As ’n storie ’n emosie wek by die leser is dit ’n goeie storie. Die emosie kan afgryse wees, of verwondering, simpatie, blydskap, behaaglikheid, enige emosie en hoe intenser die emosie hoe meer geslaagd was die storie. Amper soos skilderye; La Guernica van Goya skok jou terwyl Pierneef se Louis Trichardt jou gemoed streel, twee baie uiteenlopende maar geslaagde skilderye.
Emosies weer, word gewek, onder andere, deurdat die skrywer jou verwysingsraamwerk rek of skud of roer. Onder andere: ’n Onverwagte ontknoping verbaas jou omdat jy nog altyd op die verkeerde verwysingsraamwerk was (’n goeie grap werk ook so). ’n Goed nagevorste storie lig die leser in, bedrewe taalgebruik beïndruk en besiel die leser en ’n stygende spanningslyn boei die leser. ’n Oorlogstorie byvoorbeeld, of een oor pyn en lyding kan die leser met afgryse vervul maar sy verwysingsraamwerk is verbreed met nuwe inligting en mag selfs ’n keerpunt in die leser se lewe veroorsaak. Ensovoorts.
Vir ’n skrywer om met ’n goeie storie vorendag te kom moet hy dus, in ’n groot mate, vertroud met die leser se verwysingsraamwerk wees. Vir ’n storie om goed te wees moet hy ten minste gelees word (dink aan die vallende boom in die bos). ’n Herman Charles Bosman-storie sal byvoorbeeld geen aanklank vind by ’n Noord-Koreaanse ryslandwerker nie. Dit mag die rede wees hoekom Hennie Aucamp se storie slaag by sekere lesers en by andere nie; daar is subkulture met verskillende verwysingsmatrikse (Réney kan dus nie mense kwalik neem wat nie van Aucamp se storie hou nie en insgelyks kan die mense wat nie van die storie hou nie, nie vir Réney kwalik neem dat sy wel van die storie hou nie).
Terloops, emosies wat dalk nie tel nie is teleurstelling en afkeer omdat ’n storie swak is – swak taalgebruik, swak spanningslyn, swak navorsing ens.
Jan Rap


Kommentaar
Beste Jan, en as ek moet eerlik wees ... ja, harte soos Oester, Oom Daan, Pieter Redelinghuys en Jaco Fourie het al sulke tatoeëer merke op my geheue gelaat ...