Een van die skeldwoorde wat dr Michael le Cordeur my in sy brief van 29 Maart 2012 aan LitNet toevoeg, wat ek my met groot plesier laat welgeval, is dié van “pretbederwer”. Veral omdat dié skeldwoord dikwels aan my held, Uilspieël, geskree is as hy wanpraktyke, inkonsekwenthede en selfs onkunde in die samelewing uitgewys het.
Uilspieël sou ongetwyfeld baie pret gehad het met die feit dat dr Le Cordeur blykbaar nie ’n baie goeie leser is nie – nie ’n leser van die reglement waarvolgens hy die prys aan Adam Small toegeken het nie en ook nie ’n goeie leser van die briewe waarop hy met soveel emosie en beskuldigings reageer nie.
As dr Le Cordeur die Akademie se reglement gelees het, sou hy geweet het dat die prys vanjaar nie volgens die reglement aan Small toegeken kon word nie. As hy die reglement gelees het en nogtans gedink het dat die prys op hierdie wyse toegeken kon word, is hy – net soos die lede van die Akademie – aan die gemeenskap ’n verduideliking verskuldig hoekom hulle hul die reg toe-eien om “as hoogste gesagsliggaam” pryse toe te ken volgens reglemente wat hulle nie wil toepas nie.
As dr Le Cordeur my brief aan die Akademie of net die berigte daaroor in die koerante gelees het, sou hy geweet het dat my beswaar nie teen die toekenning van die prys aan Small gegaan het nie, maar wel oor die wyse waarop dit gedoen is. Ek het juis gesê dat oor die toekenning van die prys aan Small eenstemmigheid is en dat geen debat daaroor gevoer behoort te word nie. Ongelukkig bestaan dr Le Cordeur se brief hoofsaaklik uit die een onvanpaste beskuldiging en verdagmaking na die ander, wat almal aan die verkeerde adres gerig word. Ek is nie in staat om op dr Le Cordeur se beskuldigings te reageer nie, want daar word ’n hele klomp dinge aan my toegedig wat ek nooit gesê het nie en ook nooit sal sê nie.
Dr Le Cordeur vra waar ek was en wat ek gedoen het toe Small in 1965 (of kort daarna) nie die Hertzogprys ontvang het nie. Ek moet erken dat dit toe nogal vir my moeilik was om iets daaraan te doen. Ek was toe slegs twee jaar oud. Maar, om die waarheid te sê, as meer mense toe soos ek hierdie week die onpopulêre ding gedoen het en die besluit van die Akademie gekritiseer het, sou ons nie vandag met hierdie onverkwiklike situasie gesit het nie.
Dr Le Cordeur maak homself skuldig aan growwe stereotipering, wanvoorstelling en karakterskending deur my in te sluit by ’n groep mense met wie ek niks in gemeen het nie en met wie hy meen ek dit eens is. Dr Le Cordeur beskuldig my van rassisme en diskriminasie, dat ek dink soos die mense wat voorheen die prys van Small weerhou het en dat ek optree soos in die apartheidsverlede. Al hierdie beledigings tel onder die ergste wat jy iemand in die nuwe Suid-Afrika kan toesnou. Daar is niks in my brief of optrede wat op rassisme dui nie. Sou dit wel so wees, sou ek onmiddellik om verskoning daarvoor gevra het. Boonop sou ek dieselfde brief aan die Akademie geskryf het al het ’n “wit” skrywer vanjaar op hierdie omstrede en onreëlmatige wyse die prys gekry. Sou dr Le Cordeur in daardie geval hoegenaamd op my brief gereageer het op dieselfde emosionele wyse waarop hy nou gereageer het?
Dr Le Cordeur se beskuldiging, “Nicol Stassen stel net belang in sy eie skrywers,” sou lagwekkend gewees het as dit nie van ’n gerespekteerde persoon in die samelewing gekom het nie. As dié beskuldiging waar was, sou ek mos al jare gelede reeds en telkens daarna beswaar gemaak het as pryse nie toegeken is aan skrywers wat by Protea Boekhuis publiseer nie.
Die beste van alles is dat dr Le Cordeur my daarvan beskuldig dat ek moontlik ’n kapitalis (vermoedelik ’n baie groot sonde!) sal kan word. Ek wil egter dr Le Cordeur die versekering gee dat ek ’n groter kans het om ’n kapitalis te word met ’n hoenderboerdery met net een hoender (as Jeanne Goosen my die gebruik van haar woorde sal vergewe) as om dramas en gedigte uit te gee. Dit is nie juis finansieel lonend om gedigte en dramas uit te gee nie.
Dit is uiters onsmaaklik om die skyf van persoonlik aanvalle van hierdie aard te wees. Een van dr Le Cordeur se geesgenote het my hierdie week op Die Burger se webwerf ’n “klier van die ergste soort” genoem, waarskynlik iemand of iets wat geweld uit die samelewing verwyder moet word.
As ek alles moet opsom, het ek ernstige besware daarteen dat dr Le Cordeur, net soos die lede van die Akademie, glad nie op my enigste beswaar reageer nie, naamlik dat die reglement vir die toekenning van die prys nie nagekom is nie. Al sy ander beskuldigings is ’n miskenning van die aard van my beswaar en dien geen ander doel as om emosionele gevoelens op te werk oor ’n aangeleentheid waar emosie en beskuldigings oor ras maar eerder buite perke moes gebly het.
Ons behoort volwasse genoeg te wees om kleur uit hierdie debat te hou. Ons is dit nie net aan onsself en ons eie menswaardigheid verskuldig nie, maar ook aan die nalatenskap van Adam Small. Ek dink ook nie sulke argumente is Adam Small waardig nie. Gelukkig sal sulke emosionele en irrelevante argumente nooit die onaantasbare posisie wat Adam Small in die Suid-Afrikaanse letterkunde inneem, en altyd sal inneem, kan aantas nie.
Ter afsluiting: daar is verdere vrae wat ek graag beantwoord sou wou sien. Gaan die Akademie in die toekoms ander soortgelyke onregte in die toekenning van letterkundige pryse regstel? Is daar al so ’n lysie van onregte opgestel of sal dit opgestel word? En sal hierdie onregte op dieselfde omstrede manier reggestel word deur die reglemente vir die toekenning van die pryse te ignoreer?
Lees ook Jason Lloyd se rubriek oor die onderwerp.
Adam Small aanvaar die Hertzogprys.