republiek

  • 0

in hierie republiek van ons
klou ons snags aan mekaar vas
en hou elke droom by die brug
aan die hand en stap
saam met die nou pad
na die blou lug en
sing die stil gesang
van wintervoëls weg

in hierie republiek van ons
met die donker hart en
swaar gewonde geskiedenis en
bloedspoor deur die wattelwoud
en pyl wat ratel deur die longe en
die honde onder in die kloof
wat spoorkry en vat
en nes uitmekaar pluk
en kis spyker en hamer
vind die hand van die volk

in hierie republiek van ons
dryf die busse en die karre
vol kinders onderwater
en waai die blaaie van die boeke
verdoof deur die gange
van die skole waar die woorde
op swartborde staan en stol

in hierie republiek van ons
rol die tolbos deur die dorp
met ’n naelstring agterna
en tarentale skreeu en skrou
hou die dag terug
hou die haan plat
hou die stom stil
dek die storm op die tafel
onderhuids bo-op beens
in die vleis en spier en siel
van die elkeen hier verniel
van die almal hier vermal
van die mal en gek
en doodnormaal

in hierie republiek van ons
is die steen des aanstoots
steeds stadig aan die blom
in die ploeg van die land om
die drom waar die hande
die vuur se verbande
afskil en naderherd
vreet en eet
ieder en elk
sy broer

in hierie republiek van ons
is die laaste kans
die stadig dans
deur die verkeersirkel vleg
van die sterre en maan
met ’n hond onder die arm
deur die smeulende boorde
van die selfmoorde en ander moorde
en moorde wat nie eers
bedoel was
te moor nie

in hierie republiek van ons
die sagte glimlag van die laaste vrou
in die tent van lig
waaruit die poel ’n otter
snoet en duik
en wegdrup
en wink
en weeg
en wik
en wip
en weg

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top