’n Blik op ’n blik vol verse

  • 1

1

Groot Verseboek (in blik)
André P Brink

Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 9780624047155
Prys: R595

Klik hier en koop jou eksemplaar van Groot Verseboek nou van Kalahari.net!

Om ’n resensie van Groot Verseboek te skryf is nie dieselfde as om enige ander resensie te skryf nie. Om die resensie te skryf nadat daar al ’n debat daaroor gevoer is, nadat daar al hard deur sommige joernaliste probeer is om die verskyning van Groot Verseboek iets polemies te maak, dwing jou om jouself opnuut af te vra wat jy eintlik doen as jy ’n resensie oor ’n bloemlesing soos hierdie skryf.

Gewoonlik begin ’n resensie met ’n kort inleiding waarin die geresenseerde teks as't ware aan die leser voorgestel word op grond van byvoorbeeld ’n verwysing na ’n vorige teks van die outeur of deur enkele biografiese opmerkings oor die outeur te maak. As deel van die inleiding probeer die resensent ook dikwels om aan die leser te verduidelik wat die leser te wagte kan wees op grond van sy/haar kennis van die vorige werke van die outeur.

In die geval van Groot Verseboek is bekendstelling onnodig. Byna almal wat  Afrikaanse poësie lees, het dit leer ken uit die Groot Verseboek. In ’n tyd toe boeke nog ’n belangrike plek in selfrespekterende huishoudings beklee het, het die Groot Verseboek saam met die FAK-Volksangbundel, Kook en Geniet en Die Bybel ’n plek in die meeste Afrikaanse huise gehad en sodoende ’n rol gespeel in die vorming van ’n kollektiewe identiteit.

Die bloemlesing het in sy vele gedaantes en hersienings ’n belangrike kanoniserende rol gespeel en vir jare in onderrig sentraal gestaan. Groot Verseboek is boonop (en dit besef ’n mens veral nóú met hierdie uitgawe) in ’n sekere sin ’n argief. Digbundels verskyn meestal in klein oplae en die kans om talle (die meeste?) van die gedigte wat hierin opgeneem is, in hulle oorspronklike bundels te lees, is bitter klein. Hierdie bewaringsrol van Groot Verseboek moet nie onderwaardeer word nie. (Al sou mens dadelik daarop kon wys dat dit juis hierdie rol is wat ’n groot effek het op die beperkende gevolge van kanonisering. As argief sal ’n elektroniese versameling van Afrikaanse poësie dalk sinvoller wees, omdat ruimtebeperkings dan nie ’n beduidende rol speel nie.)

2008 se Groot Verseboek lyk op die oog af baie anders en die formaat verskil van die vorige uitgawe, maar eintlik weet almal wat ’n Groot Verseboek is en ’n bekendstelling is beswaarlik nodig.

Dit is die tweede keer dat Groot Verseboek onder André Brink se naam verskyn, na al die jare wat dit deur Opperman saamgestel is. Die 2000-uitgawe het reeds Brink se eie stempel gedra, maar die feit dat die voorwoord tot die 2008-uitgawe byna woordeliks ooreenstem met die vorige uitgawe s’n, laat mens besef dat die verandering nie so groot is nie. In die eerste paragraaf van die nuwe voorwoord word daardie erkenning ook gemaak:

Agt jaar ná die eerste uitgawe van Groot Verseboek in die nuwe millennium, het dit tyd geword vir ’n nuwe benadering – nie soseer wat betref die keuse van gedigte of die algemene riglyne vir daardie keuse nie, as die formaat en aanbieding daarvan. (Brink 2008:v)

Dit is dus duidelik dat die leser wat vertroud is met die vorige Groot Verseboek, nie hier verras gaan word met ’n nuwe denke oor die Afrikaanse poësie nie. Brink hou die koers wat hy in 2000 ingeslaan het. En dit is ’n koers wat hy tóé reeds gevestig het op die tradisie wat deur Opperman daargestel is.

Die "nuwe benadering" tot "formaat en aanbieding" is opvallend. Vir die eerste keer verskyn Groot Verseboek nie meer in een band nie, maar in drie. Aan die een kant is dit natuurlik ’n groot verbetering. Die 2000-verseboek was dikker en swaarder as die HAT. Die taai klou van die grond vermenigvuldig elke pond en studente wat die boek moes saamdra klas toe, of diegene wat hulle poësie by kerslig in die bad wou lees, moes leer om met een kap blitssnel die swaartepunt te verstel. Die drie hanteerbare bundels is in daardie opsig ’n groot verbetering. Aan die ander kant is dit tog jammer dat mens nie meer alles in een hanteerbare boek ter hand kan neem nie en dit beteken ook dat jy die risiko loop om soms nie die "regte" deel by jou te hê nie.

Die drie bundels bring onvermydelik ’n soort periodisering van die Afrikaanse poësie mee. Byna soos daardie Nederlandse bundels, "Uit die skat van die Nederlandse liriek", waarmee Gerhard Dekker en TT Cloete geslagte studente aan die Nederlandse digkuns bekendgestel het: Van Hendrik van Veldeke tot Spieghel; Van Hooft tot Luyken; Van Bilderdijk tot Gorter

Die periodisering wat so ’n indeling van die poësie in verskillende bande onwillekeurig meebring, het gewis voordele. Alle pogings tot periodiserings is natuurlik aanvegbaar. Radikale breuklyne waarvolgens die poësie of die digters ingedeel kan word, bestaan selde. Maar saam met die afsonderlike inleidings voorin elk van die drie bundels, bied die nuwe "formaat en aanbieding" ook ’n indeling van die Afrikaanse poësiegeskiedenis wat ’n sinvolle greep daarop moontlik maak.

Natuurlik is Brink maar alte bewus van al die gevare van periodisering. Daar is ook geen naïewe aanduiding van breuklyne tussen die drie boeke nie. Maar die oorsigte oor die poësie in elke deel, hoe oppervlakkig ook al, gee nogtans vir enige leser ’n helder aanduiding van sekere tendense en kenmerke van die poësie in die spesifieke deel.

Oor die eerste twee dele gaan daar waarskynlik nie te veel gegons word nie. Die kanon is teen wil en dank, ten goede of ten kwade, reeds gevestig. Kleiner veranderings soos ’n vers of twee wat bygevoeg en ’n paar wat weggeneem is ter wille van ’n ander klemplasing, of om digters se poësie wat sedert 2000 verskyn het, by te werk, is byna die enigste verskil tussen die eerste twee dele van 2008 en die grootste deel van die 2000-uitgawe.

Barend Toerien het destyds oor die 2000-uitgawe opgemerk:

In the introduction, Brink states that since Opperman's last compilation of 1980, about 400 new volumes of poetry in Afrikaans had been published, and he seems to have made selections from all of these. Good as they are, too many poets of the second rank have a cluttering effect. (Toerien 2001)

Hierdie "cluttering effect" is beslis geldig ten opsigte van die derde deel. Anders as oor die poësie van die eerste sewentig jaar van die vorige eeu, is die afstand wat ons nou op die afgelope drie dekades het, nie so groot nie. Gevolglik word die derde deel deur ’n wye verskeidenheid gekenmerk. Brink probeer om met hierdie deel so inklusief as moontlik te wees en om die verskeidenheid in die poësie aan te dui. Hy kry dit goed reg. Miskien té goed, sodat die laaste bundel ’n bietjie van ’n snippermandjie word, dalk te veel "poets of the second rank" insluit. ’n Mens kan verstaan dat ons eers oor ’n dekade of wat beter sal kan oordeel oor watter digters of gedigte uit hierdie verskeidenheid ’n durende invloed gehad het. Dan sal ’n sterk redigerende hand ook makliker ontslae kan raak van baie van die (tweederangse?) gedigte van die derde deel.

Een hinderlikheid van die formaat en aanbieding is dat die bundels waaruit die verse kom, nie altyd duidelik aangetoon is nie. By die meeste van die digters is dit nog redelik maklik om in die bibliografie aan die einde van die derde deel na te slaan uit watter bundel ’n spesifieke gedig kom, maar waar daar van sekere digters, soos byvoorbeeld Breytenbach, Ina Rousseau of Van Wyk Louw, een of meer versamelbundels (of "keur"-bundels) verskyn het, word hierdie versamelbundels in die bibliografie vermeld en nie die individuele bundels nie, met die gevolg dat dit in sulke gevalle onmoontlik is om af te lei wanneer en waarin ’n bepaalde gedig verskyn het. Daarvoor sal die leser ’n soektog moet onderneem.

    

2
Die langste deel van ’n resensie bestaan gewoonlik uit ’n beskrywing. Jy kan die "storie" kortliks vertel as dit ’n roman is (sonder om al die geheime weg te gee), of die manier waarop vertel word, uiteensit: temas word aangedui, tegnieke beskryf. So ’n beskrywing is die maklikste deel. (En dit is moontlik waarom dit ook meestal die langste deel van resensies is.)

Die drie dele van Groot Verseboek kom in ’n blik. G’n mens weet waarom nie: jy kan die blik nie op jou rak sit nie, jy sukkel om die gedigte weer in die blik terug te druk en die ergste van alles is dat ’n mens vermoed dat hierdie verpakking bydra tot die hoë koste van die versameling. Ek sien al hoe studente terugsteier as hulle Groot Verseboek se prys in die boekwinkel sien. Hulle gaan die boek beslis nie koop nie. Die gedigte wat behandel word, sal hulle eerder gaan fotokopieer, en dan gaan hulle natuurlik ook nie die ander gedigte rondom dié wat in die klas gelees of bespreek word, lees nie. Dit is jammer dat een van die groot rolle wat Groot Vverseboek deur die jare gespeel het, deur hierdie prys geskaad word.

Net soos ’n mens eintlik nie die bekende bekendstel nie, is ook die beskrywing van die bekende onnodig. Baie lesers kan immers groot dele van die Groot Verseboek uit hulle koppe opsê al het hulle nog nie die nuwe blik oopgemaak nie: van die treurige wysie op die ooswind se maat af deur die dofsware plof en die nooddruf wat besmet, tot die skoonheid van die lyf wat opslaan uit die grond, ’n kaalvoetgedig en die stuur van ’n rooiborsduif.

En bekend maak bemind. Wat ’n mens dus onwillekeurig doen wanneer jy die boeke oopmaak, is om na jou gunstelingverse te soek, na daardie gedigte wat jy ken of waarvan jy gedeeltes ken, die gedigte wat jou tevore al geraak het. Dan kan jy natuurlik ook later jou waardeoordeel oor hierdie Groot Verseboek skoei op watter van jou gunstelingverse ingesluit is en watter is nie.

Een probleem van hierdie benadering om so te begin rondblaai op soek na gunstelinge, is dat jou oog val op ander verse en jy begin hulle lees en ure later sit jy nog en lees en lees. Soms is jy verras oor verse wat jy nog nooit gelees het nie, soms verras deur halfbekende verse wat jy skielik heeltemal anders sien. Groot Verseboek bied steeds ’n ongelooflik genotvolle blootstelling aan die Afrikaanse poësie. Dit bly die boek wat jy enige tyd kan oopslaan en begin lees. Vol verrassings en ontdekkings.

Die eerste deel bevat die begin van die Afrikaanse poësie soos ons dit almal leer ken het: van "Di steweltjiis fan Sanni" en "Dopper Joris" tot by Olga Kirsch en Sheila Cussons se verse. Van laasgenoemde is ’n paar meer verse opgeneem wat sedert 2000 verskyn het. Hierdie deel sluit ook natuurlik die Groot Kanonne van die "ouer" kanon in: Louw, Opperman, Eybers. Sonder noemenswaardige veranderings ten opsigte van die vorige Groot Verseboek word Deel 1 aangebied as die aanvang van die Afrikaanse digkuns met rympies as vertrekpunt tot die hoogs gesofistikeerde poësie van skaars drie dekades later.

Die tweede deel begin met Ina Rousseau en eindig ruweg teen die einde van die sewentigerjare, vroeg-tagtigerjare. In hierdie deel oorheers Breyten Breytenbach en Antjie Krog. Al twee hierdie digters het gedurende die afgelope agt jaar, sedert die vorige uitgawe van Groot Verseboek, sterk bundels gepubliseer. Dit verbaas dus nie dat heelwat nuwe gedigte uit Die windvanger en Verweerskrif hier opgeneem is.

Die derde deel, wat begin met TT Cloete, strek tot sommige digters wat nog net in bundels soos Nuwe stemme gepubliseer het. Van sommige van hulle is selfs meer gedigte opgeneem as van digters wat al verskeie eie bundels die lig laat sien het. Dit is in hierdie deel dat mens die gevoel kry van ’n lawaaierigheid, ’n kakofonie.

Uiteraard is ’n gedugte poësieleser soos Brink nie weens slordigheid of ’n luiheid om keuses te maak in hierdie warboel gedwing nie. Hy verantwoord sy keuses vir hierdie derde deel ook oortuigend in die voorwoord. Daar is veral twee goeie redes waarom die derde deel so lyk: die eerste is dat die Afrikaanse poësie van die afgelope dertig, veertig jaar ’n verbysterende verskeidenheid vertoon. Brink probeer om aan hierdie verskeidenheid, waarin "veralgemening ál moeiliker raak", uitdrukking te gee. Die tweede rede vir die "cluttered" gevoel is dat Brink wou seker maak dat hier nie uitgesluit word nie. Kanonvorming is ’n omstrede proses. Brink wou die uitsluiting van sekere digters, hetsy om politieke redes, hetsy om estetiese redes, voorkom. En die deurmekaar gevoel wat die derde deel skep, bied dalk juis daardeur ’n goeie beeld van ’n "demokratiese" era.

’n Aspek waaroor ’n mens ook nog heelwat vrae kan vra, is Brink se besluit om vertalings op te neem. Hy gee oortuigende argumente vir waarom Krige se vertalings byvoorbeeld opgeneem word, wat hoegenaamd nie meer geld wanneer dit kom by Hennie van Coller se vertalings van Luc Grove se poësie nie. Dit is ’n mynveld wat hier betree word.

Talle digters en kritici het in hulle reaksie op Groot Verseboek geskryf dat tyd uiteindelik die ware toetssteen is. Tyd is natuurlik geen objektiewe beoordelaar nie. Sekere werk bly immers juis oor tyd heen behoue omdat dit deur mense met mag beskerm word, omdat dit in bundels soos hierdie opgeneem word. Daar is geen waarborg dat alles wat "goed" is, noodwendig oor tyd heen behoue gaan bly nie, of dat alles wat goed is, uiteindelik noodwendig aan die vergetelheid ontruk sal word nie. ’n Mens kan hoogstens verwag dat dit wat wel behoue bly, waardevol sal wees.

3
Uit die beskrywing van ’n teks wat geresenseer word, vloei ’n interpretasie voort. Selfs al het interpretasie sedert die hoogbloei van teorie dikwels op die agtergrond verdwyn, en al is dit ook met agterdog bejeën, bly interpretasie tog deel van resensies. Hoe ’n mens ’n bloemlesing interpreteer, hou waarskynlik verband met die vrae oor kanonisering, oor periodisering en oor die doel van die bloemlesing. ’n Mens sou nog kon bespiegel oor die rol van die eerste Groot Verseboek, wat juis verskyn het tydens die opbloei van Afrikaner-nasionalisme, in ’n tyd toe ’n Afrikaner-identiteit gevestig is. Mens kan ook bespiegel oor die rol wat Groot Verseboek en Opperman (doelbewus of nie) wel daarin gespeel het. Dit is egter moeilik om by Brink aanduidings te kry van doelbewuste kanonisering met so ’n politieke doelwit.

Uiteindelik word ook van die resensent verwag om ’n waardeoordeel uit te spreek. ’n Waardeoordeel sal hopelik logies voortvloei uit die beskrywing en die interpretasie en nie sonder meer getuig van ’n paar vooroordele nie. Groot Verseboek is ’n onmisbare en toeganklike argief. Dit is ook ’n onontbeerlike hulpmiddel in die onderrig van poësie. Dit bied ’n gemaklike oorsig oor die Afrikaanse poësie. Die hanteerbare boeke bied byna eindelose leesgenot.

Reaksie op Brink se Groot Verseboek 2008 is uiteenlopend: van skerp kritiek tot onbevange lof. Maar wat mens ook al hieroor sê, moet elkeen toegee dat dit ’n onbenydenswaardige taak is om so ’n samestelling aan te pak. Die aantal gedigte en digbundels waaruit gekies moet word, verg ’n byna bomenslike kennis en geheue. Geen wonder nie dat selfs wanneer daar skerp kritiek teen die nuwe Blik gerig word, daar telkens ook waardering is vir die duiselingwekkende taak. En ’n mens kan nie anders nie as om respek te hê vir die groot stuk werk. Jy kan grappies maak oor die blik met sy drie boeke, die ietwat sentimentele "My liefdesverklaring aan die Afrikaans poësie"-aanhaling buite-op die blik; jy kan wonder wat om met die blik te doen, bedenkinge uitspreek oor sekere insluitings en oor ander uitsluitings, maar jy moet jou tog verwonder dat hierdie taak onderneem en afgehandel is, dat iemand kans gesien het om die Afrikaanse digkuns in ’n blik te druk. Dit is ’n avontuur en ontdekkingstog om die boeke oop te slaan.

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top