RSG-program oor borsvoeding

  • 1

… was baie interessant. Ek het gewag dat iemand inbel en vertel van die plant wat 'n vriendin eet as die ma vir 'n ruk moet weggaan. Die vriendin ontwikkel/produseer dan melk en sy voed die babatjie tot die ma terugkom. Ek het ook gewonder oor hierdie voorgeboortelike klasse wat, lyk dit my, veral die Amerikaners, man en vrou, bywoon: Gemeenskappe in die bos, sê die pigmeë byvoorbeeld, het nie sulke klasse nie en tog kom hulle klaar. Miskien is van hierdie goed genoem terwyl die saag aan die gang was want ek luister maar gewoonlik radio in die garage.

Die program was egter meer ontstellend as wat dit interessant was: Die Afrikaans was uiters swak. Veral die een gas se Afrikaans was so deurspek met onnodige Engelse woorde, soos 'smooth', 'skin on skin' ens dat dit kramp-teweegbringend was. Selfs die programleier het op 'n stadium van 'mees belangrikste' gepraat.

Die rede hiervoor is natuurlik hierdie simpel idee dat die besigheidstaal Engels en die droomtaal Afrikaans is. Hoe meer jy Engels by die werk en openbare instansies praat hoe gouer span jy nie meer die Afrikaanse woorde in nie, selfs al is jy by die huis en op die manier gaan die mense se Afrikaans agteruit. Dit ís so, kyk maar die spelfoute op SêNet en ander werwe, luister maar na die Afrikaans op die radio, gaste EN omroepers s'n, dis pateties. Terloops, mens dink of droom in elk geval nie in 'n taal nie.

Sodra mens hierdie goed uitwys word jy afgelag as 'n kamtige taalindoena of 'n oom met grys skoene (hoekom grys? Dis net pierewaaiers en vrouens wat grys skoen dra, oor die algemeen nou). Dis natuurlik onsin; hierdie einste mense wat hierdie verbasterde Afrikaans praat sal tien dode sterf as hulle so moet Engels praat maar hulle beskou hulself glad nie as Engelse taalindoenas nie.

RSG spog oor die toename in luistergetalle en dit ís prysenswaardig maar die gevaar bestaan dat bestuur 'n positiewe korrelasie in hierdie toename en die gebruik van geradbraakte Afrikaans sien. Hulle sal dus geen moeite doen om die standaard van die Afrikaans in hulle programme te lig nie, hulle is mos nou suksesvol. Dit is jammer. Hulle moet aanvaar dat daar die moontlikheid bestaan dat hierdie swak Afrikaans 'n remeffek het; die luistertal kon dalk nóg hoër gewees het.

Jan Rap

  • 1

Kommentaar

  • George Bekker

    Jan volgens jou: "Hulle sal dus geen moeite doen om die standaard van die Afrikaans in hulle programme te lig nie". Dit sal beter klink as jy ipv "te lig" die woord "verhoog" gebruik.

    Dankie vir jou bydraes. Ek waardeer dit.

    George

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top