Repliek op Angus se kommentaar onderaan my brief van 2 deser

  • 6

Beste Angus

My opskrif het gesê: “Afrikaans het verdwyn ...”  en dan gaan die brief aan “ ... vanaf blikkies, etikette ens ...” en dan, gelys op dieselfde manier, van waar Afrikaans verder verdwyn het.  Dit verskil mos nou hemelsbreed van ’n opskrif wat sou sê “Afrikaans het verdwyn.”

So jy het wel misgelees of, alternatiewelik, verstaan jy bloot net nie.

Jy verstaan ook nog steeds nie watter verandering verteenwoordig groei, en watter soort verandering dui agteruitgang aan nie. Taal groei wanneer sy sprekers (en skrywers en digters natuurlik) met vars uitdrukkings en woorde vorendag kom en dit gebeur wanneer hulle bloot die taal besig – op universiteit, in die howe, in die openbare lewe ens.  Taal kwyn wanneer sy woorde en spreekwyses VERVANG word met dié van ’n ander taal.  Dis mos logies; dit is duidelik dat hierdie die wyse is waarop een taal doodgedruk word deur ’n ander taal soos Spaans met vele tale in Suid-Amerika gedoen het en soos, op die oomblik, Engels besig is om Afrikaans te versmoor.

Jy stel die ontwikkeling van Afrikaans sedert Oom Lokomotief se dae tot wat mens maar SBA (suiwer beskaafde Afrikaans) kan noem, gelyk aan die verval van SBA tot die hedendaagse mengeltaal wat deur so baie (veral in die Kaap) gepraat word – jy sien dit as een “ontwikkelingslyn”.  Dit is nie so nie; die mengeltaal is, in ’n groot mate, as gevolg van die feit dat Afrikaans nie meer ’n amptelike taal is nie, dat Engels in Afrikaanssprekendes se kele afgedruk word en ook die feit dat soveel Afrikaanssprekendes Engels WIL wees.  Laasgenoemdes vat sommer kortpad na verengelsing toe en maak hulle kinders Engels groot.

Jy volhard met hierdie eienaardige idee dat Afrikaans eers Afrikaans geword het nadat hy gesuiwer is van anglisismes.  Jy sê byvoorbeeld “Afrikaans, wat sover moontlik gesuiwer is van anglisismes, en wat die amptelike taal van Suid-Afrika geword het, lees ʼn mens net in boeke.” So Afrikaans het eers ’n amptelike taal geword nadat hy gesuiwer is van anglisismes?  En nou word hy weer vol anglisismes en dis volgens jou taalontwikkeling. Dis mos ’n absurde redenasie.

So terloops, mense spel wel vrot agv die invloed van Engels. In Engels word samestellings los geskryf en ’n groot gros Afrikaanssprekendes spel dieselfde, byvoorbeeld ‘tuin hekkie, vark tjops, tamatie konfyt’ ens. 

En nog ’n terloops, jy vra waar het jy gesê Latyn is dood omdat dit vrot gepraat word?  Jy’t dit nêrens gesê nie en ek het ook nie gesê dat jy dit gesê het nie.  Jy’t gesê Afrikaans is dood soos Latyn dood is en ek het vir jou gesê Latyn is dood, NIE omdat die sprekers daarvan dit vrotsig praat soos die geval met Afrikaans is nie, maar omdat Latyn geen sprekers meer het nie.

Taalkundige insig? Afrikaans kon op ’n stadium vrot Hollands gewees het, maar Afrikaans het nie ontstaan deurdat Hollands vervang is met ’n reeds bestaande taal nie.  Die huidige Afrikaans gebesig deur sommiges is wel ’n manifestasie van ’n vervangingsproses; Afrikaanse woorde en sinsbou word deur die Engelse vervang.

Maar ons het al baie hieroor gepraat (kwynend en vrot vs groeiend en nuut) en dit is eintlik ’n ander onderwerp.  Waaroor ek eintlik praat in my brief van 2 deser is dat Afrikaans al van vele aspekte in die Suid-Afrikaanse samelewing verdwyn het en dat die onus op ons as Afrikaanssprekendes rus om verdere agteruitgang, en die afjak van ons taal, te stuit.  Dis geen taalkundige verhandeling nie; net ’n verslag van wat besig is om te gebeur.

Om op te som: Daar is nie meer Afrikaans by kwekerye en die Nasionale Parke nie (ENIGE park of wildplaas om die waarheid te sê).  Ons mense begin nou net die Engelse dier- en plantname gebruik.

Daar is nie meer Afrikaans op enige produk nie – alle kos- en speseryname op houers byvoorbeeld (selfs al is die verskaffer of vervaardiger Afrikaans) is in Engels.  Afrikaanssprekers praat deesdae van garlic, mushrooms, spices, mash, relish ens.

Daar is geen Afrikaans by winkel- en inkopiesentrums nie, selfs Afrikaanse vlooimarkte begin verengels.

Daar is nie meer Afrikaanse universiteite nie en die Afrikaanse skole word ook minder.

’n Groot gedeelte van Afrikaanse radio-uitsendings is Engels.

Die banke praat nie meer Afrikaans nie, die poskantoor en polisiestasies ook nie en ook nie SARS of die munisipaliteite nie.

En dis maar net onder andere.

Groetnis

Jan Rap

  • 6

Kommentaar

  • Hans Richardt

    Jan Rap, net soos in Namibië, waar Namlish saam met UNTAG en later SWAPO regering oorgevat het. Afrikaans het Duits uitgevat in Suidwes-Afrika. Afrikaans het Hooghollands uitgevat ... Die Afrikaans in Argentinië is eeue verwyderd.

  • Beste Jan,
    Gaan lees weer. As “Afrikaans het verdwyn vanaf blikkies, etikette, ens” vir jou sinoniem is met “Afrikaans is besig om te verdwyn,” dan het jy ʼn ernstige leesprobleem. Verder nog, Afrikaans, die Afrikaans wat jy in gedagte het, nl Standaardafrikaans, is nie besig om te verdwyn nie; dit het verdwyn. Nêrens word dit meer gepraat nie, dit verskyn slegs in geskrewe vorm. Jy kan dit slegs nog net in boeke lees.
    Dan verstaan jy ook nie hoe taal groei nie. Vars uitdrukkings en woorde is goed en wel, maar dit kan nie sonder bestaande woord- en taalmateriaal geskied nie. Taalkundiges praat van neologismes, en dit is maar so skaars soos hoendertande. Die gewese Afrikaans se neologismes kan ʼn mens sommer op een bladsy neerskryf. ʼn Taal groei hoofsaaklik deur gebruik te maak van ander tale se woordeskat, en omdat Engels hier in Suid-Afrika sommer byderhand is, gebruik ons Engelse woorde om Afrikaans se woordeskat te verryk. Soms gebruik ons dit sommer net so kaalkop, maar dikwels slyp ons hulle sodat hulle sintakties en fonologies inpas by Afrikaans. Vir ons ouer garde klink dit verskriklik, en ons hoes en proes daarteen, maar kan net mooi niks daarteen doen nie.
    Afrikaans het amptelike taal geword terwyl die suiweringsproses daarvan aan die gang was. Hierdie suiweringsproses is nog aan die gang. Elders hier verskyn daar bv ʼn lys van woorde wat te Engels klink en daarnaas die woorde wat gebruik moet word. Van vroeg af het onderwysers kinders op skool gestraf as hulle Anglisismes in hulle opstelle gebruik het. Ek het seker nog êrens ʼn stuk of tien oefeningboeke vol anglisismes en dan die korrekte Afrikaans daarnaas.
    Die trant waarop jy my skrywe beantwoord dui daarop dat jy nog nie mooi verstaan dat ek niks goed- of afkeur nie. Ek beskryf net wat ek waarneem en ek neem waar dat Afrikaans al meer en meer sy woordeskat uitbrei met Engelse woorde. Baie keer word Afrikaanse woorde vervang met Engelse woorde, terwyl die Afrikaanse woord in die vergetelheid verdwyn. Dit is maar hoe dit met enige, veral nuwe taal, gebeur. Toe Afrikaans sy ontstaan gehad het, het hope Nederlandse woorde ook maar in die slag gebly ten koste van woorde van inheemse tale en Maleis-Portugees, en ook Engels. Dit is veral hierdie Engelse woorde wat dmv die jag op anglisismes uitgeroei is. In oom Lokomotief se tyd het die mense nog gepraat van ʼn “juts”, totdat onderwysers dit uitgeroei het, en nou ken ons net die woord “regter”. Maleis-Portugese woorde is nie uitgeroei nie, daarom ken ons die woord “baadjie” en nie “jasje” nie. Dit is maar net enkele voorbeelde. As jy daarop aandring, sal ek nog voorbeelde stuur.
    So het Afrikaans ook maar ontstaan dmv ʼn vervangingsproses, soos jy dit noem.
    Met die klompie loshangende paragrawe onderaan jou skrywe, stem ek saam: Afrikaans het verdwyn.
    Groete,
    Angus

  • Beste Angus
    Jy skryf: "Ek beskryf net wat ek waarneem en ek neem waar dat Afrikaans al meer en meer sy woordeskat uitbrei met Engelse woorde. Baie keer word Afrikaanse woorde vervang met Engelse woorde, terwyl die Afrikaanse woord in die vergetelheid verdwyn. Dit is maar hoe dit met enige, veral nuwe taal, gebeur. Toe Afrikaans sy ontstaan gehad het, het hope Nederlandse woorde ook maar in die slag gebly ten koste van woorde van inheemse tale en Maleis-Portugees, en ook Engels. "
    Hoe oud moet 'n taal wees voordat dit nie meer 'n 'nuwe taal' is nie? Wanneer jy toelaat dat een taal 'n ander taal binnedring tot so 'n mate dat die taal ,wat binne gedring word, naderhand klink soos die indringertaal ,dan sê jy, nou het ons 'n 'nuwe taal.
    Hier waar ek bly is daar 'n inheemse grassoort, wat as jy hom nie uitroei nie met
    wortel en tak, dan delf selfs kikuyu gras,(Oos-Afrika) die onderspit .Jy sit dus met 'n keuse: jy kan die indringer laat oorneem en met 'n nuwe grasperk verlief neem, of jy kan die indringer uitroei en sorg dat jou grasperk steeds lyk, soos die dag nadat dit aangeplant is.
    Wanneer toegelaat word dat Engels Afrikaans so binne dring dat dit onherkenbaar word omdat die tuiniers te lui geword het, dan het jy 'n geradbraakte (verminkte) Afrikaans.
    Is jy 'n goeie tuinier Angus?

  • Beste FC Boot,
    Ek skat 'n taal van so 'n duisend jaar is nie meer 'n nuwe taal nie. Afrikaans het nog sowat 700 jaar om te gaan.
    Nederlands (of Hollands, as jy wil) het "toegelaat" dat Maleis-Porugees, Engels en ook inheemse tale dit "binnedring" en binne 200 jaar het 'n nuwe taal te voorskyn gekom. Sy naam is Afrikaans.

    In die sin: "Dis amazing hoe lank Fedderer nog kompeterend kan tennis speel", is daar drie Engelse woorde wat die taal binnegedring het. Twee daarvan is leenwoorde, waarvan die een verafrikaans is sodat dit fonologies by Afrikaans inpas. Die derde, (amazing), het nou onlangs in gebruik gekom in Afrikaans, sommer so kaalkop sonder verandering. Hierdie aangehaalde sin is nie geradbrakte Afrikaans nie, en dis beslis nie Engels nie.

    As ek vir my tuinier, wat Zulusprekend is,sê: "Lo weeps, you must pull out, bulala henna." dan is dit geradbraakte taal. Ek sou sê 'n mens kan dit nogal geradbraakte Engels noem.
    Groete,
    Angus

    • Beste Angus
      Amazing sou nog aanvaar gewees het as daar nie 'n Afrikaanse woord was om die gevoel te beskryf nie. Wat van “verstommend”? Kompeterend is ontleen van Latyn en tennis van Franse afkoms. Nou sê jy drie Engelse woorde het die taal binnegedring.
      Wat jy dus sê is dat 30% (drie uit 10 woorde) te danke is aan Engelse invloed. Sou dit werklik so wees dan sou dit nog Engels of Afrikaans gewees het.
      As jy “amazing” gebruik dan is dit verstommend.
      Om iets of iemand te “radbraak” is om dit so te vermink dat dit onherkenbaar word as mens en taal.

  • Beste Angus

    Jy kan vir die gemiddelde Hollander (of Nederlander as jy nou wil) 'n stuk Afrikaanse teks gee om te lees en hy sal so te sê alles verstaan. Hy sal nie dieselfde met Portugees, Maleis-Portugees, Maleis of Engels kan doen nie so dit is loutere onsin dat, soos jy beweer, 'n nuwe taal ontstaan het deur die indrining van Maleis-Portugees en Engels in Nederlands.

    Ek neem aan jy besou 'tennis' en 'kompeterend' as leenwoorde. As eersgenoemde 'n leenwoord is, wat dan van rugby (afgelei van die dorpsnaam Rugby)? Dit is nie 'n leenwoord nie, dis bloot die naam van die sport, net soos 'hokkie' is. Sou jy sê 'chess' is 'n leenwoord net omdat dit van die Arabiese 'sjeg' of 'sjag' afgelei is?

    Netso, is 'competitive' 'n leenwoord in Engels omdat die Franse 'compétitive/compétitif' afgelei is? Natuurlik nie; ek sien jy sukkel met die begrip 'leenwoord' - 'n leenwoord is 'n woord uit 'n ander taal vir 'n begrip waarvoor die betrokke taal nie 'n woord het nie. In Engels is 'Schadenfreud' 'n leenwoord uit Duits byvoorbeeld.

    Wat 'amazing' betref, dis bloot slordig; dis soos die Afrikaans wat van die mense in die Suidoostersepie praat, geradbraakte Afrikaans. Baie onvaardig en baie lelik.

    Groetnis

    Jan Rap

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top