Repliek op Dirk Rigter se “Afrikaans en taalvermenging” van 15 deser

  • 2

Eienaardige brief; Dirk loof Angus oor dié se verklaring van ‘linguistiese beginsels’ wat taalvermenging betref maar stem in dieselfde asem saam met my, naamlik dat taalvermenging moedswillig is (een van die redes wat ek ook aangevoer het): Dirk beweer dat, vir die jong mense, “ruik [suiwer Afrikaans] te veel na die ou Suid-Afrika.” Hulle praat dus aspris slordige Afrikaans en nie omdat hulle beter vertalings in Engels vind nie.

Ek sien, anders as Max, weet Dirk ook weldeeglik (soos Jason Lloyd, Franklin Sonn en ek) wie die ‘ons’ is. Hy stem, by implikasie, saam met my dat daar teen ‘ons’ gediskrimineer woord; ek en hy verskil net, min of meer, oor die redes. Ek reken dis diskriminasie en wraaksug, Dirk reken ook dis wraak maar dat ons dit verdien want ons sou, volgens hom, die universiteite vir onsself wou hou, dieselfde met die sportspanne, dorps- en straatname, ontspanningsgeriewe, ons sou Afrikaans op anderstaliges afdwing by die instansies waar nou net Engels aanvaar word en ons sou swartes van bevordering weerhou en hulle vordering gestriem het.

Wat ‘n geseur (oulike woord wat Dirk my geleer het, ‘seur’) maar dis so tipies van die sogenaamde liberaal; as enige mens die jammerlike mislukking van die huidige bedeling uitwys dan ‘seur’ hulle; mens moet meer póóósitief wees volgens hulle. Terselfdertyd, hoe verder ons die afgrond instort, hoe meer sanik hulle oor gewaande misdade en wanpraktyke van die vorige, suksesvolle, skoon en voorspoedige ou bedeling want dit regverdig hulle aandeel in die huidige sirkus.

Ek sê ‘gewaande misdade’ omdat niks wat Dirk daar sê waar is nie, benewens nou die feit dat dit absolute onsin is (amper gebruik ek Piet Croucamp se woord ‘snert’ maar dis darem bietjies té kras). Daar was Turfloop, Medunsa en UWK en ál die Engelse universiteite (‘hulle’ wil mos in Engels klasloop). Buitendien, selfs voor ‘94 was ‘hulle’ MEER AS welkom by Afrikaanse universiteite maar Afrikaans sou hulle kamtig daaruit hou (hoekom geld dit nie ook vir Engels nie; dis mos ook nie hulle huistaal nie?).

Die stellings van die dorp- en straatname wat ons vir onsself sou toeeien is belaglik. Moes die wit dorpstigters van Pretoria byvoorbeeld destyds in die 19de eeu swart name gekies het? Die ander bewerings is net so ’n klomp twak: Hoe sou ons hulle nou dwing om Afrikaans te praat by aanklagkantore? Het alle polisiekantore nie ook swart beamptes gehad nie? Anders as die Engelse, het ons nog nooit Afrikaans in enigiemand se keel afgedruk nie. En hoe kon ons nou politieke mag weerhou in Venda, of Transkei, of Bophuthatswana?

Terloops, nou dat ek daaraan dink: Dit sou goed gewees het as ons Eskom gehou het (en die Departement van Waterwese, en Openbare Werke, en die Spoorweë, en ….).

Dirk reken vandag se jongmense ‘gril’ vir Dan Roodt. Absolute onsin, inteendeel, die swyende meerderheid jongmense gril vir meelopers, agteryers en lakeie. Die oopkop-jongmense van vandag het geweldige respek vir Dan Roodt. Hoe anders, dit is dan iemand wat duidelik nie saam met die stroom dryf nie. Die breingespoelde luide minderheid word in die kollig geplaas deur die media om die gewenste (pro-sirkus) indruk te skep. Hulle flous nie baie mense nie behalwe nou natuurlik die heel naïewes.

Wat ‘pienk’ betref: Die kommunis was destyds openbare vyand/dreigement nommer een, die sogenaamde rooi gevaar. Anti-Afrikaner was dus, in baie gevalle verkeerdelik, as ‘kommuniste’ getipeer. Op die manier het alle anti-Afrikaneraksie by verstek die etiket half-kommunis gekry, al was hulle by uitstek kapitaliste. Die woord ‘pienk’ word maar steeds gebruik om na die meelopers en kompromiste te verwys en nie aspirant-kommuniste nie; oorgrote meerderheid van hulle hang in elk geval die kapitalisme sterk aan. Terloops, ek is bly hy verbind ‘beskaafd’ met ‘suiwer Afrikaans’.

Dit verbaas my dat Dirk die strewe om Afrikaans suiwer te hou tot my en FC Boot beperk. Daar skryf hy dan gereeld in keurige suiwer Afrikaans en het my ook al oor die vingers getik oor my Afrikaans. Ook verwys hy in goeie sin na Cobus Bester en Max du Preez se suiwer Afrikaans, so wat sê hy nou eintlik? En as mens nou mooi dink, ‘suiwer’ is hoe enige taal gepraat word, dis die verstekvariant kan jy maar sê, dwarsoor die wêreld. Kyk maar na byvoorbeeld die Engelse briewe wat al hier op die Sê verskyn het; selfs Afrikaners maak seker hulle skryf korrekte Engels.
Wat my bring by sy stelling dat RSG nou kamtig Afrikaans in al sy ‘variante’ uitsaai. Geradbraakte taal is nie ‘n variant van daardie taal nie; ‘n ou wat, sê Duits, swak praat, praat nie ‘n variant van Duits nie, hy’s gewoon nie bedrewe in Duits nie. Aksent is ‘n ander ding; verskillende streke praat met verskillende aksente, het ander uitdrukkings, metafore ens en dít is interessant en verryk die taal. Indien RSG mense aan die verskillende streektale blootstel is dit goed. Mengeltaal egter, is geen variant van Afrikaans nie, dis bloot ‘n slordige gemors.

Jan Rap

  • 2

Kommentaar

  • Die redes waarom taalvermenging plaasvind, is legio. Een is egter onontbeerlik en dit is dat tale geografies naas mekaar bestaan, vermeng sal raak. Die rede hiervoor is dat taal universeel is. Linguiste bestudeer nou taal aan die hand van enige taal of tale ter wêreld. Aanvanklik het hulle die struktuur van Latyn bestudeer en dit dan van toepassing gemaak op ander tale.

    Jan, jy beweer dat mengeltaal geen variant van Afrikaans is nie. Jy weet dus van ander variante van Afrikaans. Sal jy vir my asseblief so 'n paar voorbeelde van variante gee?

    Groete,
    Angus

  • Ek stem saam, die redes vir taalvermenging is legio, byvoorbeeld onder andere, luiheid,
    gebrek aan taaltrots, minderwaardigheidskompleks - migreer na ander taalgroep want jy beskou hulle hoër as jou eie mense, moedswilligheid,waningeligtheid (breinspoelbaarheid) - jy is onder die indruk ander hou nie van jou taal nie en wil hulle terwille wees ens ens.
    Die feit dat tale geografies naby mekaar is, is egter nie 'n rede vir taalvermenging nie; taalbeïnvloeding miskien wel. Taalvermenging, of mengeltaal, ontstaan agv die redes hierbo genoem en dit is byna sonder uitsondering dat die taal van die onderdanige groep gemeng word met die taal van die dominante groep. In SA praat baie Afrikaanssprekendes mengeltaal terwyl Engelssprekendes glad nie aan daardie kwaal ly nie.
    Sou jy byvoorbeeld 'n stuk teks, wat in hierdie betrokke mengeltaal geskryf is wil vertaal in, sê Russies, sal jy ook 'n Engels-Russiese woordeboek hê want baie van die woorde is nie Afrikaanse woorde nie. Luister byvoorbeeld na die verslag van ene Lloyd Solms (Sauls?) vanoggend net voor 8h00 op RSG - vertaal daardie stuk in Russies en byna die helfte van daardie woorde is onvertaalbaar vanuit Afrikaans want hulle is bloot nie Afrikaanse woorde nie.
    Wat die variante van Afrikaans wat ek nou vir jou moet noem betref: Vra vir Dirk (of jy behoort te weet); ek is nie die een wat die variante van Afrikaans genoem het nie, dit was Dirk. Hy was dankbaar dat RSG nou aandag gee aan al die variante van Afrikaans en dis goed as hy dankbaar is. Al wat ek gesê het is dat mengeltaal beslis nie 'n variant van Afrikaans is nie.
    Groetnis
    Jan Rap

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top