreatiwiteit nodig. Hoe vroeër ‘n kind dit kan aanleer, hoe beter. Soos ek sê, dit is my dryfkrag om so iets reg te kry. Ek is nou maar in die begin van my loopbaan, so ek probeer nog ‘n manier kry om op my eie manier hierdie idee na vore te bring in my werk.

Ek weet sommer ‘n meer kreatiewe Suid-Afrika sal baie probleme oplos in ons land. Mense hier hou dikwels te erg vas aan dit wat hulle ken en wil nie nuwe dinge probeer nie, en hierdie tekort aan nuuskierige verkenning is natuurlik die vyand van kreatiewe ontwikkeling. Maar terselfdertyd is goeie dinge aan die broei in ons land. Ons sal maar moet sien waar ons land oor 20 jaar gaan wees. Ek weet net ek gaan aanhou boeke vir kinders illustreer, nie net omdat dit belangrik is nie, maar ook omdat ek dit so geniet. (Sjoe, die antwoord was langer as wat ek bedoel het.)

Is daar een illustrasie/illustrasieprojek uit jou loopbaan wat uitstaan as absolute gunsteling?

Karla Krullebol. Dit was my eerste prenteboek en ek het die meeste uit hom uit geleer van ons bedryf. Dit was een van die grootste uitdagings van my lewe en dit het al baie deure vir my oopgemaak. Toe ek my eerste ATKV Woordveertjie gewen het vir die illustrasies, was dit asof ek ‘n teken gekry het dat hierdie loopbaan die regte loopbaan vir my is. Daarna het al my twyfel verdwyn.

Keer terug na die SA-illustreerders indeksblad.

  • 4

Kommentaar

  • Beste Chris Venter

    Ik ben een boek schrijfster. Maar heb een vraagje hoeveel zal het kosten om bij jouw 40 kleine tekeningen te laten maken?

    Ps. Het gaat over een kinderboek. En je naam komt zeker onder elke tekening in mijn boek voor.

  • Ek wil meer van jou werke kennis neem. Ek is besig met kinderboeke en benodig iemand wat vir my die tekeninge kan doen. Ek beoog 'n reeks leesboeke iets vir Gr. 1 - 3

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top