’Toerisme’ is die gonswoord deesdae; almal, vanaf gehuggies, deur dorpies tot by stede, konsentreer deesdae op toerisme vir ’n (ekstra) inkomste. Bemarking is natuurlik belangrik, daar moet bekendgemaak word wat uniek in die dorp is om belangstellendes te lok. Die probleem is nou dat ’bemarking’ verwar word, en dus vervang word, met ’skik na’.
In die proses om toeriste te lok word alles nou Engels; ’dit word maar gedoen vir die toeriste’ is wat altyd aangevoer word en op die manier verloor die dorp sy karakter, juis dit wat die toeriste-aantreklikheid behoort te wees. Dit is alles goed en wel vir stede wat in elk geval Engels is – soos byvoorbeeld Pretoria, Bloemfontein en Johannesburg – maar dit is ’n tragedie wat betref plattelandse plekkies. Dullstroom, byvoorbeeld, of Clarens, kan netsowel ’n village in Engeland wees.
Behalwe dat hierdie praktyk vals is, is dit ook ’n afjak vir Afrikaanssprekendes. Die Afrikaanssprekende voel nou soos ’n uitlander in sy eie land (die wat nog bereid is om hier vakansie te hou) en die Engelsman voel tuis tot so’n mate, dink ek, dat hy netsowel in sy eie land kan toer. Die Duitsers, Hollanders ens voel hulle is maar in net nog ’n Engels-Amerikaanse kolonie.
Dit is ’n skande dat ons Nasionale parke net Engels is, kamtig die besigheidstaal. Wat het geword van die klant is koning? Daar is egter een troos; dit is ons Afrikaanssprekendes se eie skuld. By mangel van die Afrikaanssprekende se geld sal die toeristebedryf beslis struikel. Maar ons is te slapgat, laat gods water oor gods akker dawer en donder.
Buitendien, Engels pas meer by nagklubs en neonligte en Afrikaans by die veld en wild. Die Engelssprekende broers Hobson dink ook so; hulle het hulle dierestories in Afrikaans geskryf.
Jan Rap

