Dagsê Cornelius
Dit is te verstane dat jy ‘godsdiens’ verkies bo ‘religie’, want jy en Kobus glo daaraan dat ’n woord se woordeboekverklaring gelykstaande is aan die wet van die Mede en die Perse. En tog begryp ek dit nie mooi met jou nie. Religie (Religion) het mos daardie oorkoepelende begrip wat alle gelowe insluit vanaf Khoisan tot Pous. As ek so na jou bekende groet kyk, is dit vir my Religie. Daarenteen is Godsdiens vir my Sondae met Bybel onder die arm kerk toe, lang vervelige preke van dominee, lang stanery, dan op die een been en dan op die ander terwyl daar gebid word, die uitwurg van ’n psalm of gesang alles op die verkeerde noot, die seer knieë ten spyte van die knielkussinkies, boekevat waar jy bars as jy nie iets kon onthou wat uit die Bybel gelees is nie, die geween en gekners van tande wat vir ewig vir jou wag as jy nie kerk toe kom nie. Nee, magtig, man! Vir my is jy nie godsdiens nie, jy is religie. (Help my reg as ek verkeerd is.)
Ek verkies om as rasionalis bekend te staan, en hou eintlik nie van die woord ‘ateïs’ nie. ’n Ateïs is iemand wat nie in God glo nie, en dit beteken mos dat daar erken word dat daar wel ’n god is. Nou kan ek sommer al voorspel dat jy jou laat lei deur die woordeboekbetekenis van rasionalis en ek sal my kop op ’n blok sit dat dit HAT is. Laat ek die HAT nadertrek: rasionalis’, (-te) Aanhanger van die rasionalisme, iemand wat deur sy verstand gelei word in alles wat hy doen.
Sover bespeur ek nog niks. A, daar het ek dit! Rasionalisme. Beskouing dat slegs aangeneem moet word wat die verstand kan begryp; teorie dat die rede die grondslag van sekerheid is, die beslissende gesag ook in die godsdiens.
Vir my is ‘die beslissende gesag ook in die godsdiens’ nie net verkeerd nie maar heeltemal niksseggend. Ek het ’n vermoede dat die woordeboekopsteller so stilletjies sy Calvinistiese beskouing op ons wil afdwing. Gee my dan maar liewer die Oxford: rationalism the belief that all behaviour, opinions, etc. should be based on reason rather than on emotions or religious beliefs.
Kort en kragtig, finish en klaar, geen vaaghede soos ‘die beslissende gesag ook in die godsdiens’ nie.
Verder beskuldig jy my daarvan dat ek nie erkenning gee “aan enige algemene WET wat die Kosmos in stand hou?” nie. Ek kan my nie voorstel hoe dit kon gebeur het dat ek so ’n wanindruk geskep het nie. Dit mag dalk wees dat jy sommer, sonder bewyse, aanvaar dat dit so is. In jou verwysingsraamwerk kan slegs God die ‘algemene WET’ wees, en omdat ek God nie erken nie, daarom..... Jy sal maar die spulletjie vir my moet ontrafel en sê waarom jy so ’n bewering maak.
Groete
Angus


Kommentaar
Hallo Angus,
Ek is oortuig dat ons begrip grotendeels ooreenstem omtrent die moontlike onderskeid tussen die woorde religie en godsdiens.
Ek dink die allegorie wat jy daarom maak som dit netjies op.
Van buite beskou is religie die regte voorstelling (veral waar daar "aan" iets geglo word), terwyl godsdiens 'n verering van binne is (soos om in God te lief en leef).
Self ag ek jou ook veel eerder 'n rasionalis as 'n ateïs.
WAT my verklarende woordeboek betref; jy't my wraggies laat opstaan en in my kas laat krap om te kyk watter woordverklaring ek deesdae so in die algemeen spoeg en plak.
Dis toe Labuschagne - Eksteen PHAROS se Verklarende Afrikaanse Woordeboek met CD-ROM. Dis die CD-ROM gedeelte wat my sommer so van die getik uit laat verklaar. Ek moet erken ek is lelik bederf daarmee. Dit kan dalk selfs die rede word WAT ek die volgende letter se uitgawe van die WAT gaan misloop.
Nietemin, vir ernstiger getik slaan ek darem nog so dan en wan uit die WAT na. Dis net dat niemand op die werf eintlik waarde aan sulke toewyding het nie.
Dit bring my by die punt waar jy van mening is dat ek verklarende woorde boeke as die wet van die mede en die perse beskou. Wel amper; maar nie heeltemal nie.
Ek beskou 'n algemene verklaring van woorde as 'n riglyn in enige taal en die basis van geordende kommunikasie.
Wat totaal verhewe bo verklaarde woorde vir my uitstyg, is poësie. In die poëtika kan jy die verklaarde betekenis van woorde buig en speel nes jy wil, en 'n pragtige kaleidoskoop in betekenis aan iemand oordra wat jou hart daarin deel.
Rasionalisme is van toepassing in veral wetenskap, ingenieurs en tegniese vakgebiede. In my sweet en aanskyn is Duits die mees gepaste taal op aarde. Daar is seker nie nog so 'n taal om 'n ding te laat werk nie. Werk dit nie, dan skakel ek oor na Afrikaans en dan belowe ek jou werk dit!
So het elke taal sy waarde en elke woord sy algemene verklaring. Dis iets wat jare geneem het om Kobus aan die verstand te bring. Dankie vir die kompliment na alles vandag Angus.
Dink jy Kobus sal ooit glo dat hy 'n rasionalis soos die Farseers en Skrifgeleeerdes in die Bybel is?
Wat jou afsluiting betref deel ons weereens die begrip, maar heel waarskynlik nie die beskouing nie.
Jy is reg dat ek veronderstel het dat jy waarskynlik nie 'n algemene WET in die kosmos sou bedink nie. Filosofiese wetenskaplikes soos Steven Hawking se teorie is juis op allerlei chaos modelle geskoei omdat erkenning aan 'n algemene WET in die Kosmos, panteïsties is.
Maar Angus, haal asseblief die skuld daarin uit. Ek het geen bedoeling om jou van enige iets te beskuldig nie.
As jy wel jou gedagte oor 'n algemene WET in die Kosmos laat gaan, sal ek bly wees om jou beskouing daarvan te lees.
Namaste!
Hindoe-, Moslem-, Joodse, katolieke en Boeddhistiese groete,
Ekke
Ek het sommer geweet jy sal saamstem dat woorde nie vassteek by hulle woordeboekbetekenisse nie. NP van Wyk Louw praat van "wat om die grense flikker van my duister woorde."